10 vrae aan Deon Meyer
2011-11-05 13:18
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
1. Rudi Nel: Is jou karakter, Bennie Griessel, dalk geskoei op iemand wat werklik bestaan of het hy gestalte gekry tydens al jou navorsing oor misdaad en die gepaardgaande ondersoekbeamptes?
Om karakters te skep is een van die lekkerste dele van die skryfproses, en om hulle op regte te mense te skoei, sal dié pret vir my bederf.
Bennie was nooit bedoel om ‘n protagonis te wees nie – ek het hom destyds in Feniks geskep om ‘n bietjie lig en humor in die ietwat donker boek te bring. Maar hy het botweg geweier om ‘n newekarakter te bly: Bennie het telkens dinge op die bladsy laat gebeur die oomblik dat hy in ‘n toneel ingestap het. Ek het teen die einde van Feniks geweet hy gaan die een of ander tyd sy eie boek moet kry.
Met dit alles gesê: Elke keer wanneer ek die geleentheid kry om met SAPD-speurders te gesels, kry ek nuwe insig in en respek vir die ongelooflike werk wat hulle doen, die uitdagende werksomstandighede, en die trauma wat dikwels daarmee gepaard gaan. Ek doen my bes om dié werklikhede in my karakters se stryd en strewe te weerspieël.
2. Antoinette Nel: Ek wil graag weet of jou persoonlike lewe jou werk enigsins beinvloed en, indien wel, presies hoe?
Ek vermoed dit is onafwendbaar dat mens se eie ervarings, sienings en omstandighede jou werk aanvanklik beïnvloed – dit is tog waaruit jy in die kreatiewe proses put, en dalk juis waarom elke skrywer se boeke uniek is.
Hoe? Daar is ‘n duisend maniere, meestal klein en onsigbaar (ook vir die skrywer), soos byvoorbeeld kos-, restaurant- en musiek-keuses. Die belangrikste is dalk dat ek die soort boeke probeer skryf wat ek as leser sal geniet, dus my eie storie-voorkeure.
As dit kom by die wêreldbeskouing van karakters, is ek ‘n sterk ondersteuner van Mikhail Bahktin se heteroglossia-teorie (ek het die konsep én die groot woord by die fenomenale Marlene van Niekerk geleer, dit is bloot die idee dat daar altyd verskeie uiteenlopende stemme in ‘n roman is wat met mekaar in gesprek is), veral in die sin dat skrywer en karakter op ‘n manier in gesprek is met mekaar. Met ander woorde, ek deel nie noodwendig Lemmer of Griessel se sentiment nie, maar ek kan die probleemstelling van ons hedendaagse samelewing voor hulle lê – en hoor wat hul reaksie is.
Ek probeer dus om karakters te skep wat in soveel opsigte moontlik van my verskil, in terme van agtergrond, lewens- en wêreldbeskouing, psigologiese profiel, ensovoorts. Dit is noodwendig, want as al die karakters is soos die skrywer, sal hulle almal dieselfde dink en optree – en die leser gou verveeld raak.
3. FW Greber en H C Greber: Word jy nie bang vir jou gedagtegang as jy so alleen sit, as jy is besig om te skryf nie?
Darem nie. Ek weet ek sal die protagonis eindelik uit die geneuk kan skryf.
4. Robert Young: My vraag is of Stephen Leather (The long shot) jou tweelingbroer is? Lees die boek en jy sal jouself herken en dalk my vraag verstaan.
Weet nie, maar ek sal my ma gaan uitvra ...
5. Hannes Cilliè: Deon noudat jy internasionaal bekend is en wêreldwyd gelees word, het dit jou karakterisering en storielyn enigsins verander sodat jou storie vir die breër leser meer aanvaarbaar is?
As ek reg onthou, was Proteus die eerste boek wat ek begin skryf het met redelike sekerheid dat dit in verskeie ander tale en lande uitgegee gaan word. Ek het binne die eerste vyftig bladsye besef ek sal nie al twee gode gelyk kan dien nie. Om die waarheid te sê, net om die Afrikaanse skryfgode gelukkig te hou, is al moeilik genoeg.
Juis daarom het ek besluit om te hou by ‘n beleid van ‘ek is die enigste leser wat ek regtig ken’, en ek probeer dus stories skryf wat vir my lekker sou wees om te lees (en natuurlik my Afrikaanse redakteur dr. Etienne Bloemhof se stempel van goedkeuring verkry). En dan hoop ek my en Etienne se smaak sal by ander ook byval vind. (Storie is, glo ek, ‘n internasionale taal. Wat in een land en taal werk, behoort globaal ook byval te vind.)
Eers ná vertaling en deeglike beraadslaging met my agent Isobel Dixon en my slim Britse en Amerikaanse redakteurs, sal ek soms bywerk om die verskillende gehore tegemoed te kom – want die Britte, Franse en Duitsers weet byvoorbeeld veel meer van wat in ons liewe land aangaan as, sê nou maar, die Amerikaners en die Roemene.
So sal ‘n boek soms drie weergawes hê: Die Afrikaanse, die Britse (ook vir die meeste ander Europese markte) en die Amerikaanse vir die (ahem) meer oningeligte lande ...
6. Deon, raak jy later moeg van 'n karakter en probeer hom of haar uitskrywe? Vraag: Baie lesers hou so baie van Bennie Griessel ( met al sy foute en mens wees) en ons is bang jy laat hom van die toneel verdwyn. Hoe voel jy daaroor?
Ek het nog nie daardie punt met enige karakter bereik nie, dalk omdat die storie vir my die beginpunt en belangrikste element van elke boek is. Wanneer die storie perfek by ‘n bestaande karakter pas, is die keuses maklik (en veel minder moeite, natuurlik).
Ek vermoed die teendeel, wanneer karakters begin om stories te dikteer, hou ‘n risiko in vir uitgekuier raak.
Die versoeking is natuurlik ook groot om deur lesersvoorkeur gelei te word. Ek ontvang daagliks versoeke vir nog boeke oor Zatopek, Thobela, Lemmer en Griessel (en dis baie lekker om te weet elkeen het sy aanhangers), maar ek hoop om te hou by die aanslag van ‘laat die storie die protagonis bepaal’.
7. Lynette Veldman: By die lees van jou briljante misdaadboeke wonder ek altyd oor die volgende: Stel jy eers ‘n “raamwerk” of konsep van karakters, hul doen-en-late, aksies, situasies, plekke en ontknopings op en vertel dan die stories rondom hierdie stelsel om een groot “totaal” te skep, of vloei die storie sommer vlot uit jou kop en pen? Hoe op aarde bring jy alles so verbasend bymekaar? En, as ek mag…waar kom al jou kennis van die polisie en alles daaromtrent vandaan? (Wat van die Lotz-moord…kan jy nie daar intree nie?)
Baie dankie, Lynette, ek sit hier voor die rekenaar en bloos.
Ek weet nie of ek daartoe in staat is om die beplanning van ? boek te verduidelik nie, veral omdat dit nie ? doelbewuste of resepmatige proses is nie. Maar omdat meer as een van die lesersvrae daaroor handel, gaan ek my bes doen:
Storie begin gewoonlik met ? vae idee. Met ‘13 Uur’ was die oorspronklike idee iets soos “dit sal interessant en lekker wees om ? roman te skryf wat binne ? beperkte aantal ure plaasvind”. ‘7 Dae’ het weer sy oorsprong gehad in onder meer die interessante inligting oor Swart ekonomiese bemagtigingstransaksies waarvan die vlymskerp beleggingskenner Theo Winter my vertel het. Hierdie kern-idees word die katalisator van ? speelproses (of is dit ? speelse proses?) waarin ek karakters en potensiële gebeure oordink wat by die konsep sal pas.
Ek beplan nooit op papier nie, ook nie in enige detail nie. Wanneer ek begin skryf, het ek bloot ? breë konsep (of twee, drie) van wat moontlik kan gebeur – en ek is tevrede dat dié konsep(te) in terme van struktuur sal kan werk.
Vir my lê die genot van skryf juis daarin dat ek karakters binne ? spesifieke gegewe sal plaas en vir hulle die ruimte gee om self, volgens hul persoonlikhede, oplossings te vind. Dit beteken nie dat hulle alle beheer van die skryfproses oorneem nie, dit is ? soort vennootskap tussen skrywer en karakters waarin ek die verantwoordelikheid het om die verloop voortdurend te beoordeel – en in te gryp waar nodig.
Die belangrikste punt wat ek wil maak, is dat ek net die breë trekke van die storie ‘beplan’. Die res gebeur as ‘n organiese proses wanneer die karakters met mekaar, hul omgewing, my navorsing en die breë storie-idee interaksie het.
Kennis van die polisie is blote navorsing, en natuurlik die ruimhartige deel van insig en inligting van mense soos kapt. Elmarie Myburgh, kriminele gedragsanalis van die SAPS se Ondersoekgerigte Sielkundeseksie, en kol. Renier du Preez van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaad-ondersoeke, om maar net twee te noem.
En die tragiese Lotz-saak? Ek sal vir Bennie moet vra of hy kans sien ...
8. Marilize Terblanche: Ek brand om te weet wat van Ragel (Wie met vuur speel) en Christine (Infanta) geword het. Gaan een van hul (of hopelik albei) ooit weer 'n rol in een van jou boeke speel (of dalk net vlugtig genoem word)?
Sou daar ‘n lekker storie opduik wat een of albei soos ‘n handskoen pas, bring ek hulle graag terug. Maar ek kan darem vir jou sê dit gaan op die oomblik goed met hulle al twee ...
9. Theo Pegel: Is dit moeilik/moontlik om uit en los te kom van Bennie Griessel se karakter nadat jy die boek klaar geskryf het? Jy lewe hom so uit in die boek dat ek wonder af jy hom heeltemal kan "toemaak" na die tyd.
Omdat jy as skrywer soveel maande lank, tien of twaalf uur per dag, met jou hoofkarakters deurbring, word hulle later soos deel van die gesin. En wanneer die boek klaar is, hou ek aan met bekommer oor hul welstand. En dis ‘n goeie en lekker ding, want uit die bekommernis kom daar dikwels potensiële storie-idees.
Ek het dus nie regtig ‘n begeerte om hulle ‘toe te maak’ nie.
10. Wouter Hanekom: Wat beskou hy as sukses-bestanddele in die skryf van 'n boek sodat dit 'n top verkoper sal wees en daarby wat se boodskap wil hy hê moet die leser mee wegstap?
Wouter, die skryfproses is vir my baie soos ‘n betroubare sakhorlosie: Ek weet nie mooi hoe die ratjies en veertjies daar binne werk nie, maar ek is minstens slim genoeg om dit nie oop te maak en te gaan rondkrap nie.
Met ander woorde, ek het geen benul wat die suksesresep is nie (en as daar een was, sou mens dit kon google, en elke manuskrip sou ‘n wenner gewees het). Vir my is ‘n boek telkens ‘n geloofsprong die donkerte in, met ‘n vae vrees dat dit die een is wat klaaglik gaan misluk.
En ek is doodbang vir die gevaar van ‘n ‘boodskap’ in ‘n speur- of spanningsroman. My filosofie is: As jy wil preek, word ‘n dominee. Daarom is my plig nie om standpunt in te neem oor enigiets in ‘n boek nie, maar eerder om, as dit funksioneel is vir die storie, ‘n kwessie se verskeie kante te probeer belig, juis deur die uiteenlopende sienings van my karakters. Ek is in elk geval van mening dat die meeste uitdagings van ons moderne samelewing meestal kompleks en veelkantig is, en meer as een perspektief verdien.
Al waarop ek hoop, is dat die leser die boek teen die einde sal toemaak met ‘n tevredenheid dat dit die geld en die lees-ure werd was.