Afgedankte liefling se ‘liefde en troubreuk’
2010-03-13 16:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Breyten Breytenbach was eens op ’n tyd ’n liefling aan Suid-Afrika se Engelse liberale boesems weens sy kulturele en gewapende verset teen sy eie stam se hoof-ideologie. In die laaste paar jaar het hy egter heelwat omstredenheid ontlok, en veral in die Engelse pers.
In 2008 was daar groot moles oor ’n paar resensies van sy boek A Veil of Footsteps en sy nuwe boek, Notes From the Middle World (essays en twee mooi maar skroeiende gedigte), het reeds ’n geniepsige resensie in die Sunday Independent gekry. Miskien is die belangrikste essay hierin “Mandela’s Smile: Notes on South Africa’s Failed Revolution” wat in Desember 2008 in Harper’s Magazine in Amerika verskyn het. Plaaslik het dit, onverbasend genoeg, wel ophef gemaak – maar deur te fokus op selektiewe, sensasionele uittreksels. Sy kritici het (tipies) sy geloofwaardigheid probeer bevraagteken as “voormalige’’ Suid-Afrikaner, nou “uitlander’’. Hy’t geen reg op kritiek nie! Hy woon dan nie eens meer hier nie!
Maar om Breytenbach se geloofwaardigheid – geografies of andersyds – te bevraagteken is onvanpas, in die lig van sy lewenslange toewyding aan die Suid-Afrikaanse kultuur en politiek. En om dan boonop sy veelvoudige, pertinente kritiek op die nuwe Suid-Afrika te ontken, of te vermy, wys op die verdere verkeerd lees van die essay. Maar meer ontstellend, dié wat só reageer het, het die emosionele dryfkrag van die essay verby- of misgekyk. En ek glo ons vermy dié dryfkrag met risiko.
Nieteenstaande die skietgoed wat dié essay aan regsgesindes kan verskaf, is Breytenbach steeds voetvas in ’n linkse kamp. Notes from the Middle World is propvol kritiek teen, byvoorbeeld, Israel, Bush se oorlog in Irak en die onderdanigheid van lande weens die rol van die IMF en Wêreldbank. Sy kritiek op die nuwe Suid-Afrika kan dus gesien word as sy eie lojale verset, en moet dan gelees en verstaan word as afkomend van iemand wat lojaal is, of was, aan die ideale van ’n breë anti-apartheidsbeweging. (Hy lewer wel skerp kritiek teen die ANC wat sou voorgee dat dié die enigste weerstandsbeweging was.)
Lojaliteit sny aan emosie. En ek begin nou wonder of “liefde’’ nie die beste metafoor is om die Suid-Afrikaanse politiek en menseverhoudings te beskryf en te verstaan nie. Liefde en troubreuk. “Mandela’s Smile’’ is na alles hartverskeurend. Dit weerklink soos ’n liefdesbrief vanuit ’n gebroke hart. ’n Hart wat verraai is, maar steeds dapper genoeg is om sy gebrokenheid te openbaar. Die essay se kritiek verdaag juis nie die ideale van ’n post-apartheid Suid-Afrika nie.
In die titel-essay definieer Breytenbach die “middelwêreld” as ’n plek van “belonging and not belonging”, met al die bagasie wat dit vir ’n trekker/swerwer soos hyself meebring. Dit beteken onder meer om jou tuiste agter te laat, terwyl jou tuiste jou nooit verlaat nie. Dis ’n plek van teenstrydigheid en onsekerheid (nog ’n sleutelterm in die boek) wat nie verwerp word nie, maar juis dekades lank omhels word. Breytenbach vier ’n baster-identiteit as teenvoeter vir die dogmatiese oortuigings van Apartheid.
In “The Afrikaner as African” grawe hy rond in die etimologie van die woord “afrikaner” en vind ’n kreoolse “rasse’’-identiteit as oorsprong. Ambivalensie en onsekerheid is dus sy kos, en vir hom is hierdie tussen-in plek dus van belang.
Vanuit so ’n posisie is dit maklik om oor te gaan tot lojale verset, ’n posisie waarin ’n mens beide aan iets behoort en nie behoort nie, veral as lojaliteit verraai en die hart stukkend is. ’n Mens wil wegdraai, maar kan nie wegdraai nie. “Mandela’s smile” verwoord waarskynlik die gevoelens van menige linksgesinde wat daagliks die vertrapte ideale aanskou, en sit met ’n gebroke hart.
Hoekom “liefde’’? Hoekom my beroep op emosionele metafore, want droë, kil misdaadsyfers kan net soveel doen om kritiek te lewer? Die sosioloog se akademiese prosa gaan slegs ander sosioloë oortuig. Maar wie – ryk, arm, wit, swart – kan die krete van ’n stukkende hart vermy of ignoreer? Slegs as ons die emosionele oorsprong van “Mandela’s Smile” verstaan, kan ons die diepte van Suid-Afrika se politieke probleme peil en hiermee sny die skrywer beslis ’n aar oop in die Suid-Afrikaanse politieke debat. En dit maak seer, maar moet nie weens die pyn ignoreer word nie.
Diegene wat voel hulle is Breytenbach se teikens, moet sy essay deeglik en opreg onder oë bring. Die kritiek kom van binne, maak nie saak hoe jy hom as “uitlander’’ wil afmaak nie. Dit is lojaal, maar nie blind in lojaliteit nie. Dit is krities, maar omdat dit lojaal is, is dit die enigste kritiek wat saak maak.
Ek beveel die boek van harte aan.
Rustum Kozain is ’n skrywer van Kaapstad.