Afrikaanse boekmark blom

2010-12-04 12:00

Petrovna Metelerkamp

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Wie meen dis net bibliofiele wat deesdae boeke koop, moet maar weer dink. Volgens uitgewers en handelaars is daar ’n gesonde gros Afrikaanse boekkopers wat nog ’n nuwe boek of twee aankoop.

En die syfers praat hard saam: sowat 60 000 eksemplare van Hans du Plessis se Griekwa-psalms is al verkoop. En soveel as 130 000 van Carina Diedericks-Hugo se Thomas@-reeks vir kinders. (Dalene Matthee se boeke moet ook hier genoem word, maar hulle is ook vir skole voorgeskryf en dit gooi die syfers deurmekaar.)

“Onlangse boeke van Hennie Aucamp, veral Oor en weer – ’n bundel onderhoude – het só goed verkoop dat die aanvank­like oplaag opgeneem is nog voordat ons dit ontvang het,” sê dr. Nicol Stassen, uitvoerende direkteur van Protea Boekhuis.

“Al Aucamp se werke verkoop besonder goed. ’n Staatmaker is Die groot Afrikaanse heldeboek, wat destyds deur Human & Rousseau uitgegee is. By Protea Boekhuis was daar nou al sewe herdrukke, sowat 16 000 eksemplare.”

Nog gewilde verkopers is Dot Serfontein se Amper my mense, Ek is maar ene en Vrypas. Van Isabel Uys se Suid-Afrikaanse gids (The South African Guide) is al by die 30 000 verkoop.

“Ons het ook ’n besonder groot oplaag van 600-700 van die digbundel Retoer van Andries Bezuidenhout gedruk en onlangs herdruk. Dit is ’n besondere prestasie. Gewoonlik verkoop ons 300-400 eksemplare van ’n digbundel.”

Soos Thérèse Herbert, bemarking-en-verkoopsbestuurder van NB Uitgewers, sê: “Ondanks vrees oor die oorlewing van Afrikaans, gaan die Afrikaanse boek van krag tot krag. Soos Deon Meyer se 13 uur, waarvan ver meer as 20?000 verkoop is. Marita van der Vyver se nuwe boek vaar uitstekend. Annelie Botes se Thula Thula het die 20 000-merk oorskry en dan is daar P.G. du Plessis met sy Fees van die ongenooides en Wilna Adriaanse met haar verhale van verhoudings – om net ’n paar te noem.”

En die “ernstige” skrywers soos André Brink, Marlene van Niekerk, Breyten Breytenbach en Karel Schoeman se gevestigde sukses neem toe.

“Afrikaanse kortverhale is baie gewild en die Afrikaanse digkuns is springlewendig. Joan Hambidge, Loftus Marais, Danie Marais?… Afrikaanse boeke is in alle opsigte aan die blom. Kookboeke is ook sterk in aanvraag.”

Lapa se besturende direkteur, dr. Maritha Snyman, is eweneens positief oor die stand van die Afrikaanse boek: “Dit gaan baie, baie goed. Verkope is besig om dramaties te styg. Dit is waarskynlik te danke daaraan dat ons publiseer wat ons weet lesers wil hê. En die gehalte is goed. Ons ervaar nogal ’n terugkeer van die Afrikaner na sy eie. Boekverkope die afgelope twee jaar is ’n bewys daarvan.

“Die Afrikaner Broederbond-boek van dr. Nico Smith was ’n baie suksesvolle verkoper. Fiksie soos Irma Joubert se Tussen stasies of Ver wink die Suiderkruis verkoop tot 18?000 eksemplare. Sophia Kapp se liefdesromans, Riana Mouton se speur- en spanningsverhale is topverkopers en Chanette Paul se boeke word gereeld uitverkoop.”

Uit hul keur van nie-fiksie het die beste onlangse verkoper, Vinnig en maklik: Resepte uit Vrouekeur I, die 80?000-merk gehaal.

Maar ook digbundels, soos dié van Ilse van Staden, Jo Prins en Johan Myburg word goed ontvang.

En, vertel die uitgewer Miemie du Plessis, Lapa druk tussen 3 000 en 6 000 kinderboeke per titel.

“Skoolverkope speel ’n groot rol en ons publiseer elke jaar sowat 70 nuwe kinder- en jeugboeke.

“Meer as die helfte van die titels is deur skrywers soos Carina Diedericks-Hugo, Jaco Jacobs (van wie se liefdesverhaal vir tienermeisies sowat 40 000 eksemplare verkoop is), Francois Bloemhof met sy gewilde jeugverhale en Martie Preller.”

Preller se Babalela-boeke is ’n fenomeen, met verkoopsyfers van 35 000 vir die eerste boek en meer as 20 000 vir die tweede, Diep, diep in ’n donker bos. Van die nuutste, Los ons uit, is tans sowat 8 000 verkoop.

Van dié groei kan menige uitgewer getuig en Frederik de Jager, Umuzi, sê Carel van der Merwe se Geldwolf is een van hul topverkopers en Evita Bezuidenhout se kosboek, Kossie Sikelela, is feitlik uitverkoop.

Ja, sê hy, kookboeke bly gewild, al haal hulle nie meer die rekordsyfers van die bekende Annette Human se verkope (by die 2 miljoen!) nie.

Vir Hemel & See Boeke bly ’n Blywende vreugde – Briewe van Audrey Blignault ’n topverkoper en is pas weer herdruk. Annette Human se Nuwe, beter Kortpadkos (meer as 20 000 eksemplare) en die kinderboeke Die groot boek van seks en my lyfie en Kom ons leer van diere is ook die uitgewery se gewildste.

Voeg hierby die reaksie op die selfhelpboek Genees jou trauma deur dr. Tessa van Wijk en jy praat van ’n wenner, sê Helga Steyn, besturende direkteur.

“Ons Grensoorlog-boek Pionne vaar baie goed. Ingrid Jonker – Beeld van ’n digterslewe is ons immergroen verkoper en is al drie keer herdruk.”

Ja-nee, beaam Leonie van Rensburg, boekhandelaar en eienaar van Graffiti in Pretoria, die Afrikaanse boek is kerngesond.

“Ons verkoop geweldig baie Afrikaanse boeke, ook op ons webwerf. Mense koop boeke wat lekker lees – fiksie van Marita van der Vyver, Christelike romans, Pluimprinse van Malene Breytenbach, Vier briewe vir Jan Ellis van Steve Hofmeyr, ’n Hemelhoë hekkie van Deleen Bredenhan, Vier seisoene kind van Wilna Adriaanse.

“Deon Meyer verkoop goed, Karin Brynard se Plaasmoord was in die toptien, maar nou is dit Riana Mouton se Spoorloos. Christine Barkhuizen le Roux se Padmaker is ook ’n topverkoper.

“Nie-fiksie-topboeke is steeds Adriaan Snyman se Siener van Rensburg, Boodskapper van God – mense stel baie belang in sulke goed.

“Kookboeke, Christelike boeke, kinderboeke – dis sterk in aanvraag. Ons webwerf is nou twee jaar aan die gang en ons het 2,2 miljoen besoekers gehad!”

Volgens Magda de Vries van Exclusive Books in Mimosa Mall, Bloemfontein, groei die Afrikaanse boekverkope sterk.

“Marita van der Vyver en Deon Meyer, wie se name nou al hul boeke verkoop, vaar besonders, maar daar is ook nuwe name wat baie goed doen. Selfhelp-boeke, motiveringsboeke, kinderboeke is geweldig gewild.”

Ena Marais van Wordsworth in die Kaapse Somerset Mall bevestig dat Marita van der Vyver en Deon Maas tans die beste verkoop, terwyl Eugène Terre’Blanche – my storie deur Amos van der Merwe nie ver agter is nie.

Afrikaanse kinderboeke, Christelike fiksie en nie-fiksie en kookboeke is vir talle boekwinkels ’n aanwins is. Vra gerus mnre. John O’Sullivan van Bargain Books, Eddie Eddington van E-Books en me. Anelle Claassen, bestuurder van PNA in Silverton, Pretoria.

* Petrovna Metelerkamp is ’n uitgewer.

- Rapport

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Lotto
Ksd: 10-17°C Partly cloudy. Cool. Pta: 6-20°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-16°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 2-18°C Sunny. Mild.
Dbn: 9-24°C Sunny. Mild. PE: 11-18°C Mostly sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Aquarius Suites - Blouberg Strand, Cape Town

Spend 2 nights for R2 710 per person sharing at Aquarius Suites - Blouberg. The special includes accommodation, return flights, airport taxes, car rental and local travel insurance.

Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Winskopie van die week – kry tot 60% afslag!!

Kry tot 60% afslag op DVD’s, Blu-rays, speletjies en musiek dié week by kalahari.com. Aanbod geldig tot 23 Junie solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry 30% afslag op van Deon Meyer se boeke

Koop enige 2 van Deon Meyer se boeke uit hierdie katalogus en kry 30% afslag. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Leapster GS Explorer + gratis speletjie

Ervaar al die vinnige aksie, nou met ’n nuwe opwindende ontwerp, wat volgepak is met opvoedkundige elemente vir kinders en kry ’n gratis speletjie. Koop nou!

Asus VivoBook met ’n 11.6”-raakskerm

Bespaar R1000 op Asus se VivoBook met ’n 11.6”-raakskerm, dubbelkernverwerker, Windows 8, 2GB RAM en 500GB se bergingsruimte. Afgelewer binne 24 uur + gratis aflewering. Koop nou!

Ashes-krieket 2013

Kry die amptelike video-speletjie van die 2013 Ashes-krieketreeks. Beskikbaar vir Wii U, PS3, Xbox & PC. Vandeesweek beskikbaar. Koop nou!

Kry 30% afslag op van Deon Meyer se boeke

Koop enige 2 van Deon Meyer se boeke uit hierdie katalogus en kry 30% afslag. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

There are new stories on the homepage. Click here to see them.