Behendig, enigmaties
2012-02-04 14:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Joan Hambidge oor Charl J.F. Cilliers:

A Momentary Stay deur Charl J.F. Cilliers het waarskynlik een van die mooiste omslae in ’n lang tyd. Dit bevat ’n pragtige skildery van Marlise Joubert wat ’n belangrike gedig in die bundel aktiveer, “Last Days Watching the Old Tree”.
Cilliers is ’n behendige digter en gesiene kritici soos Henning Snyman en Ridley Beeton word tereg op die agterblad aangehaal. Snyman wys daarop dat hierdie digkuns se eenvoud dikwels misleidend kan wees en dat ons in die Selected Poems van die allermooiste metafisiese gedigte te lese kry.
Die digter ondersoek die kortstondigheid van ons menslike bestaan in verskillende vorme soos die moeilike Japannese tanka-vorm, die haikoe en herhalende refreine wat die rondeelvorm naboots.
By die lees van hierdie genoeglike bundel kom die leser onder die indruk van die digter se vermoë om die beeld voorop te stel soos by die Imagists.
Daar is eweneens gesprekke met William Carlos Williams en Wallace Stevens (“Nine Wintry Outlooks”), bekend om sy digterlike uitspraak dat die ding-heid in die gedig voorop moet staan: “not ideas about the thing but the thing itself”.
Die klein momentopname, die skerf, dit is waarin die digter uitmunt:
VI
pebbles are like sounds
of tiny ice cubes clinking
in an empty glass
Die motto van Robert Frost klink in vele verse op: “...a momentary stay against confusion”. Die ouerwordende mens sal immers iets skryf oor die verganklikheid van die lewe. Dit word egter met soveel vaardigheid gedoen in ’n digterlike proses waar dit gaan om die toevallige waarneming.
Die digter draai dikwels weg van mitologie of metafisika juis om die dinglikheid te ondersoek soos in die vers “Drawing to an End”.
Maar, soos ons weet uit die Boeddhisme (en die Sufi’s wat die digter hier betrek): die waarheid is binne-in ons en dit word vergestalt deur die dinge óm ons.
Huiwering, onsekerheid, wegbeweeg, dra die meeste van die gedigte in hierdie bundel.
Die digkuns is beperk in die besegging van emosies en die verbeeld-ing van die werklikheid daarbuite soos ons aflees uit “Still life”.
Die vers “So Much Depends Upon an Apple Tree” is eweneens ’n kode vir die begryp van die bundel as sodanig:
There is an object
hanging in a tree.
To whom is it some
thing if not to someone
who may see
it there?
That object
in a tree.
Its image
once in the mind
resounds within with ripples
from the genesis of humankind.
Once seen
can there then
be
still
just a tree
in which there is
an object
hanging free?
Cilliers laai verse met implikasie, ofskoon die digter tereg wegskram van die mitologie en eerder die beeld (“image”) vertrou. Geslaagde digkuns werk immers deur konkrete beelde.
En wanneer daar oor stiltes en die ónmoontlikheid van besegging gedig word (soos in “Encounter”), tref dit eweneens. Nie die idee nie, maar die ding op sigself.
Wat jammer is, is dat dié digter nie deur ’n gesiene uitgewershuis gepubliseer word nie; hy verdien beslis groter respek.
Bestel van franban@mweb.co.za.
Joan Hambidge is ’n professor in Afrikaans en kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad.
Hans Pienaar oor Johann de Lange:

Johann de Lange is ’n enigmatiese digter.
Hy behoort tot die eerste gay generasie onder Afrikaners vir wie hul seksualiteit nie materiaal vir trauma was nie, maar ’n rede tot viering van die lewe.
Deur sy digkuns is lesers algaande bewus gemaak van ’n wêreld met oorvloedige seks, ekstroverte betuiging van lus en lustigheid en beproewing van dwelms sonder apologie of verantwoordelikheidsin.
Terselfdertyd is hy een van die mees vormgebonde digters in die hedendaagse Afrikaanse poësie. En dit nog op ’n amper outydse manier.
Op die oog af is dié bundel kwatryne tegelyk ’n oefening in volgehoue dissipline met die skryf van ’n honderd variasies van dieselfde basiese vierreëlige vorm waarvan die eerste reeds eeue gelede deur pilare van die beskawing soos Omar Khayyam bedryf is, en ’n onophoudelike gebeur teen die teuels. Want hy hou hom nie by een rym- of ritmeskema nie en raak so roekeloos soos altyd wanneer dit by die gesprek met die lendene kom.
Soms neig hierdie spanning, wat ’n mens kwatryndwang kan noem, na lawwighede, soos in “Aleksander en Hefaistos”:
In hulle deel twee lywe dieselfde siel
Wat saam in die stryd en voor Eros kan kniel
(Kniel in die stryd? En kniel voor Eros, of voor mekaar?)
Kwatryndwang noop hom ook om soms vulwoorde te gebruik ter wille van die ritme, soos die goeie ou “knus” en “vergeelde” by “perkament”.
Maar gewoonlik is die resultaat wat ’n mens verwag van ’n kwatryn: Die gedrongenheid van die epigram gevoeg by die epifaniese vondste van ’n bedrewe vakman se omgang met vormlike meganismes.
As ’n mens eers die templaat koop – en dit doen jy gou – vergewe ’n mens hom die lomphede wat onvermydelik by kwatryne is.
Daar is letterlik dosyne voorbeelde hiervan, maar “Michelangelo” sal doen:
Die groot gryse het verklaar:
Ek teer op wat gloei & brand:
Waarvan ander sterf
Is vuurhout vir my hand
Is die eerste reël nodig? Dalk nie, maar die kwatryndwang voeg tog ’n dimensie by. As jy aandring op perfeksie, sal jy dit kry: ’n Hele handvol kwatryne is onberispelik afgerond, met al die tipiese De Lange-“moves” vernuftig toegepas.
Die bundel slaag die kykweertoets met vlieënde vaandels. Gedigte waaraan ek die eerste maal nie vat kon kry nie, het eensklaps met die tweede lees hul sin ontbloot, ook vanweë die herlees van ander kwatryne in die web van die bundel.
Dis ’n goeie strategie om net twee kwatryne per bladsy te plaas: Dit werk die eenselwigheid teen en noop ’n mens om albei in isolasie te lees en as elemente van ’n transenderende ritme.
Net so was dit wys om nie klakkeloos die “less is more”-modereël te volg en net ’n handvol te plaas nie. ’n Honderd kwatryne verskaf ekstra resonansieruimtes, ’n goeie demonstrasie van waarom ’n mens soms oordadig moet wees.
Dis ’n unieke bundel, en dit beveg op sigself die hiërargiese, outoritêre strukture wat maar net nie wil wankel in Afrikaans en Afrikaners se wêreld nie.
Teorie bring jou egter net so ver.
Die bundel het vir my ’n persoonlike resonansie ook. Dit herinner my aan ’n gesprek wat ek en De Lange jare gelede sommer so in die deur van ’n Exclusive Books-tak gevoer het. Popvideo’s het toe ’n piek in gehalte beleef en hy het sy bewondering vir die ambisieuse kreatiwiteit daaragter uitgespreek.
Sulke video’s was veel meer werd as gedigte, het hy te kenne gegee.
Of hy nog so dink, weet ek nie, maar dit het my altyd bygebly as kenmerkend van De Lange se werk: ’n Beskeidenheid wat die digkuns as ’n onderdeel van die lewe sien, nie aardskuddend belangrik nie, maar omdat dit so gering is, ook nie rede om jou talent daarvan weg te keer nie. Inteendeel.
Hierdie kwatryne gaan nie jou lewe verander of jou huwelik kelder nie, maar dit kan soos krummels uit ’n straatkafee se tafeldoeke ’n trop duiwe, die duiwe van jou gedagtes besig hou.
Hans Pienaar is ’n digter.