Bikers, braaiboud & rillers, raad
2009-10-09 13:50
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Seisoen van Sonde deur Chris Karsten
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R165
Resensent: Kerneels Breyetenbach
Gewonder wie die volgende groot speurroman gaan skryf ná Deon Meyer? Hier’s hy – Chris Karsten.
Karsten het die afgelope paar jaar gesorg dat diegene wat die moeite gedoen het om die Ware misdaad-reeks te lees, ten minste weet daar is naas Meyer iemand anders wat binne-in ’n storie kan inklim en dit kan beskryf sodat mens voel jy lééf dit saam.
Nou takel hy met Seisoen van sonde ’n reeksmoordenaar wie se dade gewortel is in die ou apartheidsregime se donkerste geheimenisse, veral die geheime rakende ’n kabaal hoogs opgeleide wetenskaplikes.
Een van die sinistere binnekring is besig om ’n groep mense wat daardie ou geheime kan openbaar maak, die een na die ander te jag. Die mense het bande, op welke manier ook al, met ’n groep bruin studente wat in die 1980’s verdwyn het.
Iemand het hulle gegryp, en mens weet uit die staanspoor dat daardie gryper(s) lede was van ’n duistere vertakking van daardie departemente wat hulself gekwalifiseer het met die benoeming “Intelligensie”, en dat hulle oornag het by die kabaal wetenskaplikes.
Een van die studente het losgekom ná hy gemartel is. Hy is sedertdien versorg deur ’n wetenskaplike wat aanvanklik deel was van die dinge. Nou word albei ’n teiken vir die reeksmoordenaar.
Die ding waarna elke speurskrywer mik, is ’n unieke verhaal. Moordenaars mik weer na die volmaakte moord. In Seisoen van sonde word die volmaakte moorde gepleeg – op ’n manier wat die boek uniek maak.
’n Oud-minister uit die apartheidsdae sit die hele ding aan die gang deur die voete te gaan was van die moeders wie se kinders so geheimsinnig verdwyn het. Voordat mens onthou wie de vlok dit was wat nou mos onlangs self so iets gedoen het, begin daar lyke tussen Sedgefield en Knysna opduik.
’n Speurder, Lenny Arries, moet die moorde ondersoek en oplos. Tot op hierdie punt het ek die inhoud so vaag as moontlik probeer beskryf – doelbewus, want die plesier van hierdie boek lê in die feite, die prosessuele stappe wat gedoen word, die uitrafel van die kleinste feite. Die mense en hul geskiedenisse wat hy oopskryf, is meer driedeminsioneel as wat mens gewoonlik in speurverhale aantref.
Karsten orkestreer sy feite soos ’n groot dirigent. Jy besef gou dat hy ontsaglik baie navorsing gedoen het om hierdie verhaal te kon skryf – oor die geskiedenis, die geologie en geografie, oor die plant- en dierkunde van Suider-Afrika. Sy mensekennis is groot, soos mens gou agterkom.
As rigsnoer gebruik hy Dante se Divina Commedia. Die vernuf waarmee hy dit bemeester, is grotendeels die fondament van hierdie kragtoer van ’n speurverhaal. Daar is ’n ligte kopknip in die rigting van Thomas Harris se Silence of the Lambs. Gaan vind self uit wat dit is – dis die moeite werd!
Naskrif: Karsten het ’n agterdeur oopgelaat – ek hoop daar is spoedig ’n vervolg.
Sonbrand en Braaiboud - Die beste van Weg! - Vol. 2 gekies deur Bun BooyensUitgewer: Tafelberg
Prys: R170
Resensent: Theunis Engelbrecht
Kliek hier om hierdie week se boeke aan te skaf.
As jy soos die meeste mense ly aan resessiedepressie, kredietverdriet en varkgriep van die verstand is hierdie boek net die regte doepa.
Maar wees ook gewaarsku: Dié keur van artikels uit die tydskrif Weg! kan ook jou voete laat jeuk om die wêreld in te vaar en rond te ry, vakansie te hou en nuwe plekke en dinge en mense te ontdek. As jy egter nie geld het vir sulke dinge nie, kan jy jou daaraan troos dat die lees van Sonbrand en braaiboud is soos om op ’n vakansie van jou eie te gaan.
Met ’n allemintige 50 artikels en ’n span gedugte skrywers is hierdie boek gewis waarde vir geld. Nie minder nie as 21 is deur Dana Snyman geskryf en tien deur Toast Coetzer – rede genoeg om ’n mens die boek te wil laat koop. Dit beteken nie dat die ander bydraes afsteek nie – skrywers soos, onder andere, Jaco Kirsten, Sophia van Taak, Ziki Egron, Albertus van Wyk, Bun Booyens (senior én junior) en Koos Kombuis bied stewige toegevoegde waarde.
Die hoogtepunte is te veel om uit te sonder. Snyman se artikels oor die mense, goed en kos langs die pad – petroljoggies, “mechanics”, die mense van die padkamp, tiekiebokse, vleispasteie – is besonders. Jy kan ook saam met Toast Coetzer met kulula van Port Elizabeth na Kaapstad reis, en saam met Albé Grobbelaar ’n ysingwekkende rit per motorfiets van Bloemfontein na Johannesburg ervaar.
Selfs die artikels oor motors is op ’n aweregse manier interessant, soos Snyman se “Alternatiewe karre op die alternatiewe roete”. Coetzer, Van Wyk en Kirsten se bydraes oor studentemotors staan ook uit.
Sekere artikels is pure onweerstaanbare nostalgie. Byvoorbeeld, Bun Booyens sr. se puik “Mister Pagel se sirkustrein”, Coetzer se “Toe ek klein was?…” en Snyman se “See toe!” en “Winkels soos oom Ochse s’n”. Humor is daar ook volop – soos in Snyman se sardonies-satiriese artikels oor vleisbraai en winkelsentrums. Coetzer se baie snaakse artikel oor sy deelname aan die koedoedrolspoeg-kompetisie by die Kirkwood-wildfees is ook ’n voltreffer.
Dit is verblydend dat goeie Afrikaanse joernalistiek in boekvorm bestendig word. ’n Mens sal graag wil sien dat dit meermale gebeur. (Wat van een met die beste 50 artikels uit die ontslape Insig? Of Loslyf?) Tafelberg verdien dus ’n vet pluimpie vir Sonbrand en braaiboud.
The Shape of Him deur Gill Schierhout
Uitgewer: Jonathan Cape/Random House Struik
Prys: R315
Resensent: Corné Coetzee
Hierdie vaardige en intelligente debuutroman vertel die verhaal van die kortstondige verhouding tussen Herbert Wakeford en Sarah Highbury en die nasleep daarvan.
Op die vooraand van Herbert se begrafnis dink Sarah terug en met dié begin ’n komplekse portret van Herbert vorm aanneem, ook van hul lewe saam en afsonderlik. Herbert was ’n diamantdelwer en swerwer aan die Witwatersrand in die 1920’s. Hy het ook ook aan ’n degeneratiewe breinsiekte gely. Die verwikkelde storie loop baie draaie, maar in dié roman is die storie maar net een van die drade. Sterker as die intrige is die emosionele onderbou van herinnering en verlies.
Sarah is ’n sterk, onafhanklike vrou wat glo ’n mens loop nie te koop met jou persoonlike probleme of hartseer nie. Wanneer sy eendag letsels van ’n ou brandwond sien, is sy erg gesteurd en is haar ontsteltenis duidelik oor meer as net die fisieke pyn: “This evidence of a sorrow which cannot be unborn. Surely it is only proper to keep such things to yourself?”
Sonder enige sentimentaliteit, selfs droogweg, neem sy bestek van die afgelope twee dekades. Maar geleidelik – in ’n terloopse opmerking, die keuse van ’n beeld of ’n beskrywing – openbaar sy meer van haarself as wat sy dalk besef en kom meer as die blote feite te voorskyn. Dis asof sy haar verhaal op so ’n manier belig dat skadu’s agter die handeling ’n tweede verhaal vertel: een van ’n liefde wat nooit vergaan het nie. Nie ná 20 jaar se loop op verskillende paaie nie, nie deur ander verhoudings aan weerskante nie en nie deur Sarah se wegtrek nie eers na die Kaap, dan na Brakpan, dan weer Kaap toe. Sy trek, maar dis asof sy met ’n onsigbare tou verbind is met die gestig in Doornfontein in die Karoo waar Herbert is.
Die verhaal speel hom af in ’n Suid-Afrika voor apartheid, maar voorspooksels van rasseprobleme bly nie uit nie. Daar is ’n kind betrokke, en die roman suggereer dat omdat haar herkoms twyfelagtig is, haar pad vorentoe ook moeilik sal wees.
Dis ’n subtiele en veelvlakkige roman, noukeurig gestruktureer, in voortreflike, fyn prosa geskryf. ’n Mens sien uit na Schierhout se volgende werk.
Menopouse: Die volledige gids deur Nicole Jaff
Uitgewer: Penguin
Prys: R130
Resensent: Karin Brynard
’n Boek wat elke vrou oor 40 op haar boekrak behoort te hê. Want of
jy dit nou wil weet of nie: die meeste vroue ken rillerverhale oor die
menopouse. Dit behels gewoonlik ondenkbaarhede soos jou watsenaam wat
verdor sodat jou man begin rondloop, die ontwikkeling van snorbaarde,
’n ekstra dikwielrolletjie oor jou middelrif, depressie, slaaploosheid,
algemene moerigheid, noem maar op. En om net mooi alles te kroon, word
jy nog bles ook, kry jy oornag plooie en ’n vel wat net wil suidwaarts
rek.
Nicole Jaff bak geen mooibroodjies oor hierdie
lewensverskynsel nie. Inteendeel. Menopouse is ’n feit soos ’n koei.
Maar jý hoef nie soos ’n dik, uitgedroogde, brosbeenderige, bejaarde ou
koei te loop staan en voel net oor jy warm gloede begin kry het nie.
Tog: die meeste vroue weet eenvoudig nie wat hulle te doen staan nie,
gryp na elke strooihalm wat hulle uit die gloede sal help of wat die
belofte van jeug en gesondheid inhou. Want daar is ontsettend baie
verwarring oor menopouse, júis oor daar soveel teenstrydige inligting
bestaan en die meeste mense eenvoudig nie die tyd of energie het om
deur alles te probeer ploeg nie. Maar almal soek ’n kortpad, ’n maklike
uitweg, ’n pil of ’n plakker of ’n spuit.
En dis waar Jaff
en haar “volledige’’ gids inkom. Sy skei die koring van die kaf. En
haar leuse is dat jy, met goeie inligting en ’n groot skeut gesonde
verstand en gesonde lewenstyl, beheer kan neem oor hierdie fase.
Elke
vraag wat ’n mens kan bedink oor die menopouse behandel sy deeglik en
verstaanbaar – van hormoonvervangingsterapie (HVT) tot warm gloede,
gewigstoename, vitamienaanvullings, die gevaar van kanker, beroertes en
hartsiektes en natuurlik velveroudering.
Veral haar
uiteensetting van HVT is besonders deeglik. Die mites en beloftes oor
hierdie behandelings was vir my persoonlik ’n groot verrassing – soos
dat dit geen ewige jeug inhou nie en selfs gevaarlik kan wees deur jou
kanse op beroertes, sekere kankers en hartsiektes te verhoog. Onder die
leiding van ’n la-a-a-a-ang rits mediese spesialiste, in Suid-Afrika
sowel as elders, maak sy korte mette met die baie verkeerde aannames
oor HVT en veral die onverantwoordelike wyse waarop huisartse soms
daarmee omgaan. Selfde geld vir sogenaamde “alternatiewe’’ of
“natuurlike’’ hormoonprodukte. Én die groot aantal onbeproefde foefies
wat gesondheidswinkels aan desperate, goedgelowige vroue afsmeer – wat
soms aan misdadigheid grens.
Bemagtig jouself met kennis,
is haar mantra dwarsdeur. En peper jou dokter met vrae. En as hy/sy nie
wil saamspeel nie, gaan na ’n ander dokter. Dis jou liggaam, jou lewe
en jou gesondheid. Jou verantwoordelikheid.
Die bike-boek - Samesteller: Tobie Wiese
Uitgewer: Tafelberg
Prys: R165
Resensent: Linza de Jager
Laat
ek sommer reguit sê: Dié boek het my geweldig geïrriteer. Dit het ook
iets ergers gedoen. Dit het die mistiek uit bikes gevat.
Kom
ek verduidelik: Ek het grootgeword op ’n stofdorpie in die Suid-Kaap
tydens die hooggety van apartheid, in die dae toe bikes nog as wild en
sexy gesien is.
Dit was die laat-1960’s en wanneer ons aan
bikers gedink het, het ons Peter Fonda met sy lang saaidies voor ons
geestesoog in die fliek Easy Rider gesien.
Maar, nou’t Die bike-boek dit kom opneuk, want is ’n perd van ’n ander kleur.
’n
Hanslam, so reg uit die suburbs. Kyk maar na vertellings van hoe die
manne in leer tee drink – en bid jou aan, groentee! Verskeie skrywers
maak ook melding daarvan dat hulle oor die Vanrhynsdorp-pas gery het.
Hoekom neuk die hele boek se bikers daarheen? Dalk om blomme te gaan
kyk by Nieuwoudtville oorkant die berg, het ek gewonder? Of om
vetplantjies te koop by die kwekery in Vanrhynsdorp?
Die
een na die ander skrywer het ook dieselfde beleefde, niksseggende sinne
gepen oor vryheid. Ek het met skok besef dis nie die rowwe heroes van
my drome wat my gaan red van die platteland nie, maar middeljarige en
selfs bejaarde motorfietsryers. Die tipe wat mens in ’n coffeeshop in
Tygervalleisentrum verwag, kompleet met iPhone, Blackberry en iPod.
Sommige van Die bike-boek se skrywers het prontuit erken dat hulle nog
nooit in des lewens bike gery het nie. Bloedskande, sê ek.
Daar’s
gelukkig uitsonderings in die boek. Dana Snyman, pastoriekind, skrywer
en besoeker aan Buffalo-rallies, verstaan waaroor die hele bike-ding
gaan. In sy een essay noem hy dat die Harley Davidson-maatskappy op ’n
slag van beeld probeer verander het, maar dat dit nie gewerk het nie,
want “niemand wou hulle vereenselwig met ’n motorfiets wat deur vaal,
mak mannetjies gery word nie.” Ditsem, Dana.
Hy vertel ook
’n staaltjie uit die annale van die Black Prince-bike wat in die 1950’s
as só dodelik beskou is, dat mens “ ’n komplementêre doodskis gekry
het”.
Dis lekker om oor Dana se bikers te lees. Hulle is
plat op die aarde. Hulle maak doughnuts en wheelies voor die Spur in
Aliwal-Noord en verloor belangstelling tydens ’n stripshow.
Maar weet jy wat? Too little and too late. Die mistiek is kapoet.
Dae uit ons geskiedenis: 'n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek - Saamgestel deur die Vriende van Afrikaans
Uitgewer: Griffel
Prys: R187
Resensent: Rachelle Greeff
Dié
boek kan maar aangeskaf word in die plek van die Kersfeestelike
sakdoeke, sokkies en sjokolades, want met 366 inskrywings oor plaaslike
feite wat op die een of ander manier te make het met Afrikaans is hier
iets vir almal van skoolkind tot Oupa-wat-alles-het.
Jy
kan die boek langs jou bed hou en as verfrissend anderse “dagstukkies’’
geniet. Of jy kan na die alfabetiese indeks gaan as jy wonder oor die
verbintenis met Afrikaans, hoe indirek ook al, van sê maar Lady Anne
Barnard en die hartpionier Chris Barnard. Dat Helena Lochner of M.E.R.
gelys word, maak onmiddellik sin, maar hoe bring mens die kloutjie van
die Kaapse sweefspoor by die Afrikaanse oor?
Elke
datum-inskrywing word gevolg deur gedateerde gebeure in die groter
wêreld wat ook op daardie dag afgespeel het. So is die datum waarop dr.
Beyers Naudé oorlede is, 7 September 2004, ook die datum (1801) waarop
die Voortrekker Sarel Cilliers in die Klein-Drakenstein gebore is, die
dag (1910) waarop die eerste monster suiwer radium deur Marie Curie
vervaardig is en in 1986 die dag waarop Desmond Tutu aartsbiskop van
die Anglikaanse Kerk geword het.
Die agtergrond van die
sepia-agtige buiteblad van die boek bestaan uit portretfoto’s (’n
jonger, bebaarde Karel Schoeman links bo in die hoek is onmiddellik
herkenbaar). Hierdie foto’s word volgens die voorwoord as plakpapier
gebruik in die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument. Word dit
iewers as geskenkpapier verkoop? Indien wel, laat ons asseblief weet
waar.
Kliek hier om hierdie week se boeke aan te skaf.
- Rapport