Bonnievale se boekwurm
2012-02-04 14:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
In ’n doodloopstraat in Bonnievale sit ’n klein vuurhoutjieboks-huisie met ’n roostuin in die agterplaas.
Hier woon Natasha Klue by haar ma en haar oupa. Maar jy besef heel gou Bonnievale se grense is heeltemal te klein vir dié kind, want sy het ’n brandende leeslus waarby nóg die skoolbiblioteek nóg die dorpsbiblioteek kan byhou.
En dít al dra dié 16-jarige die letsels van ’n reeks gesondheidsuitdagings, waaronder ’n vergrote nier.
Dan is daar nog die kwessie dat die gesin op haar oupa se staatstoelaag leef, wat klein dingetjies in die lewe – soos boeke – ’n absolute luukse maak.
Maar niks hou haar terug nie. Sy doen graag dinge wat meisies van haar ouderdom doen, soos danslesse neem en sy lees dat dit ’n aardigheid is.
“As jy volpunte op skool wil behaal of net goed wil vaar, moet jy lees, báie lees,” verduidelik Natasha.
Daarom is dit vir haar niks ongewoons om amper elke liewe dag in die biblioteek rond te dwaal nie.
En net om te wys dat sy regtig ernstig is, trek sy twee splinternuwe biblioteekboeke met dik plastiek uit haar rugsak uit: Jaco Jacobs en Fanie Viljoen.
Sy, vertel sy, “hou van amper alle storieboeke, Engels én Afrikaans, drama, avontuur, spanning, rillers, grillers...”
Ma Francien beaam dat daar nie ’n boek is wat hierdie kind nie verslind nie, en haar oupa skud net sy kop oor al die boeke wat sy kleindogter al gelees het.
“Haar liefde vir lees,” meen Francien, “kom beslis van haar ouma. Eers het ek dit geërf, en só het Natasha die leeslus dan as’t ware ingebore gekry.”
Iewers tussen die dorps- en skoolbiblioteek en haar vriendinne het Natasha ’n onvolledige stel van Malan Media se vertaalde reeks Meisies se dinge & ... ontdek en versot geraak daarop. Sy het Daleen Malan van Malan Media gekontak en gevra of sy op die reeks kan inteken en dit met haar sakgeld mag afbetaal.
Sy sou graag al die boeke wou lees, maar haar biblioteek het net 6 van die 13 titels gehad. Malan het summier vir dié leeslustige die volledige reeks gestuur wat nou kiertsregop op haar pienk boekrakkie pryk.
Dié reeks, so lui die bemarkingsmateriaal, is “fan-flippen-tasties”, en jy ontmoet “Izzie, Lucy, Nesta en TJ en lees oor al die dinge wat hulle aanvang en beleef – van vriendskap en verliefdheid tot flaters en frustrasies. Jy kan jou inleef in wat alles met die meisies gebeur. Die taal is lewendig en propvol pret en skreeusnaakse gebeure. Net die regte leesstof vir meisies van 11 en ouer.”
Boonop is Cathy Hopkins ’n supersuksesvolle tienerskrywer wie se boeke blitsverkopers is en (in vertaalde weergawes) in 26 lande buite Engeland ook opgeraap word.
Soos ’n wafferse Cathy Hopkins het Natasha self al ’n reeks boeke uitgedink as sy saans so in haar bed lê en op verbeeldingsvlugte gaan. Sy het die volledige beplanning en karakterontleding, wat sy in haar blou boek uit die sitkamer se afskorting trek, as bewys. Natasha se geheime skryfgoed.
In haar kamer staan ’n blikkie gekleurde penne waarmee sy skryf, maar haar hart trek ’n punt na ’n eie rekenaar waarop sy soos ’n regte skrywer kan tik.
Waar leer ’n mens so ’n vreeslike skryftegniek aan? Francien lag en Oupa skud sy kop. Sy het haarself hierdie tegniek geleer deur rolprente te kyk, sê Natasha. As jy ’n rolprent wil maak, moet jy eers al die tonele beplan; net so met ’n storieboek ook.
En moet nou nie dink sy weet nie hóé om ’n behoorlike storielyn uit te dink nie: Daar is elemente van liefde en drama, broedertwis, geweld en selfs ’n onverwagse moord.
En net as jy dink hier gaan die storie nou seker tot ’n einde kom, gooi sy een van daai draaibal-spanningslyne by met ’n selfmoord, ’n swangerskap of die dodelike damwal net buite die plattelandse dorp waar haar verhaal afspeel.
Oor haar karakters met die eksotiese name kan jy haar nie vasvra nie, sy het vir elkeen ’n behoorlike “persoonlikheidskaart” uitgewerk en sy kan presies beduie wie waarvan hou, hoe hul komplekse persoonlikhede daar uitsien.
Hoewel nie een van hulle hul juis aan slegte gedrag – soos om te rook en drink – skuldig maak nie, het elke verhaal ’n skobbejak wat sake lekker deurmekaar kom krap.
En haar idees? “Ag,” sê sy, “ek kry dit in die regte lewe en op die TV en in flieks.”
Die lewe deel sy houe uit. Maar jy moet jou kop optel en aangaan, is ma Francien se mening. En daarom wil sy graag die beste hê vir hierdie kind van haar wat ’n bibliotekaresse, of skrywer, of kunstenaar, of danser wil word.
Want benewens lees en skryf kan hierdie rooikop haar ken lig, haar rug regop trek en skielik sommer in die gaatjie van die amper-gangetjie tussen die sitkamertjie en die kombuis aan die dans gaan. Jazz, hiphop en moderne danse is haar gunstelinge, en dan sak sy so met haar knieë in ’n driehoek af grond toe...
Totdat sy eendag daar uitkom, sal boeke haar solank na ver en interessante plekke neem.
* Rapport-lesers wat kinder- en jeugboeke aan die gemeenskap van Bonnievale wil skenk, kan Leti Kleyn kontak by die eenheid vir akademiese geletterdheid by die Universiteit van Pretoria, leti.kleyn@up.ac.za of 082 347 9982.