Braam: SA se Simon Carmiggelt
2012-02-04 14:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Of jy met Braam de Vries deur Kaapstad of deur Amsterdam loop, maak nie saak nie. Braam is ewe tuis in albei stede.
Amsterdam het hy in die 1960’s leer ken tydens sy studie van Nederlands en taalwetenskap aan die Universiteit van Amsterdam.
Wie sy boek van 1968 met die titel Joernaal uit ’n gragtehuis lees, kom onder die indruk van Braam se besonderse waarnemingsvermoë.
Hy het ’n gevoelige oor vir gesproke Nederlands, veral die Amsterdamse Nederlands, en hy sien intuïtief die humoristiese kant van gebeurtenisse op straat, in die trem en in die koffiehuise raak. Toe ’n kind op ’n keer in ’n trem Braam se baadjie vir pajamas aansien, was hy die eerste wat daaroor gelag het. En Braam kan glo vandag nog die woorde aanhaal wat sy kamerverhuurder in 1967 kwytgeraak het toe die man se vrou hom (die eggenoot) van die een huistakie na die ander gejaag het.
Waarneming, humor en ’n diep gevoeligheid vir ander mense se lewensverhale is wat jy kan aflees uit onder meer Braam se Amsterdamse boek. Voeg daarby ’n intense belangstelling in die geskiedenis van ou geboue en die betekenis van opskrifte op huise en winkels. My eksemplaar van Braam se Amsterdamse boek het ek gaan haal by ’n antikwariaat langs ’n skilderagtige Amsterdamse grag nadat Braam my laat weet het ’n boek lê by “juffrou Schumacher” (die eienares) vir my en wag.
Dis mooi om die land van jou jeug in die ervarings en oordele van mense wat van buite kom te sien lewe. Maar dit is nog mooier as iemand as mens en as verteller jou inwy in die geheime van sy eie land. Suid-Afrika se landskap, veral dié van die Klein-Karoo en Kaapstad se strate, moet “gelees” word. Braam, gebore op Winkelplaas, léés die woorde van sy land en bied dit in verhale aan sy leser.
En die heuwels en berge, die trein wat tot die vloed van Laingsburg nog gery het, kry ’n naam. Die berg, persoonlikheid. Sy naam is Towerkop. Die trein s’n “Makkedas”.
Sy spoor lê nog daar in die rigting van Robertson en Montagu, maar die stoomtrein leef nog net in Braam se stories.
Hoe dierbaar word ’n land en ’n dorp wanneer die sigbare wêreld “taal kry” en die mense, lankal dood, nog hul lotgevalle met die leser kan deel.
Niemand het mooier oor Kersfees in die Klein-Karoo geskryf as Braam in sy storie “Kerssang by pitlamplig”, wat eindig met die woorde: “Vir almal wat, bekend of naamloos, Kersfees in die Klein-Karoo ’n kosbare besit gemaak het, maak ek hierdie herinneringe wakker. En ons dra dit op aan dié wat reeds op die ope velde anderkant die sterre is waar sorge nie meer bestaan nie omdat alles verbygegaan het en alle beloftes waar geword het.”
So is “Wakker maak” ’n treffende formulering van dit wat Braam in sy talryke stories doen. Nie net die sigbare wêreld wat sonder die proses van vertel en verdiep plat en oninteressant sou bly nie, maar ook die wêreld van die menslike gees, van die angste, vreugdes en verlangens wat onder die oppervlak van die normale daaglikse bestaan lewe, is onmisbaar deel van sy vertelwerk.
Braam luister met besondere aandag na die stories van die mense wat hy op sy pad ontmoet. En hy hoor die stories daaragter raak. Want hy weet stories veranker mense se lewe in die tyd en in die opeenvolging van generasies.
Anekdotes maak immers die problematiese klein en hanteerbaar, ook as dit om die verdediging teen oorheersende magte gaan.
Vir die betekenis van mag, geweld en die misbruik van mag in die Suid-Afrikaanse samelewing het Braam ’n besonder gevoelige antenne. Ook dit is ’n essensiële onderdeel van sy stories. Byvoorbeeld in “’n Gesiene boer vertel” uit sy bundel Verbeel jou dis somer, wat eindig met die dood van die jong boer Deneys wat deur die ander boere as ’n kommunis beskou en weens daardie vooroordeel uit die gemeenskap gesluit word.
Die geweld uit die verlede is deel van die huise wat die bewoners onder dwang moes verlaat. Huise wat eens vol lewe was, kan jare lank aan die elemente oorgelewer word en só verval.
Maar Braam roep hulle terug om in die hede te kom getuig oor wat gebeur het sodat mense nie vergeet nie. En só lei hy die leser deur huise, in kamers in waar onaansienlike voorwerpe die draers van kosbare herinneringe is.
Mense vertel stories om hul menslikheid te bevestig. Stories verbind mense aan dieselfde emosionele bron. Met verloop van tyd verander die oorspronklike weergawe. Elkeen wat dit hoor en in sy/haar fantasie herhaal, voeg iets toe tot die storie of laat bousteentjies daarvan val om die betekenis van die storie in ’n ander rigting te du.
Dit is wat Braam de Vries boei: Die dinamiek van die storie, veral van die kortverhaal.
Dit is die noodsaaklike dinamiek waarin die ingewikkelde emosies en psigiese kronkels van die mens tot uitdrukking kom.
Die woord “kronkel” sal by Braam onmiddellik die herinnering oproep van Simon Carmiggelt met sy pseudoniem “Kronkel”, die Amsterdamse meester van die kortverhaal, iemand vir wie Braam persoonlik geken het.
Carmiggelt en sy kortverhale het sy lesers laat lag en hy het hulle ontroer. Net so ontroer Braam sy leser, hy laat jou glimlag, selfs lag, en maak jou bewus van die skeppende krag van die taal.
Sy “kontreikuns” laat grense vervaag en ontbloot die wese van die mens. Soos Braam dit in sy storie “Ons dorp” só verwoord: “Nêrens op hierdie dorp genaamd Aarde is enige plek verbode vir die gewete nie, daar is nêrens waar die groot emosies van liefde, haat, jaloesie, vrees; waar die menslike toestand van woede, eensaamheid, verlatenheid, angs, hoop, onbekend is nie. Die digter Lucebert se ‘ruimte van die volledige lewe’ is die bron vir verhale uit ál die kontreie van ons dorp.”
Prof. Hans Ester doseer Suid-Afrika-Studies aan die Radboud-universiteit in Nijmegen, Nederland.