Bram, Molly en Piet

2013-03-02 23:40

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Boeke soos Rooi Jan Alleman deur François Loots is skaars in Afrikaans. Boeke wat tegelyk uitdaag en betower en so goed geskryf is dat dit lesers van literêre prosa én ligter leesstof sal aanstaan.

Rooi Jan Alleman handel oor die lewe van Bram Fischer, die Afrikaner-kommunis en advokaat wat Madiba heel moontlik van die galg gered het. Dis ’n boek oor ’n historiese figuur wat glad nie voorgee om histories korrek te wees nie. En dis ’n boek oor “die vreemde onbegryplikheid van drome”.

Fischer word uitgebeeld as ’n dromer omring deur spoke en drie “heilige idiote” – Hendrik (“Ik ben een Afrikaander”) Biebow, Paul Kruger en Jopie Fourie. Die boek is egter geen spookstorie nie. Dit speel af in ’n wêreld wat ten volle oortuig, waar ’n sterk binnestem met ewe veel gemak omgaan met ­realiteit en droom. ’n Vertelstem wat om die beurt herinner aan Virginia Woolf se Mrs. Dalloway, Michael Ondaatje se The English Patient en Dolf van Niekerk se Die son struikel.

Die verhaal van Bram Fischer word van sy geboorte tot sy dood vertel. Die verloop is lineêr, maar die geskiedenis word geteleskopeer, versnipper en herrangskik in ’n collage van feit, fiksie, emosie, ideologie en goeie prosa. Al die bekende rolspelers is hier, van oupa Abraham tot by Piet Beyleveld – die mede-Afrikaner-kommunis wat teen Fischer in die hof getuig en hom in die tronk laat beland het.

Baie van die stof is nie nuut nie. Die set pieces van die Fischer-historiografie – die houtverkleurmannetjie wat die Rebelkommandant van Kroonstad hom gee, sy Damaskus-oomblik in die Waaihoek-lokasie in Bloemfontein, sy lang en ingewikkelde hofmakery van en huwelik met Molly Krige, sy “langafstand”-deelname aan die People’s Congress en sy lewe ondergronds word alles beskryf – maar telkemale op ’n vars, nuwe manier.

In Rooi Jan Alleman ontmoet Bram en Molly mekaar al as kinders, Piet en Bram is skoolmaats en die latere Marxis ontwikkel ’n politieke bewussyn op ’n baie vroeëre ouderdom as wat die gewone bronne te kenne gee. Maar dit is ’n ongewone boek wat die geskiedenis gebruik om ’n verhaal te skep met ’n momentum wat die lewe self nooit kan hê nie.

Die werk spreek van diepgaande kennis oor Fischer. Loots het sy navorsingsnet wyd gegooi en kies soms karakters op die periferie van die Fischer-gegewe, soos Bram se oom Harry en die vakbondleier Bettie du Toit, om die storie oortuigend vorentoe te stu. Deurgaans word interessante keuses uit die historiese materiaal gemaak. Daar word amper glad nie na Fischer se flirtasie met Afrikaner-nasionalisme, sy Anglo-Duitse agtergrond of sy besonder sterk band met sy ouers (veral sy ma) verwys nie. En ook nie veel aandag gegee aan die hoogverraad-verhoor, die Rivonia-verhoor of selfs Fischer se eie verhoor nie.

Loots se boek is op sy aangrypendste wanneer dit gaan oor Fischer se (dikwels sentimentele) besinnings oor wat dit beteken om ’n Afrikaner in Suid-Afrika te wees, iets wat met vandag se Afrikaanse leser resoneer. Wanneer daar oor Fischer se kommunisme gepraat word, is dit soms minder geslaag. Nie omdat daar minder empatie met Fischer die kommunis as met Fischer die Afrikaner is nie, maar grootliks omdat “ideologie-eks­posisie” as lang brokke dialoog aangebied word en poog om komplekse konsepte tot spreektaal te reduseer.

Fischer se kinders, Ruth, Ilse en Paul, word hul name ontneem. Die twee dogters word klaarblyklik een karakter (ook naamloos). Iets wat uiters ironies is, synde watter groot bronne Ruth en Ilse was in die dokumentering van hul pa se lewe.

’n Liefdesverhouding tussen Molly en die vakbondleier Bettie du Toit word gesuggereer en waar van sy voorgangers verkies het om die stiltes om die vergrype van die Sowjetunie en veral Stalin te ignoreer, vervul Loots vir Fischer met twyfel oor Stalin, Mao en die motiewe van sy ANC-kamerade.

Rooi Jan Alleman is ’n onkonvensionele herskrywing van ’n deeglik gedokumenteerde, maar vir baie Afrikaners ook deeglik verborge geskiedenis. Dit bied ’n blik op Fischer op ’n manier wat nóg ’n struggle-hagiograaf nóg ’n apartheidsapologeet sal kan doen. Want deur die konvensies van die geskiedskrywer op sy kop te draai en in diens van die roman te stel kom ’n verhaal tot stand, vol van die waarhede wat net fiksie kan vertel.

Kalmer is skrywer-regisseur van Die Bram Fischer-wals.

* Skaf die boek aan deur hier te kliek.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 9-14°C Numerous showers. Afternoon clouds. Cool. Pta: 6-23°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 3-19°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 7-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 17-29°C Sunny. Pleasantly warm. PE: 16-22°C Mostly sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!