DEON MEYER: 'n nasionale boekebate
2009-12-08 14:52
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
As jy soek vir Kerspresente, moet jy nie by die nuwe Deon Meyer
verbyhou nie. Waar hy in die verlede veral met sy romans naam gemaak
het, het ons hier ’n aantal kortverhale en een lang-kortverhaal,
“Stiltetyd”.
Elke verhaal in Karoonag en ander verhale
word gevolg deur ’n nawoord, wat ’n verskeidenheid vorms aanneem, maar
meestal meer vertel van die inligting oor die skryf van die betrokke
verhaal. Op hierdie manier word ’n persoonlike verhouding tussen
skrywer en leser geskep, byna asof die skrywer gesellig met die leser
verkeer. Kostelik is veral die nawoord by “Stiltetyd”, waar ’n
denkbeeldige onderhoud gevoer word met Pearly, een van die
verhaalkarakters, eienares van die restaurant Kaapse Kos, wat die leser
inlig oor Maleise eetgoed soos fancies, sabanang, boeber en kabobs.
Die
stories sluit aan by aktuele nuusgebeure soos kapings en afpersings of
die seksuele misbruik van jong mense deur gewetenlose volwassenes, maar
word telkens in ’n ander ruimte geplaas – dit wissel van Loxton tot
Milaan, van die hedendaagse Kaap tot Botrivier in 1947. Afrikaanse
mense maak selfs kontak met karakters van Georgië of Irak. Die deeglike
navorsing wat baie van die verhale voorafgegaan het, is klaarblyklik.
Só het ek my verbaas oor die uitgebreide kennis van die vervaardiging
van skoene in “Die skoen in Maria”, en van Maleise geregte in
“Stiltetyd”.
Meyer weet goed hoe om die spanning in sy
stories te skep en te behou. Die eerste paragraaf betrek die leser
onmiddellik by die gebeure en aksie, geweld en seks is volop en
boeiende raaisels word geleidelik ontrafel, met allerlei verrassings.
Hierdie
spanningselemente, kenmerkend van die misdaadverhaal, is egter net die
lokaas waarmee die leser na die kern gelei word: die tipies menslike
situasies wat in die stories voorkom. So is daar byvoorbeeld die
verlange om by die gemeenskap ingesluit te word in “Karoonag”; en die
skoonheidswaardering wat ’n obsessie word in “Verslag oor ’n
verdwyning”.
Die tema van ’n karakter wat sy/haar
lewenslus deur ’n traumatiese gebeurtenis verloor en hierna deur ’n
genesingsproses gaan, kom herhaaldelik voor. Hulle hervind ’n ideaal om
voor te lewe, versterk deur die ondersteunende liefde van ’n
lewensmaat, en so word hierdie hand vol stories verhale van heling en
hoop.
Die konflik tussen goed en kwaad is steeds
teenwoordig, maar dit is nooit ’n simplistiese teenstelling van helde
en skurke nie. Meestal het die hoofkarakter nie net te make met ’n
gevaarlike misdadiger nie, maar ook met ’n worsteling teen ondermynende
kragte in homself. In “Die perfekte moord” stry Griessel teen sy
verslawing aan drank, en en in “Die Nostradamus-dokument” moet die
speurder Dekker van sy blinde narcissisme verlos word. In “Die skoen in
Maria” is die speurder en moordenaar parallelle van mekaar eerder as
teenoorgesteldes – albei ervaar die gevolge van liefdesverraad.
In
sommige verhale lê die klem veral op uiterlike spanning, soos in
“Karoonag”, maar my gunstelinge is eerder dié waar die karakterisering
meer aandag kry, soos “Die perfekte moord” en “Die verdwyning van
Leendert le Roux”. In laasgenoemde verhaal is Paul Els ’n heerlike
karakter – die onkonvensionele speurder wat meer van rekenaars weet as
van aksie, wat misdadigers met ’n spuitnaald takel in plaas van met ’n
rewolwer, ’n alleenloper wat tog sy staal wys en onverwags liefde vind.
“Stiltetyd”,
’n voorbeeld van wetenskapsfiksie, het my soms in die war gehad.
(Terloops, weet die skrywer of die uitgewer dat dié titel ook die titel
van ’n roman van Marita van der Vyver is?) ’n Verhaal waarin die mees
dramatiese dinge gebeur wanneer die tyd stilstaan, kon my nie heeltemal
oortuig nie, want alle handeling veronderstel tydsverloop. Die
verhaalkarakter met die magiese vermoë om tyd te laat stilstaan, is
soms nie in staat om tydens “stiltetyd” ’n deur oop te sluit nie,
terwyl dit ’n ander keer geen probleem is nie (bl. 194, 208). Die
hysers werk nie gedurende “stiltetyd” nie, maar die ligte wel (bl.
213). Hierdie onoortuigende fasette is egter heeltemal ondergeskik aan
die vele plesiere van die boek.
Meyer noem Marlene van
Niekerk in een van sy nawoorde “’n nasionale skat” (bl. 108) – terwyl
hy self besig is om in ’n nasionale bate te ontwikkel.
Chris van der Merwe is verbonde aan die departement Afrikaans en Neerlandistiek aan die Universiteit van Kaapstad.
Rachelle vra 5 vinnige vrae aan Deon
Rachelle Greeff: Watter drie goed moet jy nog doen voordat jy jou harp en jou vlerkies kry?
Deon Meyer: Van Alaska na Tierra de Fuego ry met ’n motorfiets, met Anita (my vrou) as passasier, natuurlik. Adobe After Effects bemeester. ’n Jaar in Parys (nie die een aan die Vaalrivier nie) gaan woon.
RG: Watter een boek wens jy alle mense moet kan lees?
DM: Die een wat elke mens aan lees verslaaf sal maak …
RG: Is dit hoegenaamd moontlik dat roem en rykdom nie ’n man se kop laat draai nie?
DM: Ek weet nie. Jy sal iemand moet vra wat ryk en/of beroemd is.
RG: En van koppe gepraat. Hoekom nou die nuwe voorkoms van ernstige, sleek skrywer? Waar’s die oopgesig-seun-van-langsaan?
DM: Lekker gelag oor dié een. Om in my genre as “ernstig” en in my middeljare as “sleek” beskryf te word, is ’n groot (en onverdiende) lekkerte. En dit net omdat ek my hare ’n rukkie laat groei het as deel van ’n eksperiment vir Jakkalsdans, die fliek wat aanstaande Februarie in teaters gaan wees.
RG: Ons resensent kla dat jy ’n titel van Marita van der Vyver hergebruik het. Stel die volk tog gerus.
DM: Ek stel graag hiermee die volk gerus dat skrywer en uitgewer bewus was van Marita se wonderlike roman met die titel Stiltetyd. Daarom het ons die bundel Karoonag genoem. Ons is ook daarvan bewus dat ’n misdaad-kortverhaal nie sommer verwar sal word met ’n ernstige roman deur een van Afrikaans se voorste romansiers nie, en dat daar nie kopiereg op boek- of kortverhaaltitels is nie.
- Rapport