Die kuns van onthou...

2012-06-30 15:18

Wat die hart van vol is deur Evette Weyers. Uitgewer: Hemel & See. Prys: R260

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Haar werk Die vrou wat vrede droom staan op ’n vredesmonument in die internasionale versoenings-en-vredestuin in Hirosjima, Japan, sy was al ’n wenner van die Corobrick- nasionale kunsuitstalling in Suid-Afrika en het twee beeldhoupryse in Los Angeles, Amerika gewen.

Pas het Evette Weyers, beeldhouer van Rooi-Els in die Kogelberg-biosfeer, se Wat die hart van vol is ... verskyn.

Dis ’n kunsboek, outobiografies, of soos sy sê, “’n kreatiewe avontuur en ’n ontdekkingsreis deur woorde en die betowering van woorde”. Haar hartstaal is Afrikaans, “’n beeldryke, selfstandige taal vol van die grond, klippers en steiltes van ons land. Sy is dieprooi, met die bloed en drif van Afrika...”

Dis dié taal, met sy Khoi-woorde soos “kierie”, “kamma” en “geitjie”, Maleise woorde soos “blatjang” en “amok”, en Afrika-woorde soos “indaba” en “babelaas” wat die inspirasie was vir een van haar werke, ’n oranje-rooi boom met sigbare wortels, Die wortels van woorde (bl. 21).

Magiese realisme – “al is dit eintlik ’n literêre term” – is hoe sy haar werk beskryf. Sy het twee jaar lank aan die boek geskryf, tussendeur kunswerke geskep. Sy en Petal Palmer van Petaldesign het foto’s van haar beelde saam met haar woorde op los velle papier uitgelê.

Hopelik is die boek nie net vir kunsliefhebbers nie, sê Weyers, “maar vir enigeen wat op reis wil gaan met die verbeelding”.

Of wat van taal hou. Lesers sal afkom op juweeltjies soos: “Ander kere is die see nie lus vir mense nie. Hy raak woedend en wild...” Of oor die kos wat sy en Marius Weyers, haar akteurman, uit die see haal: “Ons lywe bestaan fisiek uit wat hier groei en beweeg. Die see praat in ons bloed en ons buitelyne vervaag.”

Breyten Breytenbach se “stukkende gedig” het sy “verklank” deur die gedig op ’n kleiplaat te skryf, dit in stukkies te breek en aan ’n spiraal te hang sodat dit klingel in die wind. ’n Figuur van die digter kyk van bo af. Die klank van ’n stukkende gedig verskyn op bl. 101 in haar boek.

’n Gedig wat Breytenbach oor die tragedie van die Twin Towers geskryf het, “man wat val”, het op sy beurt ’n beeld van ’n vallende engel (bl. 78) geword.

Die beeldhouer gee ook graag sigbare gestalte aan Afrikaanse idiome soos “wat die hart van vol is” en “slim vang sy baas”. Dit maak die uitdrukkings nuut, snaaks en dikwels ironies.

’n Paar noue ontkomings met fratsgolwe hier in die Hermanus-omgewing het Weyers nie van haar eie sterflikheid bewus gemaak nie; haar boek wel.

“Met die skryf het ek gevoel ek raak aan die gesig van my eie dood. Ek bedoel dit nie morbied nie. Ek het net besef ons skryf almal ons eie lewe, en ons skep onsself oor en oor as verskillende identiteite. Wie jy werklik is, lê buite die spel van tyd en ruimte.”

Later voeg sy by: “Dit wat jy aan die heelal uitgee – soos vrese of drome oor môre – word jou geskiedenis, ons geskiedenis.” Uit dié idee is haar beeld Die vrou wat vrede droom (bl. 28) gebore.

Die alchemistiese siklus van kleibeelde-maak, fassineer haar – van die konsep tot by die opwinding wanneer sy die aar van die beeld oopboor. “Dan kry ek momentum en die beeld gestalte in kleur en vorm en begin dit loop, hardloop, vlieg, sing, woordeloos.”

Ook die natuur, veral die see en wind, “vertel vir my ’n storie wat ek dan voltooi deur ’n beeld te maak”.

Haar man, Marius, se belangrikste rol in haar kuns is sý interpretasie van ’n dramateks, vertel sy. Soos met Woyzeck, “een van die beste Duitse tekste (deur Georg Büchner) wat nog geskryf is”.

Dit eindig negatief, maar Marius en die regisseur Barney Simon “wou die stuk verder neem”. Ma­rius maak toe aan die einde ’n stadige bollemakiesie – asof die karakter, op soek na sy verlore heelheid, deur sy waansin tuimel. En so is haar kunswerk Woyzek tuimel deur waansin (bl. 51) gebore.

Ook gebeure word beelde in haar hande, soos die swanger vrou wat tydens die 2000-vloed in Mosambiek die lewe gegee het in ’n boom, wat Die geboorte van Rosetta (bl. 104) geword het. Kuns weerspieël die gees van ’n volk, beklemtoon Weyers. In Indiese kuns word vrywording, of verlossing, in die glimlag van die Boeddha weerspieël.

Vandaar Weyers se Boeddha-reeks.

Want deur haar kuns lewer sy kommentaar, maatskaplik, politiek. Tydens die noodtoestand het sy ’n Boeddha gemaak wie se lyf gedeeltelik weggeskiet is; tog was die glimlag steeds sigbaar. Dit sê: Ongeag wat met jou gebeur, jy kan bo dit uitstyg, vry wees.

Met haar en Ian Waldek se konseptuele beeld Droogte op Strijdomplein (bl. 98), wat op dié plein in Pretoria opgerig is, wou hulle die gebrek aan gesprek in ons land uitbeeld.

Haar huidige reeks oor “voetsoolvlak-demokrasie” kyk onder meer na bepaalde menseregte wat politici uit ons Grondwet wil skrap. Sy het die regte verewig in ’n beeld van ’n voetsool waarop dit geskryf staan (sien Rapport Boeke se voorblad).

Die kunstenaar se gunsteling is haar Ondersteboboom (bl. 119). Dis die mitiese naam van die kremetartboom van Afrika. Haar geliefdes, soos haar man, vriende en ouers, is tussen die lower geplaas. So ook kunstenaars wat haar beïnvloed het (soos Breytenbach en Antjie Krog) en Suid-Afrikaners vir wie sy groot respek het (soos Madiba).

Onderaan die stam is die wortels sigbaar – mitiese figure uit die Boesman- en Griekse kultuur, uit Egiptiese en prehistoriese tye.

Die beeldhouer sou graag wou sien dat die 2% van die wêreldbevolking wat kunsgalerye besoek meer word. Kuns kan ’n geweldige impak hê, soos ook onlangs met The Spear gesien kon word, sê sy.

Dieselfde geld letterkunde. Dink maar aan Elsa Joubert se Die Swerfjare van Poppie Nongena en Diana Ferrus se gedig oor Sarah Baartman, sê Weyers. Sarah het op die rug van ’n gedig huis toe gekom nadat Madiba en drukgroepe vergeefs probeer het om haar oorskot uit ’n Franse mu­seum te kry.

Kuns, meen Weyers, behoort ons in ’n groter mate te herinner aan ons gedeelde menslikheid en ideale.

Want kuns vir haar, in die woorde van die skrywer L.R. Hubbard, is die kwaliteit van kommunikasie.

“Dis ’n twee-, drie-, vierrigtinggesprek. So is ons vandag nog in gesprek met Shakespeare se ‘to be or not to be’.”

Op reis na ons gedeelde menslikheid...

Riette Rust is die skrywer van ’n Lyf onthou.

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-20°C Sunny. Mild. Pta: 11-22°C Sunny. Mild.
Jhb: 7-16°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 7-16°C Sunny. Cool.
Dbn: 13-23°C Showers late. Morning clouds. Mild. PE: 11-20°C Heavy rain. Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Parfuumwinskopies vir Moedersdag!

Bederf Ma met spesiale parfuumwinskopies en geskenkpakke vir Moedersdag. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Oefen sonder dat dit ’n plaas se prys kos

Tot 30% afslag op alle toerusting vir joga, om jou fiksheid te verbeter en jou spiere sterker te maak. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

RYOBI-gereedskap

Gee uiting aan jou innerlike DDS-geesdrif met RYOBI-gereedskap. Koop nou!

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!