Die taal rock ’n roll
2011-10-15 12:44
Dis Vrydagaand 23 September by die Open Book- literêre fees in Kaapstad. Ná die bekendstelling van Leon de Kock se Bad Sex skarrel ek om betyds by die Fugard-teater te wees vir die volgende geleentheid – Poësie van lirieke (sonder ’n deelteken).
Maar ek wou nog altyd weet wat sou gebeur as die digkuns so ’n bietjie kruisbestuif word deur die seks en drugs en rock ’n roll van die musiekwêreld.
Helaas is dit toe nie heeltemal so onheilig soos poësie sonder ’n deelteken nie. Vier van Suid-Afrika se voorste toorders met woorde, Valiant Swart, Toast Coetzer, Andries Bezuidenhout en Stef Bos is almal ikone in ons musiekbedryf, maar Open Book het dié liriekskrywers nader gehark om hul lirieke te kom voorlees – as poësie (met ’n deelteken).
Die afgelope jaar of twee is groot gewag gemaak van die konsep van die digter-as-rockster, maar die omgekeerde verskynsel – dié van die rockster-as-digter – is minder bekend. En tog word dit al hoe algemener dat Suid-Afrikaanse musikante hulle op die een of ander manier met die digkuns bemoei – dink maar aan die wegholsukses van Chris Chameleon se toonsettings van Ingrid Jonker-gedigte. Sowel Valiant as Stef het ook al hul lirieke in bundelvorm uitgegee, Andries werk reeds aan sy tweede digbundel, en Toast se gedigte is in Nuwe stemme opgeneem.
Miskien is dit ’n doodnatuurlike verskynsel, gebore uit die vervlegte geskiedenis van populêre musiek en digkuns. Die ballade soos ons dit vandag ken (as lied- en digvorm), stam immers uit die Franse ballade wat liriese en epiese elemente vermeng vir ’n storie met emosionele impak. Die lirieke en gedigte wat tydens Poësie van lirieke voorgelees is, was klinkende voorbeelde van die musikaliteit van taal en die noue verwantskap tussen die geskrewe woord en die lied.
Vir Valiant Swart is daar ’n band tussen gedig en liriek en hy benader die skryf van lirieke soos ’n mens gedigte skryf. Hy gebruik dan ook tradisionele verstegnieke om aan sy lirieke vorm te gee.
En toe hy “Die mystic boer” voorlees, doen hy dié kompleet met mystic moves.
Toast Coetzer van “The Buckfever Underground” het lirieke voorgelees wat hy vir sy nuwe side project, Simply Dead, geskryf het. Met titels soos “Die Here is my herderspastei” en sy kenmerkende vermenging van Engels en Afrikaans verwoord Toast die onsegbare essensie van sy alledaagse bestaan op ’n heel herkenbare manier. Sy gedigte omtower hy naatloos tot lirieke wanneer sy band musiek skep by die woorde wat sonder probleme as digwerke kan staan.
Andries Bezuidenhout, in musiekkringe beter bekend as Roof van die destydse BrixtonMoord en Roof Orkes, het weliswaar gedigte eerder as lirieke kom voorlees, maar het verse gekies wat met refreine werk: literêre hibriede van die heerlikste soort. Soos in digwerk is daar in sy tekste ’n klomp goed gelyk aan die gang, maar soos met die beste lirieke is hulle onthoubaar. Die refreine bly my by lank nadat hy gaan sit het, en dae lank daarna.
Laaste aan die beurt was Stef Bos, waarskynlik ons bekendste invoerproduk uit die Lae Lande. Sy lirieke en gedigte is lankal gebundel, maar as ’n mens nou net sy stem, aksent, sy unieke vermenging van Afrikaans en Nederlands en Vlaams kon bottel…
Musiek, sê hy, “gee die ballas aan die taal”.
En sy lirieke, meen ek, het ruggraat, binnegoed, ballas: geen clichés en leë rymelary hier nie.
Hiervan, weet ek seker, het ons musiekbedryf nog meer nodig.
Bibi Slippers is verbonde aan LitNet wat saam met Sanlam en MK ’n liriekkompetisie aanbied. Jy kan lirieke inskryf vir nege van Suid-Afrika se top-kunstenaars, onder wie Karen Zoid, Dans Dans Lisa, HHP en Jax Panik. Die kompetisie sluit einde Oktober. Nog inligting by www.singit.litnet.co.za.
- Rapport