Dis die dag van die dooies, wees bly!

2010-03-06 22:50

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Laatoggend op die Dag van die Dooies, in dieselfde langnaweek waar die tyd teruggedraai word om die amptelike koms van die winter in Italië aan te kondig, het ons met ’n draaipad berg-op deur die olyfboorde van Cartoceto gereis. Deur ’n mistige groen landskap, verby die vertikale grafte van stucco en marmer waar die opgestapelde afgestorwenes tussen helder liggies en kerse en kranse van geweefde takke en blomme herdenk word.

Dit was ’n jaar ná die dood van my ou vriendin Rykie van Reenen, en heelpad weef ek gesprekke met haar in my kop.

Hoog teen die berg op die olyfplaas, waar die ernstige eienaar die olyfoliebedryf van pars tot uitvoer in fyn besonderhede van Euromarkte en graderingstelsels uitlê, staan stokou olyfbome geanker in die kleigrond, hulle takke hemel toe gesprei in die mis en in die wind, soos vandag nog, soos gister en soos altyd.

“Hoe ver is jy met die boek?” het jy (Rykie) my op daardie laaste verjaardag voor jou dood gevra. Dit was ’n gesellige dag van verspotte ballonne, vars kreef en wyn, en óns jolige vyf tesame; soos die vorige paar jaar, ’n handvol ou vriende.

My verskonings was soos gebruiklik flou: ek kry nie tyd nie, ek skryf en skryf en dan gooi ek dit terug, soos visse wat nie vet genoeg is nie.

“Kind, jy moet opskud. Ek kan nie vir ewig aanhang nie.”

Ek het die kreef in ’n pan met vinkel en botter geblits, ’n paar lepels konjak oorgeskud en gevlam, room en safraan ingeroer en oor basmati-rys bedien. Oë toe, kop agteroor, het jy lank en fyn geproe. “Volgende jaar wil ek dit wéér hê. Net só.”

Maar ’n jaar later in die uitgebleikte somer van die Weskus is jy sonder seremonie stilletjies dood. Hulle het jou as later oor die veld en rotse gestrooi. Ons, jou ou vriende uit die dae van klein Italiaanse restaurantjies in die agterstrate van Johannesburg waar ons saamgesweer en wyn gedrink en oor die letterkunde geskinner het Saterdagnagte ná saktyd by jou koerant, ons het nie weer in jou huis fees gevier nie.

Daar is beweer dat jy nie ’n ophef wou hê nie.

Dit is verbasend hoe gou mense namens die dooies begin praat.

Ek het jou in September voor jou dood laas gesien. In jou kamer ingeglip toe daar niemand was om ons aan te jaag nie. Ons het gekuier en gesels terwyl jy my soos gewoonlik met vrae bestook. Toe jou glimlag flou word en jou oë toeval, het ek jou hand gedruk en uitgesluip. By die deur het ek jou byna nie gehoor nie: “Kom gou weer, enige tyd.”

Op 5 November het die tyding gekom dat jy ná ’n val hospitaal toe is en dat dit sleg gaan. ’n Week later is jy huis toe gestuur. Jy het ophou praat en jou onttrek. Hulle sê jy het vir lank op die stoep gesit en voor jou uit gestaar asof jy wag vir iemand om op te daag.

Daar was geen afskeid voor of ná jou vertrek nie. Ek het nie gou genoeg teruggekeer na jou siekbed met die uitsig oor Meeurots nie, na jou vrae en aanmoediging en liefde nie.

’n Jaar later in die so-te-sê winter reis ons in Italië en gaan lê ek besoek af by die dooies se kerk in Urbania. Dis laatmiddag en die hele dorp is op straat. By die ou Romeinse bruggie sit vroue en naaldwerk doen, kinders loop in die strate met hulle honde en op die piazza braai die ou ooms geurige kastaiings.

Op die Dag van die Dooies in die Chiesa dei Morti het ek eers ’n kers vir jou aangesteek en toe deur die barok-ingang afgestap na die kelder waar die armes in die 16de eeu deur die broeders van die “goeie dood” vir die ewigheid gebalsem is. Diep in die ondergrond waar die ernstige gids elkeen se afsterwe in makabere detail uiteenlê, hang die goeie burgers van die Montefeltro agter glaskaste, hulle arms en bene droog en takkerig, hul kopbene vertrek in grynslagte van eeue se pyn.

Nie dat ek ooit namens jou wil praat nie, maar ek wéét dat jy jou morsdood sou lag as ek jou van die stowwerige ou mummies van Urbania kon vertel – jy wat jou lewe lank vertoon van enige aard vermy het.

* Rykie van Reenen was een van die grootste Suid-Afrikaanse joernaliste van die 20ste eeu en ’n bekroonde skrywer van onder meer,Emily Hobhouse – Boer War Letters. Sy is op 28 Desember 2003, drie dae voor haar 80ste verjaarsdag, oorlede.

* L’è el dì di mort, alegher! (It’s the Day of the Dead, Be Happy!)is die titel van die bekendste bundel van die Italiaanse digter Delio Tesso (1886 – 1939).



- Rapport

binne rapport

Weather
Lottery
Cpt: 21-31°C Sunny. Warm. Pta: 17-30°C More sun than clouds. Warm.
Jhb: 15-28°C Afternoon clouds. Mild. Bloem: 18-27°C Scattered showers. More clouds than sun. Pleasantly warm.
Dbn: 20-29°C Tstorms late. Mostly cloudy. Warm. PE: 19-22°C Scattered showers. Morning clouds. Cool.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

VOLKSWAGEN

Jetta 5 2.0 TDi Sportline Dsl
2006
R 195,995.00

TOYOTA

RAV4 2.0 4x4 5-dr MY00
1997
R 75,500.00

TOYOTA

Corolla 160i GLE MY05
2005
R 99,990.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chill out in Knysna

Spend 2 nights at the Turbine Boutique Hotel & Spa in Knysna's gorgeous Thesen Island for R3058 per person sharing. Includes return flights, taxes, car hire and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

gobii eReader nou beskikbaar

Koop die gobii eReader en gobii-omhulsel vir iemand spesiaal vir Valentynsdag. Gratis aflewering binne 24-uur. Koop dit nou.

Koop Friends with Benefits en wen

Koop die DVD of Blu-ray en staan ’n kans om 1 van 5 "Love You"-blikke met koekies te wen. Die wedstryd sluit 9 Februarie. Koop dit nou.

Koop 4 romans vir R79,96

Koop enige 4 romantiese verhale vir slegs R79,96 terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Geskenke vir hom

Koop ’n klassieke skuimskeerborsel vir R279 vir die man in jou lewe en kry 15% afslag op ’n uitgesoekte reeks naskeermiddels. Koop dit nou.

Dit is al weer ’n fleurige Valentynsdag!

Daar is fleurige spesiale aanbiedinge by kalahari.com met die gobii eReader, Friends with Benefits, parfuums en rose wat nou beskikbaar is. Koop dit nou.

2 DVD's vir slegs R129

Winskopie van die week

Sit snoesig teenaan jou geliefdes hierdie Valentynsdag met ons aanbod van 2 DVD's vir slegs R129. Aanbod geldig solank vooraad hou. Koop dit nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
There are new stories on the homepage. Click here to see them.