Gedig as grafsteen, gedenkteken

2012-02-04 14:09

Alice Oswald

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Dit is vreemd dat Alice Oswald nie ’n groter aanhang buite Brittanje geniet nie.

Sy skryf ’n oorspronklike natuurvers wat verfrissend toeganklik is. As natuurdigter word sy dikwels met Ted Hughes vergelyk – waarlik hoë lof.

Sy het reeds vyf groot pryse ingepalm. Sedert haar debuut het sy binne 15 jaar gevorder van ’n onbekende Oxford-geleerde tuinier in die Chelsea Physic Garden tot een van die groot stemme in die Britse poësie.

Met die pasgepubliseerde Memorial, haar sesde versameling, bevestig Oswald weer eens dat sy ’n digter van wêreldklas-gehalte is. Sy is dalk nie tans oral beroemd nie, maar hare is wel ’n naam wat ook onthou sal word.

Sy debuteer in 1996 met The Thing in the Gap-Stone Stile. Die versameling het as hooftema die liriese misterie van die natuur, daardie onneerpenbare krag wat die natuurbewonderaar op soek na presiese definisie áltyd sal ontwyk.

Oswald besing die prag van die landskap met ’n stem wat gelyktydig beheersd en beswymend is. Sy volg die klankrykheid van woorde. Haar ritmes is bedwelmend; tog is haar taal konkreet, direk en selfs sober. Sy spring die geyktheid van die natuurvers (soos gevind in die tradisionele seetoneel, bergbeskrywing, ens.) vry, maar gee haar ook nie oor aan ’n oorintensiteit nie.

Helder is moontlik ’n regte beskrywing van haar stem. Skynend, stralend, dikwels spelend en speels, ’n warm energie, maar tog duidelik en klinkklaar. Dit is ’n tasbare wêreld wat helder uit haar verse na vore kom.

Hoewel Woods, etc. (2005), nes The Thing in the Gap-Stone Stile, ’n indrukwekkende natuurversversameling is, is dit haar meer konseptuele bundels, Dart (2002), Weeds and Wild Flowers (2009) en A Sleepwalk on the Severn (2009), wat werklik beïndruk.

Dart is ’n 48-bladsye lange gedig wat die Dartrivier in Devon sistematies vanaf sy oorsprong tot by sy monding beskryf. Oswald besing die rivier in verskillende stemme – dié van ’n visserman, ’n waternimf, die spook van ’n drenkeling, ensovoorts.

Weeds and Wild Flowers is ’n hardebandboek waarin Oswald se vergestalting van ongekultiveerde plante langs die besonderse etswerk van Jessica Greenman verskyn. Die blomme en onkruide het menslike eienskappe en die gedigte word klein karaktersketse.

Selfs net die name van die plante is ’n plesier om te lees, byvoorbeeld: Stinking Goose-Foot, Bristly Ox-Tongue, Bargeman’s Cabbage.

In A Sleepwalk on the Severn verwoord Oswald verskeie karakters se ervaring van die maansopkoms oor die Severnriviermond. Die bundel is in vorm ’n vreemde versnit van ’n toneelstuk, ’n verlengde ode en ’n koorteks.
Met Memorial slaan Oswald egter ’n nuwe koers in. Dit is ’n ongewone verwerking van Homerus se Ilias. Die klassieke gedig oor die Grieke se inval van Troje word in Oswald se hande ’n enumerasie van die gruwelike eindes van 218 soldate.

Dit is een lang gedig, gestruktureer deur die saamstring van wat basies kort liriese grafskrifte is. ’n Soldaat word beskryf, sy hele lewe voor die oorlog dikwels in ’n paar pakkende reëls opgesom, waarna die gewelddadige dood ontstellend opgeroep word, en dan volg ’n vergelykingsstrofe waarin daar liries op die tragiese einde uitgebrei word.

En só word ’n struktuur gevolg: epitaaf, vergelyking, epitaaf, vergelyking...

Die vergelykingsstrofe word twee maal herhaal. Hulle word eggo’s, deel van ’n inkantasie en het ’n byna hipnotiese effek.

In hierdie gedeeltes verskyn van Oswald se sterkste werk tot nog toe. Sy probeer die dood besweer én vergestalt in natuurbeelde en alledaagse evokasies wat mens gewoon oorrompel.

“Like when a mother is rushing / And a little girl clings to her clothes / Wants help wants arms / ... Wanting to be light again / Wanting this whole problem of living to be lifted / And carried on a hip”.
“Like a good axe in good hands / Finds out the secret of wood and splits it open”.
“Like fire which is what / A kind of visible vanishing”.

In die inleiding tot die gedig skryf die digter: “Ancient critics praised [The Iliad’s] ‘enargeia’, which means something like ‘bright unbearable reality’. It is the word used when gods come to earth not in disguise but as themselves.”

Sy het dit inderdaad reggekry om die antieke, soms stowwerige en akademiese, wêreld van Homerus weer met helderheid en energie te laai. Selfs die leser wat effens terugdeins by die aanhoor van Homerus se naam sal deur Oswald se lang gedig meegesleur word.

Hoewel dit ’n antieke bronteks het, is dit op verskeie maniere ’n kontemporêre vers. Met die stadige afloop van Brittanje se betrokkenheid by die oorloë in Afganistan en Irak kan mens Memorial lees as ’n besinning oor oorlog, verlies, ’n soeke na gepaste maniere van rou.

Hoe herdenk en onthou mens? Hoe behou mens die waardigheid van die gevallenes deur kuns?

Hierdie vrae word ook deur Simon Armitage gevra in sy The Not Dead (2008). Armitage verwerk hierin onderhoude met veterane van verskeie onlangse oorloë, en indien nie so vaardig soos Oswald se bundel nie, is die inhoud ewe ontstellend.

Op ’n stilistiese vlak bring Oswald haar Memorial ook nader aan vandag deur af en toe gebruik te maak van anachronistiese vergelykings.

Sy span byvoorbeeld hyserdeure, blikoopmakers en motorfietse in om sekere gebeurtenisse te beskryf. Dit veroorsaak wonderlike klein skokke van verrassing by ’n leser wat besig is met ’n legendariese teks wat om en by 3?200 jaar gelede afspeel.

Die vrye vers wat hier ingespan word, is kragtig. Dit is die uitwerking van, onder meer, die weglaat van kommas, drasties gevarieerde reëllengtes, ’n wisseling tussen spraakritmes en hooggespanne formulerings, asook die interessante effek van ’n tipografiese spel wat gespeel word met die plasing van oop wit ruimtes, naamlyste en, teen die einde van die bundel, slegs enkele strofes per bladsy.

Oswald was onlangs in die nuus toe sy haar jongste bundel aan die T.S. Eliot-prys se kortlys onttrek het. Sy het die prys in 2003 gewen vir Dart.

Die toekenning word egter deesdae geborg deur die beleggingsmaatskappy Aurum Funds. Oswald het kapsie gemaak teen Aurum se fokus op skansfondse en die duistere optrede van hierdie soort fondse oor die algemeen, en ook teen die etiese karakter van Aurum Funds spesifiek.

Mens sou moontlik kon bespiegel of sy die laaste tyd dus ’n taam­like verandering ondergaan het: Van ’n natuurdigter wat haar net by die landskap bepaal het tot ’n skrywer betrokke by oorlogkommentaar en die ekonomiese politiek?

Wat ook al die omstandighede, en hoe ook al gelees, Memorial is ’n monumentale werk in altwee betekenisse van die woord. Dit is groots én dit is ook die literêre weergawe van ’n gedenkteken – mens word werklik stil en nederig in die teenwoordigheid van Oswald se poëtiese konstruksie.

Met hierdie werk verskuif sy haar blik, met die grasieusste gemak, van die natuur na die mens­like natuur: ons geweld, ons getreur, ons geheue.

Dit is ’n uitbreiding van haar oeuvre en ’n versterking van haar naam. ’n Naam wat reeds hoog bo ander uitstyg.

Loftus Marais is ’n bekroonde digter.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weather
Lottery
Cpt: 13-20°C High level clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bloem: 3-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 14-26°C Sunny. Warm.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

TOYOTA

Tazz 130 5-dr MY00
2006
R 74,990.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

TOYOTA

Tazz 130 5-dr MY00
2005
R 64,995.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
There are new stories on the homepage. Click here to see them.