Harte vir balans
2011-11-05 13:18
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
The Cat's Table
deur Michael Ondaatje
Uitgewer: Jonathan Cape
Prys: R215
Met die lees van Michael Ondaatje se nuwe pikareske roman, The Cat’s Table, gaan jy soms die boek móét neersit om jou emosies onder beheer te bring. Jy gaan ontsettend droef word.
Die leitmotief regdeur die verhaal is ’n verlange of heimwee wat swaar in jou bors klop. Maar moenie ophou lees nie. Teen die einde van die boek sal jy voel jy het iets ver verby die grense van jou eie lewe ervaar het.
Tog is daar ’n vreemde teenstrydigheid met die lees van dié onderhoudende boek: Jy sal vind jy wíl nie die boek klaarmaak nie, want jy wil saggies vashou aan die beelde, mense en gevoelswêreld wat dit vir jou oopmaak.
Hierdie storie is faction; deels outobiografie, deels fiksie. Maar is alle stories nie maar net die waarheid gelieg nie?
In 1954 vertrek die elfjarige Mynah (later Michael, die verteller) alleen per skip van Colombo in Sri Lanka (die destydse Ceylon) na Londen se Tilbury-dokke.
Die boot, die Oronsay – die uitspraak is “Orasaigh” in Skotse Gaelies – vaar 21 dae lank oor die Indiese Oseaan, Arabiese See en Rooi See, deur die Suezkanaal, na die Middellandse See.
Die weerlose, amper hawelose jong seun moet sy veilige lewe agterlaat om by sy ma, wat hy vyf jaar laas gesien het, te gaan aansluit.
Voor sy vertrek pak hy in ’n klein tassie sy skoolpotlood en ’n kaart van die wêreld. Hy gaan buitentoe en groet vir oulaas die kragopwekker.
Hy grawe uit die grond die ou stukkies van ’n radio wat hy as jonger seuntjie daar begrawe het. Die uur van afskeid het aangebreek.
’n Eensaamheid oorval hom toe hy per motor in die donker na die hawe geneem word.
Die twee grootmense voor in die motor fluister soos skimme half onhoorbaar vir mekaar. Al kan hy uitmaak wat hulle sê, wil hy nie.
Hulle ry stadig verby die bekende bakens van sy jeug, nou in duister gehul: strate, ’n kerk. By die hawe hoor hy in die verte verlate losloperhonde blaf. Die klein kind sien die groot boot geanker, amper soos ’n stad wat aangeheg is aan die kus, maar beter verlig as enige stad of dorp wat hy al gesien het.
Hóé, wonder hy, gaan sy ma weet presies hoe laat hy daar doer anderkant gaan aankom? Maar die ergste van alles: Gaan sy daar wees?
Soos ’n weeskind, en met die innerlike maanlandskap om by die verstotenheid te pas, betree hy die boot, die onbekende.
Vroeg reeds word hy dan ook ingelig dat hy eenkant saam met die slampampers en lieplappers by Tafel 76 sal eet. Die tafel staan bekend as “the cat’s table” en is die skreiende teenoorgestelde van die kaptein se swierige tafel waar die crème de la crème hul maaltye nuttig.
Die kat se tafeltjie is ook kleiner en laer, en as jy hier sit, kry jy die perspektief van ’n kind wat na die wêreld opkyk. Die speelse ironie en die aweregse verwysing na klasverskille raak hier nie op ’n mens verlore nie. En dis dan ook by hierdie einste tafel waar die kind met ander sosiale anargiste en mede-verstotelinge bevriend raak.
Hy ontmoet twee seuns van omtrent sy eie ouderdom, die rebelse stouterd en moeilikheidmaker Cassius, en die versigtiger, siekerige Ramadhin.
Saam vang dié troika van belhamels baie kattekwaad aan en ontmoet saam ’n koterie van hoogs eksentrieke dramatis personae.
Daar is die vrou met die wonderlike naam Perinetta Lasqueti, wat hokke vol duiwe aanhou, selfs in spesiaal aangewerkte sakkies aan haar jas, waar hulle koekeloer en koer-koer.
Sy het ook die gewoonte om op die dek van die boot te lê en angswekkende speurverhale te lees. Sodra sy dit nie meer kan hou nie, gooi sy haar hande verwoed in die lug, gil liggies, en smyt dan sommer die boek oorboord, plonsend in die oop waters.
’n Verlangse ouer niggie, Emily (17), raak ’n vertroueling en sy dien later as onbewuste katalisator vir die jong man se toekomstige erotiese ontwaking.
Van die hartroerendste en mees verpletterende woorde skryf Ondaatje dan oor dié vrou.
Dan is daar ook die pianis wat vir hulle stuitige en guitige liedjies leer, ’n oliebol boef wat die eersteklas-passasiers besteel, ’n adellike wat op sterwe lê weens hondsdolheid, ’n introverte onderwyser met ’n hart vol verslaenheid en heimwee, ’n dowe meisie met ’n geheim so diep soos die see, ’n eensame atletiese (en sexy) Australiese meisie wat skaatsplank ry, ’n hondebewaker met ’n liefde vir middernagtelike kaartspel, en ’n geselskap towenaars wat vir absurde vermaak sorg.
Om by te dra tot ’n soort metaforiese Jungiaanse onderbewuste is daar ’n geheime tuin vol medisinale plante diep onder in die ruim van die skip. Die tuinier kweek ook uiters giftige plante wat hier tussen die mooies groei.
Iemand met ’n ryk verbeelding sê vir die elfjarige Michael ’n man het twee harte, sodat hy sy balans kan behou. Hy glo dit natuurlik.
Op ’n ander keer sien die kinders hoe ’n klein voëltjie uit die neusgate vlieg van een van die karnavalkunstenaars.
In ’n hawestad van Jemen, Aden, waar Kain en Abel begrawe lê, gaan hulle aan land. Hier hardloop hulle deur die chaotiese strate, ruik die stad en sy speserye en ontmoet ’n pragtige straatbrak wat hulle sommer terugsmokkel na die boot.
Die eersteklas-passasier en skindertong Flavia Prins ken Michael se familie en is veronderstel om ’n sydelingse ogie oor Michael te hou, maar daardie ogie bly maar baie verlangs en hy en sy trawante het vrye teuels om almal te beloer, te bekruip, af te luister en moles te maak.
En dis presies wat hulle doen. Daar is ’n gevangene op die boot en hy kom slegs laatnag op die dek om sy bene te strek, geboei in swaar kettings. Hulle beloer hom uit die donker, gefassineer deur die skadukant van die mensdom, die bose. Sy oë gloei terug in die donker.
Hulle luister mense af en Michael skryf van hierdie gesprekke neer. In ’n terloopse gesprek sê die man: “Toe vra ek hom: ‘Hoe kan dit ’n afrodisiakum én ’n lakseermiddel wees?’ En toe sê hy: ‘Dis alles in die tydsberekening.’”
Perinetta Lasqueti vertel heel onskuldig aan tafel van stappers in ’n sekere gedeelte van Engeland wat gereeld kaal gaan loop. Hulle dra net sokkies en stewels, met ’n rugsakkie, en soek varswatersalm in kabbelende stroompies. As jy dan verdwaas by hulle verbyloop, maak hulle asof hulle jou nie sien nie.
Al hierdie vinjette ontvou vinnig, chiaroscuro-agtig, filmies. Op plekke gaan jy hard lag, ander gedeeltes is emosioneel verwoestend.
Dis asof die leser in ’n bioskoop sit en op die groot doek kyk na ’n mikrokosmos van die wêreld wat half skeef op die rand van die ruimte se afgrond tuimel.
Later in die boek weergalm die woorde van Michael wat hy reg aan die begin gedink het toe hy opkyk na die groot boot: Wat was daar vóór so ’n skip in my lewe? ’n Boomkano op ’n riviertjie?
En dan, wanneer die reis eindig en jy staan saam met die jong seuntjie op die kaai, wonder jy of sy ma wel vir hom daar wag.
Jy verbeel jou jy hoor tóg ’n vrou sy naam roep, ’n sagte, huiwerige stem, bang dat sy verkeerd is.
Herman Lategan is ’n vryskutjoernalis van Kaapstad.