Huldeblyk aan Ingrid
2012-11-30 16:43
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ingrid Jonker is al byna 50 jaar oorlede, maar steeds leef haar gees voort in werke soos Petrovna Metelerkamp se Beeld van ’n digterslewe en Paula van der Oest se rolprent Black Butterflies, wat verlede jaar verskyn het.
Nou werk die digter se dogter, Simone Jonker, aan haar liefdesprojek, ’n artistieke huldeblyk aan haar ma.
“Ek wil my ma se storie vertel met die hulp van plaaslike kunstenaars, vriende, tydgenote en familie,” vertel Simone. “Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek hoe my lewenspad my konstant nader aan haar bring.
“Drie jaar gelede het ’n idee by my posgevat om deur ’n huldeblyk aan Ingrid ook haar werk aan ’n jonger generasie bloot te stel,” sê Simone.
Een van die musikante wat Simone in 2010 genader het om aan die projek deel te neem, is Riana Wiechers. “Nadat Simone via Facebook met my kontak gemaak het, het ek haar in Vishoek gaan besoek,” vertel Riana.
“Sy het aan my verduidelik sy voel die tyd is reg om haar ma se werk musikaal te laat interpreteer, spesifiek deur ’n groep vrouekunstenaars, en ’n groter kulturele verskeidenheid musikante.”
Simone, vertel Riana, het haar pyn begin omskep in iets positiefs en inspirerend. “Sy het ’n ongelooflike passie om iets te skep wat haar ma se boodskap van hoop en liefde weer met ’n nuwe generasie sal deel. Ons glo ook dat hierdie projek vroue oor die algemeen sal inspireer om groot te droom.”
Saam met Anneke Villet met haar ervaring in die teater-, uitsaai- en rolprentwese, televisieproduksie en publisiteit – vorm hulle die Ingrid-kollektief (Journey of Ingrid Collective). Die groep se eerste amptelike projek is die Ingrid Jonker- multikulturele musiekprojek (IJMMP), wat bestaan uit twee CD’s, ’n boek en ’n rolprent.
“Die konsep en die verskeie bydraers tot die projek is alles al gefinaliseer,” sê Riana. “Ons is besig om ons projek se voorlegging en besigheidsplan voor te lê aan potensiële skenkers en finansiers. Dit vat maar moed en gaan ’n groot klomp geld kos, maar ons glo onwrikbaar dat dié projek baie mense se lewe op ’n positiewe manier sal raak.”
Die eerste CD sal bestaan uit musiek deur kunstenaars soos Inge Beckmann, Zolani Mahola, Luna Paige en Jane Rademeyer en die tweede gedigte deur Ronelda Kamfer, Jitsvinger, Gert Vlok Nel en Quanita Adams.
Daarby kom ’n glansboek, Wees jy die pad/You be the Path.
Die verloop van die projek word gedokumenteer deur Shelley Barry, bekroonde regisseur, digter en aktivis. Argiefmateriaal gaan gebruik word om Ingrid se verhaal te vertel, terwyl Simone s’n in videodagboeke uitgebeeld sal word.
Anneke het Shelley verlede jaar gewerf. “Haar fliek gaan ’n unieke blik op die innerlike werking van Ingrid én Simone gee,” vertel Anneke. “Almal kan identifiseer met die betekenis van die band tussen ’n ma en haar dogter, die emosionele en geestelike implikasies en kompleksiteite van so ’n verhouding.”
Vensters van my hart – Die Simone en Ingrid Jonker-storie sal uit die perspektief van Simone vertel word.
* Vir meer inligting stuur e-pos na riana.wiechers@telkomsa.net of besoek “Windows of My Heart – The Simone and Ingrid Jonker Story” op Facebook en www.vimeo.com.