Koningin van gril en gruwels

2011-08-06 15:33

Sarah Lotz in haar spookhuisie in Noordhoek. Foto: Michael Hammond

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

The Mall
Deur Sarah Lotz en Louis Greenberg onder die naam S.L. Grey
Uitgewer: Corvus
Prys: R185


Die gruwelskrywer Sarah Lotz, geklee in ’n swart bloes en met ’n slagtersmes in haar hand, gaan sit onlangs op ’n Woensdagoggend in haar klein spookhuisie in die donker woud bokant Noordhoek naby Kaapstad en dink terug aan van die spookstories wat sy al in dié huis geskryf het.

“Daar was een oor ’n boetie en sussie wat een oggend wakker word en ’n oogbal in hul toilet vind. ’n Oogbal wat sommer net daar lê!

“En daar was een oor ’n oorgewig vampier wat vet word omdat sy slagoffers oorgewig is. Dan besluit hy om net die bloed van anoreksie-lyers te drink.”

Lotz werk tans aan ’n gruwelstorie wat hom in ’n Suid-Afrikaanse staatshospitaal afspeel. Sy en haar medeskrywer, Louis Greenberg (skrywer van The Beggars’ Signwriters en samesteller van Home Away), is druk aan die werk aan ’n grilboek omdat ’n Britse uitgewer hulle etlike duisend rand voorgeskiet het.

Lotz se naam is nie die bekendste in die Suid-Afrikaanse boekebedryf nie. Sy het nog nie enige groot pryse gewen nie.

Maar sy is tans dalk net een van die groot kommersiële suksesverhale in die Suid-Afrikaanse literatuurwêreld. ’n Boek wat sy saam met haar dogter, Savannah, geskryf het (Deadlands, onder die skrywersnaam Lily Herne, oor zombies wat Kaapstad oorneem) is al maande lank ’n topverkoper, sowel plaaslik as in plekke so onverwags soos Roemenië.

En verlede jaar het sy en Greenberg ’n kontrak geteken om onder die skuilnaam S.L. Grey vir die Britse uitgewer Corvus drie gruwelromans te skryf, waarvan die eerste, The Mall, reeds verskyn het. Dit handel oor twee mense wat in ’n monsteragtige inkopiesentrum in Johannesburg vasgekeer word. Die Britse koerant The Independent beskryf dit as “one of the cleverest, creepiest and most memorable horror novels for ages”.

En só, terwyl haar naam so te sê onbekend bly, het Lotz haar gevestig as een van die mees gelese skrywers wat vandag in Suid-Afrika werksaam is.

Terwyl ander skrywers op grênd aande pryse ontvang, sit Lotz in haar spookhuisie in die woude en dink gruwelike stories uit. (“My stories is eintlik net ontvlugting. Ek wil hê mense wat dit lees moet dieselfde ervaring hê as wat ek het wanneer ek Stephen King lees,” sê sy.)

Om by haar huisie te kom, moet ’n mens met ’n smal grondpaadjie deur die woud ry. Híér is die pad deur ou boomwortels oorgroei. Dáár lê ’n stuk geroeste metaal deur rankplante bedek. En dáár vind jy die grasdakhuisie waar Lotz, haar man en Savannah in die donker bos bly. Hulle het die huis self gebou, maar die vensters en vloere is van swaar hout, asof dit al geslagte lank daar staan.

Teen die badkamervensters is pikswart rubberspinnekoppe geplak om dit meer grillerig te laat lyk. Die boekrakke is tot teen die dak vol van grilboeke deur

Stephen King, Anne Rice en Susanna Clarke.

Daar brand die hele tyd wierook.

Op die Woensdag wat Lotz haar slagtersmes bokant die kombuistafel rondswaai, rek haar oë wyd van opgewondenheid terwyl sy terugdink aan die eerste grilstories wat sy geskryf het sonder enige plan om ooit geld daaruit te maak.

“Een was oor mense wat zombies kon bestel en hulle dan deur plastiese chirurgie van aangesig kon laat verander. Ek het geskryf oor ’n vrou wat ’n zombie bestel het wat soos Brad Pitt lyk.”

Die bekroonde wetenskapfiksieskrywer Lauren Beukes (tans Suid-Afrika se vuurwarmste literêre sensasie sedert sy ’n paar maande gelede die Arthur C. Clarke-prys, Brittanje se voorste eerbewys vir wetenskapfiksie, gewen het) het dié zombie-storie gelees, was mal daaroor en het Lotz opgesoek om te help skryf aan die TV-reeks waarvan Beukes destyds die hoofskrywer was.

Dit was ’n animasieprent vir die SAUK oor ’n superheld genaamd Pax Africa. Lotz het haar by Beukes se span aangesluit en onder meer ’n episode oor ’n huwelik tussen twee gay robotte geskryf.

Beukes sê: “Sarah het so baie saamgebring toe sy aan boord gekom het. Sy is snaaks en donker.”

Kort voor lank was sy heeltyds aan die skryf en ’n literêre stoomroller is losgelaat. Sedert 2007 het sy twee misdaadrillers geskryf (Exhibit A en Tooth and Nailed) en ’n memoire genaamd Pompadou Posse oor haar jeugjare toe sy as heroïenverslaafde in die strate van Parys gebly het. (“Ek ken nou nog ’n paar toertjies hiermee,” sê sy oor die slagtersmes in haar hand). Saam met medeskrywers het sy al drie grilboeke geskryf.

Die volgende een wat uit haar en Greenberg se pen verskyn, The Wards, speel af in ’n Suid-Afrikaanse staatshospitaal wat losweg op die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal gegrond is. Heelwat bloed en derms. “Dis so ’n bietjie van ’n hekelskrif oor mediese versekering. In ons boek word twee ryk mense per ongeluk na ’n staatshospitaal geneem. En dan begin die gruwelikhede.”

The Mall, die een wat tans van boekwinkels se rakke vlieg en oorsee oorwegend positiewe resensies ontlok het, gaan op sy beurt oor twee jong mense wat in ’n inkopiesentrum vasgekeer word en uitvind daar skuil ’n monsteragtige wêreld in die donker gangetjies agter die winkels.

“Dit het begin toe ek en Louis (Greenberg) gepraat het oor die moontlikheid om saam ’n boek te skryf. Ons was in ’n winkelsentrum in Johannesburg en Louis het my al die diensgangetjies gewys. Dit was aaklig. Terwyl die winkelsentrum vol glas en mooi goed was, is die gangetjies daaragter leeg en spookagtig met flikkerende ligte. Ons het net daar besef daar is ’n spookstorie om te vertel.”

Baie mense lees dié boek as ’n kritiek op die verbruikerskultuur, maar dit hoef nie noodwendig só gelees te word nie, sê Lotz.

“As ek ’n beter skrywer was, sou ek meer met maatskaplike kwessies behep gewees het. Maar vir my gaan dit meer oor ontvlugting.”

Genre-literatuur (die naam vir dinge soos gruwelboeke,?wetenskapfiksie, speurromans en chick-lit, wat in die verlede selde groot pryse verower en min aandag by resensente ontlok het) is op die punt om Suid-Afrika te verower, sê Beukes.

Toe Beukes se Zoo City, ’n boek oor ’n alternatiewe werklikheid waarin die inwoners van Hillbrow oral vergesel word deur eksotiese diere wat aan hulle toegewys word (een karakter dra ’n luidier op haar rug, ’n ander het ’n beer vir geselskap), verskyn het, was daar wel resensies en ’n mate van plaaslike aandag, maar nie naastenby soveel as wat sê maar ’n JM Coetzee of Zakes Mda sou ontlok nie.

Dis eers nadat Zoo City Brittanje se grootste wetenskapfiksieprys gewen en die nuus rugbaar geraak het dat derduisende eksemplare daarvan na Amerika verskeep is dat mense begin besef het hier broei iets nuuts.

“Dis ’n evolusie,” sê Beukes. “Ons het eers baie apartheidliteratuur gehad en toe literatuur oor die nalatenskap van apartheid. Maar nou begin ons besef ons hoef nie die hele tyd so ernstig te wees nie. Mense begin besef as ons ’n leeskultuur wil opbou, moet ons zombies ook hê. En Sarah Lotz gaan dit vir ons verskaf.”

* Johannes de Villiers is ’n redaksielid van Rapport.


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 11-18°C High level clouds. Mild. Pta: 3-21°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-17°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 1-20°C Morning clouds. Mild.
Dbn: 9-22°C Sunny. Mild. PE: 12-19°C High level clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!