Kuier-en-boekbesprekings louter plesier

2012-06-30 15:18

Stellenbosch. Vroegoggend. Ek sit met ’n koppie koffie voor my en wag vir die ander in my leeskring. My gedagtes dwaal na die Sestigers.

Toe my Afrikaans-onderwyser ons destyds van die Sestigers vertel het, was ek hopeloos verlief – om redes veel minder lofwaardig as hul literêre werke of politieke uitsprake. Nee, ek wou gewoon ook deel wees van so ’n groep waar idees oor boeke en skryf uitgeruil word.

Ek was toe nog hopeloos romanties oor skrywers en die kreatiewe proses. Ek het elke vakansie getrou dagboek gehou in kerslig. Die kerslig sou die nodige mistiek en meriete aan die proses verleen...

Intussen is my romantiese idees getem: Skrywers is nie gode nie en boekemaak is gewoon harde werk. Jy het beslis (en verál) nie kerslig nodig nie.

Maar ek het my groep gekry: ’n leeskring.

Vergeet dat leeskringe slegs ’n skinderverskoning vir verveelde huisvroue is. Lede wissel van ingenieurs tot leerlinge. En dis deesdae hoogmode om aan so ’n groep te behoort – onthou die Oprah Book Club?

Hier by ons? Die leeskring is al ’n eeu oud.

In 1912 stig Mabel Malherbe, vurige ondersteuner van genl. Hertzog se Afrikaans/Nederlands-taalbeleid, die eerste een. “Laat ons ’n lesende volk wees,” het haar vriendin M.E.R. gesê.

Mabel begin toe die Afrikaans-Hollandse Leesunie in ’n sinkgeboutjie in Rissikstraat, Pretoria, as saamkomplek. Al ken die meeste lede net Engels as leestaal, sorg Mabel dat hulle Nederlandse boeke bespreek. En die vroue volhard, diep onder die indruk dat hulle ’n nuwe taal help ontwikkel.

Meestal skryf hulle hul referate eers in Engels en vertaal dit dan in Nederlands. Teen 1940 is die Leesunie so gewild dat nog ’n tak, die Mabel Malherbe- Leesunie, gestig word. Albei leesunies bestaan nog, met van die voorste taalkundiges en skrywers wat deur die jare lede was.

Rondom 1938 word die Durbanville-Leesunie gestig, ook om mense aan die lees te kry, en tot vandag vergader hulle nog elke eerste Dinsdag van die maand in die biblioteeksaal. Dit is ’n formele leeskring waar al die genres, in Afrikaans en Engels, hanteer word. Voorheen het die lede self besprekings gelei, maar deedae reël hulle sprekers.

Die goeie leeskring, kom ek agter, handhaaf ’n fyn balans tussen die formele boekbespreking en kuier. Soos die Kuilsrivier-Leeskring, waar die ledetal tot so 20 beperk word en waaruit nuwe groepe gevorm word. Só het leeskringe vir onderskeidelik vroue, mans en kinders ontstaan. Die lede kuier om die beurt by mekaar se huise en die gasvrou/gasheer lei die boekbespreking en sorg vir lekkernye.

En dan is daar dié leeskringe waar die gasvrou maandeliks ’n bedrag kry waarmee sy boeke koop wat onder die lede versprei en dan bespreek word.

Geen skrywers word genooi nie en die fokus is op ’n gesellige gekuier rondom ’n wye verskeidenheid boeke uit verskillende genres.

Dis waar my leeskring losweg inpas, al kom ons eerder in ’n koffiewinkel of restaurant bymekaar pleks van mekaar se huise. Maar geen gasvrou wat die bespreking lei of boekkeuses bepaal nie, en meer as een boek per maand kom aan die bod. Omdat baie van die lede in die boekbedryf is, kuier ons liefs om boeke as om formele boekbesprekings te hou. En kom ons bymekaar, daag elkeen op met ’n hopie boeke van sy of haar rak wat ons onder mekaar uitdeel. Meer vriendekring as vergadering. En jy weet nie een lid se idees oor ’n bepaalde boek sal afgeskiet word nie.

En, so blyk dit, leeskringe het ’n beduidende invloed op die boekverkope in ons land. Hoe meer boeke, hoe sterker ons leeskultuur; hoe sterker ons leeskultuur, hoe meer boeke word aangekoop.

Vat nou die Tussen die lyne-leeskring in Durbanville as voorbeeld. Dié leeskring fokus hoofsaaklik op nuwe Afrikaanse fiksie, koop vooraf die betrokke boek en nooi maandeliks ’n skrywer. As die skrywer boonop bereid is om boeke te onderteken, daag die lede op met sy/haar boeke, waaronder ook ouer werke van die skrywer. Só ’n leeskring is menige skrywer (en uitgewer) se droom.

Maar nou is my koffie koud, en die lede van my leeskring kom een vir een hier aan. En soos altyd is ek kinderlik opgewonde oor met watter skrywer ek dié keer gaan kennis maak, watter boek soos ’n ryp granaat vir my oopgebreek gaan word.

Maar laat ek nog net dit sê: Gaan kry vir jou ook ’n leeskring. Om soos ’n Hollywood-ster voor die kaggel te sit en brei, is ou nuus. ’n Eeu lank al. Rêrig.

Madri Victor is ’n manuskripontwikkelaar.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-19°C Sunny. Mild. Pta: 5-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-18°C Sunny. Mild. Bfn: 3-22°C Sunny. Mild.
Dbn: 10-25°C Sunny. Mild. PE: 15-26°C Sunny. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!