Los ons liefdesverhale uit, asseblief!

2010-02-06 15:05

Wilna Adriaanse en hara seun, Beer, wat lid us van die groep Zinkplaat. Foto: Michael Hammond

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Elke vyf sekondes verkoop ’n Mills & Boon-boek in Engeland, volgens die M&B-webwerf, en in sowel Amerika as Engeland behou dit steeds die grootste aandeel van die boekemark.

Volgens Romance Writers of America (RWA), die vernaamste nie-winsgewende organisasie in die genre, het romantiese fiksie twee jaar gelede meer as $1,37 miljard (sowat R13 miljard) net in Amerika gegenereer en laas jaar was byna 14% van alle gepubliseerde boeke romantiese fiksie, aldus Business of Consumer Book Publishing.

In Suid-Afrika kan geen ander genre, wat syfers betref, by liefdesverhale kers vashou nie. Uitgewers publiseer maandeliks ’n verskeidenheid nuwe boeke, asook omnibusse van bestaande titels met die 74-jarige Ena Murray met ’n hele 131 titels op haar kerfstok. Volgens die toonaangewende Nielssen-indeks was daar in 2008 vier en in 2009 drie van Ena Murray se omnibusse onder die toptienverkopers van plaaslike fiksie.

En tog, ondanks die kommersiële sukses van liefde-tussen-die-blaaie word geen ander genre so bespot en geminag nie. In sy geheel word selfs meer daarop neergesien as op strokies of wetenskapfiksie.

Ironies kom die kritiek meestal van mense wat nog nooit wyd gelees het in die genre nie. Dit word dus sonder die nodige studie afgemaak as minderwaardig, bloot omdat die massas dit verslind. Dit is te betwyfel of enigiemand wat nie belese in literêre fiksie is nie dit ooit sal waag om alle literêre fiksie as vervelig af te skryf. En tog sal andersins intelligente mense – wat miskien dalk een keer op hoërskool ’n Barbara Cartland gelees het – sonder om te blik of te bloos luidkeels die ganse genre as belaglik afmaak.

In haar essay “Defeating the Critics – What We Can Do about the Anti-romance Bias” (1998) reken die Amerikaanse akademikus en romanse-skrywer Jennifer Crusie die genre word gehaat omdat dit die paternaliste sowel as die feministe uitdaag. Sy sê die “hygroman” (een van die vele neerhalende etikette) gaan die patriargale stelsel teen omdat dit vooronderstel die vroulike ervaring is gelyk aan en net so belangrik as dié van mans, dat vroue ook seks geniet en dat liefde ernstig en belangrik is.

Radikale feministe wil weer slange vang omdat baie liefdesverhale toegee heelwat vroue hou van tradisioneel “vroulike” dinge, geniet dit soms om seksueel gedomineer te word, dat vroue, soos alle mense, liefde en verhoudings nodig het, en dat vroue ’n gelukkige einde verkies.

Nou kyk, ek is ’n feminis. ’n Post-feminis as jy dit so wil noem. Ondanks ’n gelukkige huwelik (met ’n man) is ek in my hoedanigheid as rubriekskrywer vir Women24.com al ’n paar keer deur my lesers as ’n man-hatende, militante lesbiër beskryf. (Sien gerus: www.women24.com)

En tog verstaan ek nie rêrig die vooroordeel teenoor liefdesverhale nie. Gelyke regte is vir my vanselfsprekend, maar ek beskou nie noodwendig alles wat tradisioneel vroulik is as deel van die patriargale wip nie. As ’n denkende mens wil ek in ’n wêreld leef waarin emosionele regverdigheid, liefde, belangrike verhoudings en gelukkige eindes net soveel bestaansreg het as intellektuele regverdigheid, kennis, belangrike gedagtes en neerdrukkende insigte.

En dit word sterker in die liefdesverhaal uitgebeeld as in die meeste ander fiksie.

Wil die intelligentsia my eerlikwaar laat glo daar skort iets met my omdat ek somtyds van die meer tradisioneel vroulike aspekte van die lewe wil lees? Of probeer die kritici my rêrig oortuig dat daar nie so iets soos ’n gelukkige einde is nie? Dis tog sekerlik net soveel bog om te sê alles eindig sleg as om te sê alles eindig goed? Jammer, maar my lewe is nie die een of ander post-modernistiese nagmerrie waarin niks meer betekenis het en waar ek afgesonder van almal is nie. Noem my nou maar naïef en onnosel, maar ek vind baie meer aanklank by ’n wêreld waarin ’n gewone vrou verlief raak as wat ek dit, byvoorbeeld, by Michel Houellebecq se uitsiglose maar hoogaangeskrewe Atomised (2000) gevind het.

Die meeste akademiese fiksie wat ek op universiteit (met Virginia Woolf as uitsondering) moes lees, het gehandel oor manlike protagoniste, en is vertel deur manlike outoriteite in ’n manlike, liniêre vorm. In teenstelling hiermee het selfs die vrotste voorbeelde uit die liefdesverhaal-genre (en glo my, daar is baie vrottes) my laat voel asof dit my lewe van verhoudings, klein obsessies, groot en klein bekommernisse en daaglikse detail weerspieël.

Nie in feëverhale, die tradisionele letterkunde of modernisme word vroue so ’n aktiewe rol in hul eie stories gegee soos in goeie liefdesverhale nie, waar die hoofkarakter se eie emosionele dapperheid en eerlikheid haar toekoms en geluk bepaal.

Akademici kritiseer meestal ook die liefdesverhaal omdat dit kwansuis “fantasie” sou wees. Die Amerikaanse skrywer Melissa Pritchard reken ’n liefdesverhaal “perpetuates something slightly dangerous, that there’s this no­tion, that there’s this perfect love out there, and it can distract you from the work of loving yourself”. Dit kan dalk waar wees van boeke wat 20 jaar gelede geskryf is, maar Pritchard het duidelik nog nie die nuutste boeke in die genre gelees nie. Skrywers soos die Amerikaanse Nora Roberts, Julia Quinn, Jayne Ann Krentz, Susan Elizabeth Phillips, J.R. Ward, Marion Keyes (Engeland), Emma Darcy (Australië) en Mary Balogh (Kanada) wys liefde is nie perfek nie, nie maklik nie, dat dit baie keer harde, pynlike werk is, maar vir albei partye die lewe voller en ryker kan maak.

In Crusie se essay “Romancing Reality: The Power of Romance Fiction to Reinforce and Re-vision the Real” (1997) beweer sy die kritici wat die genre uitkryt as ’n vermomming van die werklikheid wat onnosele lesers met ’n paternalistiese slap riem vang, hul kritiek op veral twee valse aannames grond.

Eerstens, reken sy dat die meeste kritici lui akademici is wat veronderstel dat hulle ’n genre verstaan – veral so ’n reusagtige een – nadat hulle ’n handvol boeke gelees het. Terloops, as ek ’n rand gehad het vir elke keer dat ek moes hoor “al die boeke is mos dieselfde”, sou ek dalk gemakliker gevoel het oor die spul Fifa 2010-kaartjies waarvoor ek pas aansoek gedoen het.

Die tweede valse aanname, reken Crusie, is dat die enigste werklikheid wat die moeite werd is om oor te skryf, die polities korrekte een is. Dus, is dit alles goed en wel vir ’n vrou om oor “grootse dinge” te skryf, maar alledaagse “vrouegoed” is nie belangrik nie en het nie bestaansreg nie. Kyk byvoorbeeld na die Twilight-fenomeen van Stephenie Meyer. Veral mans is woedend omdat die rol van ’n gewelddadige, wrede, vegtende vampier deur vroue oorgeneem is en Edward Cullen, die vampier, nou ’n skitterende minnaar is – eerder as ’n bakleier.

Ander kritici, soos Jeanne Dubino in haar boek The Cinderella Complex: Romance Fiction, Patriarchy, and Capitalism (1993), meen dis net vroue wat liefde, romanse en intimiteit in hul “ware” lewe kortkom wat dit dan plaasvervangend in liefdesverhale kry.

Hierdie aanname is bloot foutief en oningelig aangesien talle studies (Dr. Christiane Northrup, - “Turn up the Heat on Your Desire”, Psychology Today, Sep/Oct 95; “Romance Novels: Reading for Love”, The Journal of Sex Research, 2/1/2001) al bewys het dat vroue wat liefdesverhale lees ’n gelukkiger en aktiewer seks- en liefdeslewe het as vroue wat glad nie daarin belang stel nie.

Laastens is daar die idee dat liefdesverhale slegs oor fluff handel. Verkeerd. Liefdesverhale het dalk ’n gelukkige einde, maar hul temas sluit in verkragting, kindermolestering, dood van ’n geliefde of ’n kind, aborsie, ontrouheid, alkoholisme, onvrugbaarheid, depressie en natuurlik die soeke na liefde en die stryd teen hopeloosheid. (Bygesê, Lapa (Romanza) vra van sy skrywers dat dié sake liefs gelaat moet word. Dalk omdat Suid-Afrikaners geweldvoos is?)

In aansluiting hierby, was ek nogal teleurgesteld met die Afrikaanse aanbiedinge wat ek gelees het. Toegegee, ek het nog nie so wyd in Afrikaans gelees soos in Engels nie en wil nie dieselfde fout maak waarvan ek die Engelse kritici beskuldig nie.

Hoewel liefdesverhale ’n ou verskynsel in Afrikaans is, is van die groot verkopers wat ek gelees het, steeds onnodiglik naïef en outyds. Ena Murray, Louise du Toit en Maretha Maartens se temas, taalgebruik en siening van die lewe is eenvoudig te ouderwets na my smaak.

Ook die stemtoon van meer moderne boeke, soos Marijke Greef en Jaybee Roux s’n, is teleurstellend.

Dis moeilik om ons diverse samelewing met sy vermenging van tale en style vas te vang en baie Afrikaanse liefdesromans kry dit ongelukkig nie reg nie – die karakters klink dikwels ongeloofwaardig of paternalisties wanneer die stem van ander kulture nageboots word.

Dis duidelik dat die grootste gros plaaslike lesers van my verskil, want Ena Murray se boeke verkoop meer as enige ander vroulike skrywer plaaslik. Soek ons lesers dalk ’n toevlug na ’n eenvoudiger tyd?

’n Paar voorbeelde waar die toon onoortuigend, ouderwets of seksisties klink:

Skoonlief en die dirigent – Marijke Greef:

“Tshepiso kyk verontwaardig na haar. ‘Natuurlik! Ek is nie agterlik nie. Ek weet ook iets van kultuur af. My klein sustertjie wil so graag viool speel. Ek het al vir haar ’n DVD van hom gekoop.’ ”

“… hy is slangbollie op die bodem van die see.” (Sê die heldin vir ’n groot dwelmsmokkelaar wat verantwoordelik is vir haar broer se dood.)

Altyd somer – Jaybee Roux:

“ ‘Ons praat nie verder nie.’ Hy loop by haar verby voordeur toe. ‘Kom skink koffie.’ Dis die eerste keer dat sy hom soos ’n mán hoor klink…”

Ver lok die ligte en Die juigende oes– Louise du Toit:

“Hy wonder wat doen die juffer.” (Juffer?)

“Hy was laf om haar op so ’n studentikose manier te bejok.”

“… hy hoop nie vroutjielief praat eendag van hom as dominee?…” (Vroutjielief? Eerlikwaar.)

Wilna Adriaanse is een van die uitsonderings. Haar aanslag is nuwer en meer genuanseerd – en haar boeke verkoop. Rebecca is einde laas jaar herdruk en die totale verkope het die 10 000-merk oorskry. In 2008 was haar Die boek van Ester op Exclusive Books se The List en haar Omnibus 1 (2009) boer al maande lank op die lys van 20 Afrikaanse topverkopers.

Ander uitgewers is uiteraard bewus van dié sukses. Daarom sien ons vanjaar ’n nuwe afdeling, Sapphire, by Kwela Uitgewers. Dit fokus veral op jong swart meisies en gaan oor die verskeie eise wat dié moderne meisies liefdesgewys ervaar – na dié uitstekende konsep sien ek baie uit.

Wat onderskei dan ’n goeie van ’n vrot liefdesverhaal? Vir voorbeelde van uitstekende liefdesverhale hoef ’n mens nie verder as die heimlike moeder van die liefdesverhaal, Jane Austen, te kyk nie. Met ander woorde, goeie liefdesverhale is, soos enige ander pakkende fiksie, karaktergedrewe: Die karakters moet geloofwaardige, volronde mense wees met wie die leser kan identifiseer.

En om ’n emosioneel oortuigende én emosioneel intelligente storie te skryf oor hoe twee mense op mekaar verlief raak en persoonlike groei ervaar, is alles behalwe maklik.

Wilna Adriaanse sê: “Lesers hou van karakters waarmee hulle kan identifiseer, hulle lees agter ’n sterk intrige aan en die liefdesaspek is maar net een deel van die storie. Interessant genoeg, vroue van alle ouderdomme, uit alle dele van die land en uit alle beroepe lees liefdesverhale. En deesdae raak al hoe meer mans dapper genoeg om te erken hulle lees dit ook.”

So, voordat jy volgende keer jou neus optrek, gee die genre ’n kans. Jy kom dalk net agter jy is glad nie so sinies is as wat jy gedink het nie.

Lili Radloff is die assistentredakteur van Women24.com en die skrywer van die gewilde aanlynrubriek Living with Lili.


WAT PRESIES IS ’N LIEFDESVERHAAL?

Die Romance Writers of America beskryf dit as ’n storie oor twee mense wat verlief raak, met ’n emosioneel bevredigende, optimistiese einde. Jane Austen se Pride and Prejudice (1813) is dus ’n liefdesverhaal, maar Anna Karenina (1878) van Leo Tolstoi nie.

Daar is deesdae twee soorte:

1. Reeks- of kategorie-boeke wat gereeld onder dieselfde druknaam verskyn, soos Mills & Boon, Harlequin en Silhouette en plaaslik Satyn, Jasmyn, Melodie, Hartklop en Mirre (NB Uitgewers), asook Romanza (Lapa).

2. Enkeltitel-liefdesverhale wat individueel en ongereeld uitgegee word en nie deel is van ’n reeks nie. Hulle is gewoonlik langer; met minder uitgewersvoorskrifte. Die storie is ook gewoonlik meer uitgebreid met bykarakters.

Die vrouehoofkarakter se agtergrond is belangrik en haar emosionele groei lê aan die hart van die boek.

Suid-Afrikaanse voorbeelde daarvan sluit in Rebecca(Wilna Adriaanse) en as meer uiterse voorbeeld Griet skryf ’n sprokie van Marita van der Vyver.

Sub-kategorieë in albei soorte sluit in geskiedkundig, bonatuurlik, avontuur, Christelik, gay, medies en so meer.

Die uitgewer Madri Victor van NB verduidelik hul drukname só: “Melodie (tradisioneel), Satyn (lekker warm), Hartklop (speel in ’n mediese omgewing af) en Mirre (religieuse inslag).

“Ons probeer iets vir elke smaak publiseer.’’


Om Ena Murray se Omnibus 23 te bestel, kliek hier.

- Rapport

binne rapport

Weather
Lottery
Cpt: 21-31°C Sunny. Warm. Pta: 17-30°C More sun than clouds. Warm.
Jhb: 15-28°C Afternoon clouds. Mild. Bloem: 18-27°C Scattered showers. More clouds than sun. Pleasantly warm.
Dbn: 20-29°C Tstorms late. Mostly cloudy. Warm. PE: 19-22°C Scattered showers. Morning clouds. Cool.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

VOLKSWAGEN

Jetta 5 2.0 TDi Sportline Dsl
2006
R 195,995.00

TOYOTA

RAV4 2.0 4x4 5-dr MY00
1997
R 75,500.00

TOYOTA

Corolla 160i GLE MY05
2005
R 99,990.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chill out in Knysna

Spend 2 nights at the Turbine Boutique Hotel & Spa in Knysna's gorgeous Thesen Island for R3058 per person sharing. Includes return flights, taxes, car hire and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

gobii eReader nou beskikbaar

Koop die gobii eReader en gobii-omhulsel vir iemand spesiaal vir Valentynsdag. Gratis aflewering binne 24-uur. Koop dit nou.

Koop Friends with Benefits en wen

Koop die DVD of Blu-ray en staan ’n kans om 1 van 5 "Love You"-blikke met koekies te wen. Die wedstryd sluit 9 Februarie. Koop dit nou.

Koop 4 romans vir R79,96

Koop enige 4 romantiese verhale vir slegs R79,96 terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Geskenke vir hom

Koop ’n klassieke skuimskeerborsel vir R279 vir die man in jou lewe en kry 15% afslag op ’n uitgesoekte reeks naskeermiddels. Koop dit nou.

Dit is al weer ’n fleurige Valentynsdag!

Daar is fleurige spesiale aanbiedinge by kalahari.com met die gobii eReader, Friends with Benefits, parfuums en rose wat nou beskikbaar is. Koop dit nou.

2 DVD's vir slegs R129

Winskopie van die week

Sit snoesig teenaan jou geliefdes hierdie Valentynsdag met ons aanbod van 2 DVD's vir slegs R129. Aanbod geldig solank vooraad hou. Koop dit nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
There are new stories on the homepage. Click here to see them.