Ongesteld of kreatief?

2010-07-03 17:09

 “Nadat my eerste twee slanke digbundels verskyn het, is ek jou werklik waar in ’n onderhoud gevra nie of ek gaan selfmoord pleeg nie, maar wanneer. Tensy jy bereid was om jou lewe te waag – of liewer, daarvan afstand te doen – kon jy nie verwag om ernstig opgeneem te word as vroulike digter nie. So het die mitologie bepaal.”

Dit is die woorde van die Bookerpryswenner Margaret Atwood in Negotiating with the Dead: A Writer on Writing (2002). Die mite waarna sy verwys, is dié van die gefolterde, versteurde genie soos verpersoonlik deur Sylvia Plath – die digter wat haar eie lewe op 11 Februarie 1963 geneem het deur haar kop in ’n gasoond te steek.

Maar Plath het vele voorgangers en, helaas, vele navolgers. Die biografieë van talle skrywers, digters, komponiste en visuele kunstenaars wek die indruk dat ’n ongesonde, ongebalanseerde gemoedstoestand dikwels ’n kreatiewe en selfs briljante gees huisves.

Suid-Afrika se eie Sylvia, Ingrid Jonker, het in 1965 die see ingeloop by Drieankerbaai in Kaapstad.

En te oordeel na al die belangstelling wat daar steeds in die werk, maar veral lewe, van Plath en Jonker bestaan – rolprente, teaterstukke, biografieë ensovoorts – kan ’n mens seker wees dat romantici, oud en jonk, steeds aangegryp word deur hierdie ikoniese martelaars vir die suiwer kuns wat blykbaar vloei uit vreeslose kompromisloosheid en “geestesversteurings”.

Die beroemde reëls “The blood jet is poetry / There is no stopping it” (uit “Kindness”) het Plath tien dae voor haar selfmoord geskryf.

Dit is hierdie goties-romantiese beeld wat in die kollektiewe bewussyn bly vassteek wanneer die verband tussen kreatiwiteit en depressie met selfmoordneigings, of bipolariteit, ter sprake kom.

Ek was self in die neerslagtigste tye van my twintigs soos ’n mot om ’n kers aangetrokke tot die idee dat depressie (wat in baie opsigte bloot gelyk is aan asosiale gedrag), ’n morbiede preokkupasie met die dood, slaapsteurings, onproduktiwiteit en selfhaat tog ook die sleutel tot groot kuns is.

Of ten minste die gevolg van diepgaande insig in die menslike toestand en die nutteloosheid van ons aardse strewe; ’n soort bevestiging dat jy spesiaal is omdat jy meer voel, dieper kyk en erger ly aan elke dag.

Die joernalis, draaiboekskrywer en dramaturg Virginia Heffermann skryf spitsvondig oor die versoekings en vertroostende illusies wat depressie inhou vir romantiese, skeppende geeste in haar essay “A Delicious Placebo” – een van vele insiggewende stukke uit Nell Casey se bloemlesing Unholy Ghost: Writers on Depression (2001).

Heffermann sê sy het haar eerste depressiewe episode as ’n titaniese stryd teen die magte van duisternis ervaar en dit het haar lewe groot, verskriklik en vol tragiese betekenis laat lyk. (Jane Kenyon se lang gedig “Having it Out with Melancholy” beskryf die worsteling met depressie ook as ’n struweling met ’n bonatuurlike mag, ’n “unholy ghost”.)

Of soos Ronelda Kamfer in haar gedig “bipolarhoney” sê:

“I’m a creep, I’m a weirdo.
What the hell am I doing here?
I don’t belong here.
–Radiohead, ‘Creep’
ek wens ek kon opstaan soos gister
gaan was, aantrek, gaan werk soos gister
maar
vandag is ’n ander gister
vandag is alles wat mooi is, lelik
en alles wat lelik is, ek
miskien is môre beter
as ek net deur die gevaar
van vandag
kan kom”

Vir Heffermann was melancholie ’n dialek wat net sekere mense kon praat en sy het hierdie sielsgenote opgesoek. Daarom het sy ook lank weerstand gebied teen die idee dat sy dalk siek, oftewel chemies ongebalanseerd is.

Sy het met gemengde gevoelens na haar eerste pakkie anti-depressante gekyk: Bang dat dit haar nie uit die put van haarself sou red nie, en bevrees dat dit wel sal werk en daarmee ’n groot vraagteken agter al haar duister insigte en haar hele dapper oorlog teen die bose geeste in die lug sou plaas.

Sedertdien leef sy teësinnig in “terapieland”: “I’m like a former skier with a bad hamstring, wishing that I could have lived forever on a speedy and breathless high, and still having trouble facing that my substandard physiology won’t allow it. So I have to live apart from the action, a few miles away, out in safer, suburban Therapyland. But I shouldn’t complain! Or the depression sentries might shoot me their warning again: nice little life here; wouldn’t want anything bad to happen to it.”

Maar wat is die verband dan tussen depressie, bipolariteit en die kreatiewe proses?

Hierdie vraag bly steeds so ’n relevante raaisel dat Poetry International in Rotterdam, een van die grootste poësiefeeste ter wêreld, “Poëzie, waanzin en melancholie” in 2007 as feestema gekies het.

Een van die bydraers tot die program was Menno Wigman, ’n hoogaangeskrewe Nederlandse digter wat drie maande in die Arntsz Hoeve- psigiatriese inrigting by Den Dolder deurgebring het in die hoop om ’n bloemlesing saam te stel met gedigte van die pasiënte. (Die beroemde Nederlandse digter Gerrit Achterberg is ook ’n tyd lank hier behandel.)

In ’n lesing oor dié ervaring, waaroor hy die dagboek Het gesticht (2007) gepubliseer het, het Wigman toegegee dat hy bedroë daarvan afgekom het. Hy het vinnig vasgestel die pasiënte het nie die nodige estetiese afstand op hul skryfpogings om dit behoorlik af te werk nie.

Hulle kon nie koel en objektief met die oë van ’n ander na hul tekste kyk nie. Toe hy aan ’n pasiënt noem dat hy dikwels ses weke lank aan een gedig skaaf, het sy hom aangekyk asof hý mal is.

By terugskoue was Wigman vies vir homself oor die romantiese idees omtrent die verband tussen poësie en waansin wat hy so lank gekoester het.

Hy kom tot ’n eenvoudige slotsom: Bekyk ’n mens die lewe van digters soos Gerrit Achterberg, Jan Arends, Friedrich Hölderlin, Gérard de Nerval, Nicolaus Lenau, Jakob van Hoddis, Robert Lowell, Anne Sexton en John Berryman van nader, stel jy gou vas dat hulle groot kuns geskep het ten spyte van van hul “geestesversteuringe”.

Is dit dus net toeval dat soveel skrywers en veral digters stoei met depressie en sy gevreesde ouboet, bipolariteit?

Allermins, volgens Kay Redfield Jamison se seminale boek Touched with Fire – Manic-Depressive Illness and the Artistic Temperament (1993). Depressie en bipolariteit se kenmerkende en vinnig veranderende siklus van gemoedstoestande is ’n ekstreme spieëlbeeld, ’n groteske karikatuur van die tipiese kwiksilwer-kunstenaarstemperament.

Jamison kon met haar navorsing onder 47 vooraanstaande Britse kunstenaars en skrywers onder meer bewys dat die voorkoms van gemoedsversteurings onder hierdie groep gemiddeld agt keer hoër is as onder die algemene bevolking. Onder digters is die waarskynlikheid van depressie en/of bipolariteit 11 keer hoër. Verskeie ander soortgelyke studies deur onder andere

Andreasen (1987), Schildkraut & Hirshfeld (1990) en Akkisdan & Akkisdal (ongepubliseerd) bevestig haar bevinding.
Jamison argumenteer dat die simptome van ligte manie of hipomanie (hoë energievlakke, oordrewe selfvertroue, rusteloosheid, spraaksaamheid, onvanpaste grappies of woordspel, ’n verskerpte vermoë om gedagte-spronge te maak en ongewone assosiasies en verbande te sien) en ligte melancholie (introspeksie, selftwyfel, behoefte aan afsondering) op essensiële wyse bevorderlik is vir die skep van kuns. Die uitsonderlike werk en idees wat in ’n lig-maniese kreatiewe koors geskep word, kan in ’n melancholiese fase met vrug hersien, geredigeer en afgewerk word.

Sy beklemtoon egter dat kunstenaars, soos almal anders, lamgelê word deur volslae manie of depressie. Hierdie ekstreme gemoedstoestande wat so dikwels tot selfmoord of roekelose ongelukke lei, speel dus nie ’n groot, direkte rol in die skep van kuns nie.

En enige siening wat die redes vir selfmoord in die eerste plek in tragiese gebeure of instellings ten opsigte van kuns soek, verwar die daad met ’n rasionele besluit. Selfmoord is eerder, soos Al Alvarez in The Savage God – A Study of Sui cide (1971) skryf, ’n natuurlike reaksie op ’n onnatuurlike toestand.

Die bipolêre Amerikaanse kunstenaar Ralph Barton se selfmoordbrief uit 1931 bevestig Alvarez se stelling treffend:
“Everyone who has known me and who hears of this will have a different hypothesis to offer, to explain ‘why I did it’. Practically all of these hypotheses will be dramatic and completely wrong. Any sane doctor knows that the reasons for suicide are invariably psychopathological. Difficulties in life merely precipitate the event and the true suicide type manufactures his own difficul-ties. [...] I have run from wife to wife, from house to house and from country to country in a ridiculous effort to escape from myself. In doing so, I am very much afraid that I’ve spread a good deal of unhappiness among the people who have loved me.”

Deur te glo groot kuns en letterkunde blom natuurlik uit vernietigende, uitmergelende patologieë, versterk ons eintlik ’n gevaarlike mite rondom depressie en ander geestesversteurings.

Want om geestesongesteldhede te verheerlik as ’n bron van inspirasie is die keersy van die munt wat glo goeie oefening, geloof en die regte dieet is al wat nodig is om klinies depressiewe en/of bipolêre mense reg te sien. Albei sienings weier om die mediese, dikwels oorerflike werklikheid van hierdie siektes te verreken.

Sou Plath, Jonker en Kurt Cobain vandag dieselfde status gehad het as hulle aan kanker oorlede is? En wat is kliniese depressie en bipolariteit anders as ’n potensieel dodelike kanker van die gemoed?

Plath se goeie vriend, die digter en kritikus Al Alvarez, stel dit só in The Savage God:

“It [Sylvia’s suicide] was a mistake, then, and out of it a whole myth has grown. I don’t think she would have found it much to her taste, since it is a myth of the poet as a sacrificial victim, offering herself up for the sake of her art, having been dragged by the Muses to that final altar through every kind of distress. In these terms, her suicide becomes the whole point of the story, the act which validates her poems, gives them interest and proves her seriousness. [...] The pity is not that there is a myth of Sylvia Plath, but that the myth is not simply that of an enormously gifted poet whose
death came carelessly, by mistake, and too soon.”

So kom ons gee die verraderlike muses van melancholie en manie wat hulle toekom. Kom ons vier ook die werk van Plath, Jonker en kie. as ’n triomf van wilskrag en dissipline oor die verstrengelde swakhede van vlees en gees.
Maar kom ons beoordeel hul nalatenskap volgens die kriteria wat enige goeie letterkunde geld, en hou op om kunstenaars wat ongelukkig hul eie lewe geneem het in ’n irrasionele waas van vertwyfeling as ikone te huldig wat die hoogste prys ter wille van integriteit en selfbehoud betaal het.

Ons is dit verskuldig aan hulle wat verdwaas agtergebly het en aan almal wat verbete aanhou tonnel na lig, al is die wêreld om hulle skynbaar uitgedoof.

Plath en Ted Hughes se seun, Nicholas, het hom verlede jaar op 47-jarige ouderdom opgehang ná ’n lang stryd teen depressie. Hy was ’n gerekende marine-bioloog. In sy gedig “Life after Death” uit The Birthday Letters (1998) skryf Hughes die volgende oor Nicholas:

“Your son’s eyes, which had unsettled us
With your Slavic Asiatic
Epicanthic fold, but would become
So perfectly your eyes,
Became wet jewels,
The hardest substance of the purest pain
As I fed him in his high white chair.”

Die bloed wat spuit uit psigiese wonde (Plath se “blood jet”), is immers nie net poësie nie – dit is ook die versinnebeelding van pyn wat mense lewend opvreet.

In die week van Plath se selfmoord was daar 99 ander geregistreerde selfmoorde in Brittanje alleen en volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie neem minstens 1?000 mense per dag wêreldwyd hul eie lewe.

Na raming ly ongeveer twee derdes van diegene wat selfmoord pleeg aan depressie of bipolariteit. Maar ’n bitter klein fraksie laat enige boeke, komposisies of kunswerke agter.

Op 19 Julie vanjaar sal dit 45 jaar wees sedert Ingrid Jonker die see ingeloop het, maar dit was net die hartseer einde en nie die punt van haar lewe nie.

Danie Marais is ’n bekroonde digter.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weather
Lottery
Cpt: 21-31°C Sunny. Warm. Pta: 17-30°C More sun than clouds. Warm.
Jhb: 15-28°C Afternoon clouds. Mild. Bloem: 18-27°C Scattered showers. More clouds than sun. Pleasantly warm.
Dbn: 20-29°C Tstorms late. Mostly cloudy. Warm. PE: 19-22°C Scattered showers. Morning clouds. Cool.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

VOLVO

S40 2.0 MY06
2007
R 185,000.00

TOYOTA

Corolla 1.3 Professional MY10
2011
R 149,950.00

VOLKSWAGEN

Polo Sedan 1.4 Comfortline
2011
R 176,999.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chill out in Knysna

Spend 2 nights at the Turbine Boutique Hotel & Spa in Knysna's gorgeous Thesen Island for R3058 per person sharing. Includes return flights, taxes, car hire and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

gobii eReader nou beskikbaar

Koop die gobii eReader en gobii-omhulsel vir iemand spesiaal vir Valentynsdag. Gratis aflewering binne 24-uur. Koop dit nou.

Koop Friends with Benefits en wen

Koop die DVD of Blu-ray en staan ’n kans om 1 van 5 "Love You"-blikke met koekies te wen. Die wedstryd sluit 9 Februarie. Koop dit nou.

Koop 4 romans vir R79,96

Koop enige 4 romantiese verhale vir slegs R79,96 terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Geskenke vir hom

Koop ’n klassieke skuimskeerborsel vir R279 vir die man in jou lewe en kry 15% afslag op ’n uitgesoekte reeks naskeermiddels. Koop dit nou.

Dit is al weer ’n fleurige Valentynsdag!

Daar is fleurige spesiale aanbiedinge by kalahari.com met die gobii eReader, Friends with Benefits, parfuums en rose wat nou beskikbaar is. Koop dit nou.

2 DVD's vir slegs R129

Winskopie van die week

Sit snoesig teenaan jou geliefdes hierdie Valentynsdag met ons aanbod van 2 DVD's vir slegs R129. Aanbod geldig solank vooraad hou. Koop dit nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
There are new stories on the homepage. Click here to see them.