Pomp toe nie eennagpassie nie
2009-11-07 23:02
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
As daar een rede is waarom die gedrukte boek en tydskrif nooit sal verdwyn nie, is dit die bedtafel in die slaapkamer.
Want ondanks die aanslag van ’n al meer verfynde, vinniger en goedkoper webmedia sal almal wat ’n leeskansie voor slaaptyd koester altyd maar leesstof-in-die-hand soek.
Nou nie dat ’n mens gemaklik met Pomp 09 kan lê en lees nie.
Dié lywige meneer se bykans 500 bladsye is van goeie glanspapier en dus nie een vir in een hand vashou nie. Maar dat hy geléés – en gekyk wil word – is gewis.
Toe Pomp 08 verlede jaar verskyn het, het sommige sinici gemeen dis bloot ’n Afrikaanse liefdesdaad in die uitgewersbedryf, een binne ’n beperkte dampkring.
Maar steeds duidelik in navolgeling van die gewilde en dekades oue Belgiese Snoecks (wat elke Oktober verskyn, stylvol met sy vinger op die jongste tendense), het die plaaslike publikasie gou die kol getref. Die nuwe een is 40 bladsye vetter, die inhoud het ’n kerf of wat opgeskuif – en dit alleen is meer as genoeg forensiese bewys dat Pomp inderdaad laat wiel wat betref die eietydse Afrikaanse leser.
Die stouterige, nie-amptelike subtitel van die nuwe joernaal – die Morning After -uitgawe – kan dus as Griffel Media se reaksie op die swartgalliges se vooruitsigte gelees word. Dit bewys dat die vorige en eerste een geen one-night stand was nie.
En die redes is klaarblyklik: die samestellers het ’n goeie idee wie om te kies, wat om te vra, hoe om dit te gebruik en hoe om daaraan gestalte te gee in joernaalvorm (iets tussen ’n boek en ’n glanstydskrif).
’n Goeie tydskrif of joernaal ken die fyn kuns van balans: net genoeg, net die regte mengsel. So wissel Pomp se opgaaf van argitektuur, letterkunde, kuns, musiek tot wyn met tussen-in modes en aweregse sport.
’n Deeglike tydskrif moet ook in pas met sy tyd wees, nuuswaardig geanker in sy potensiële vervlieting en wyd oor die heersende sosiale landskap mik.
Netjiese ontwerp vang en hou die oog, goeie illustrasie (fotografie) gee lewe en die beste fiksie en joernalistiek moet in jou brein bly dreun. Jy moet kan lees en aan die slaap raak. Lees en vergeet. Lees en onthou. Lees en geïnspireerd raak om elders verder te lees.
En hiervoor kry Pomp 09, op ’n skaal van nul tot tien, om en by agt.
Verskeie bekende name is medewerkers en gee op sigself die blad ’n goeie kleim. Voeg by ’n paar minder bekendes met knap bydraes, goed gekies, netjies versorg en die versnit werk. (Steeds spelglipse, nes die oue, en as dit boonop gemaak word in die bydrae van die teksredakteur, Karen Kuhn, wonder ’n mens. Waarom Mannenburg en Guguletho? Dis tog Manenberg en Guguletu? RG)
Die kort-kortverhale skop op hoë noot af en kry gawe resonansie in die uiteenlopende stories en style van mense soos Henning Pieterse (yster-bytend), M.C. Botha (slinks-satiries), Rachelle Greeff (elegant-suiwer) en Charl-Pierre Naudé (opklits-melodies).
Soos verwag, word sake buite om die literêre ook aangeroer. Buiteboer het met Breyten Breytenbach gepraat, baie leesbaar, en Jaco Jacobs se kinderboek-oorsig is net so inskiklik soos Dorothea van Zyl se verslag oor Stellenbosch se Woordfees-geskiedenis.
Bepeinsings onder die opskrif “Gedagtes’’ het van die joernaal se sterkste bydraes, sowel in prosa as deurdagtheid. Van Jan van der Merwe se oopmaak-stuk oor Thomas Burgers tot Jean Oosthuizen se atmosferiese Hillbrow-memoires tot André Bartlett se bespiegeling oor Robert Mugabe.
Net soos die artikels oor musiek werklik meer vertel as wat jy weet: oor Anna Bender, oor David Kramer en Rian Malan.
Die reisartikels is ook uitstekend. Al is Deon Maas se eie-ekkerigheid irriterend, is sy stuk oor ’n musiektoer in Rwanda openbarend – net soos Adri-Louise van Renen se Afgaanse dagboek.
En ’n mens kan seker ook Erns Grundling en Simone Scholtz se heerlike dokumentasie van die stoeiers in die suburbs as ’n reis beskou – net soos wat Xavier Nagel en Leon Roelofse dit letterlik doen deur te kyk na kruise (na noodlottige padongelukke) langs paaie.
Maar ek het ook kritiek, hopelik opbouend. Dis frustrerend dat skrywers se name nie by gelyste artikels in die inhoudsopgawe verskyn nie. Kort inligting (net ’n reël is genoeg) oor medewerkers sal ook die waarde verbreed en die wie en wat van alle foto’s en illustrasies behoort aangedui te word.
Die fotografie is maar so-so. Dis oorwegend sentimenteel, effek-om-effek, kitsch en doodeenvoudig tegnies minderwaardig. Die visuele kunsafdeling het ook ’n hupstootjie nodig. (Die lyfverf-storie is sommer net laf.) En waarom Pomp 09? Dis so amper jaarend, waarom nie eerder ’n varser Pomp 10 nie?
Nietemin en desondanks, as jy die ideale bedmaat soek, soek niks verder nie.
* Melvyn Minnaar lewer gereeld bydraes oor die kunste vir dagblaaie.