‘Santa Gamka’ – veel meer as net ‘tong-in-die-lies’

2009-11-21 13:47

Santa Gamka deur Eben Venter. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R195.

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Wanneer die wind in die slot­paragraaf van dié ongenaakbare roman deur die murasie van die plaasopstal stoot “asof daar nooit ’n mens gewoon het nie”, klink dit na die afsluiting van ’n bepaalde fase in sy skryfwerk/oeuvre.

Met sy sesde roman, Santa Gamka, betree hy doelbewus ’n nuwe fase. Meer lyflik en minder serebraal. Die klem val op karakter en die aanslag is ligter (hoewel geensins ligsinnig nie). Deels tragie-komies; deels tong-in-die-lies.

Die hoofkarakter van Santa Gamka is Lucky Marais, ’n jong bruin man vir wie die skerpste tekens van apartheid die stert-tussen-die-beengeit van sy plaaswerkerouers is. Vanweë sy vrees om te verval in die armoede waarmee hy grootgeword het, benut hy die vryhede van die nuwe demokrasie om geld eerder as geleerdheid te bekom, al het hy ’n gawe vir taal en ’n belangstelling in letterkunde. Hy word “toevallig” ’n rentboy en voel vry, gemaklik en trots binne sy eie vel.

Maar hy’t hom lelik misgis met die vermeende vryhede wat hom in ’n nuwe Suid-Afrika beskore is. Die dorp het teen hom gedraai. Hy het hom in sy witleuens verstrik.

Dit is vanuit die helleput van ’n pottebakkersoond dat Lucky sy kort, maar gebeurlike, lewe in oënskou neem. Van sy geboorte en sinlike ontwaking op die plaas Bethesda, sy bekendstelling aan die wêreld van woorde en boeke in die sonkamer van Mister D’Oliviera, sy seksuele inlywing onder die gulsige hande van sy antie Yvette, en sy verkenning van nuwe horison-ne op die Karoostoep van die enigmatiese swerwerspaar Eddy en Eamonn. Maar eintlik vertel Lucky van sy sewe groot avonture, oftewel sewe klante. Hulle is mevrou Kristiena-Theresa (wat haar seun Danie in ’n motorongeluk verloor het); Nita (vrou van die hoteleienaar en olyfboer, mnr. Bradley); Mister D’Oliviera (sy Engelse onderwyser op hoërskool); Jolene September (die muni­sipale bestuurder); Rooiboer-meneer Kobus (onder wie sy ouers deurloop); antie Yvette en Cloëtte.

Die verhaal van Santa Gamka is, net soos sy hoofkarakter, in ’n Karoobodem gewortel. Wanneer Lucky op pad na sy matriekafskeid die dorp (en dorpenaars) vanuit ’n donkerblou Cadillac waarneem, herinner die kleurvolle opeenvolging van karakters aan Etienne Leroux se kortverhaal “?’n Dag in Berg-en-Dal”. Sy verwysing na die laatmiddag wat stil word en boere wat in “wit broeke en wit hemde” kom tennis speel, roep N.P. van Wyk Louw se gedig “Karoo-dorp someraand” voor die oog.

Anders as in ander Afrikaanse romans waar die Karooruimte ’n nostalgiese en soms selfs mitiese dimensie verkry, word dit hier – soos in Abraham de Vries se Tot verhaal kom – ontmasker en gedemitologiseer. Dis ’n wêreld waar rassisme, armoede, droogte en geweld gedy.

Santa Gamka is ook ’n bildungsroman wat in gesprek tree met The Catcher in the Rye (1951) van J.D. Salinger en Saul Bellow se The Adventures of Augie March (1953). Die openingsin ( “Sy anties het altyd gesê: Jy het ná apartheid aangekom, jy is vry, hou jou kordaat.”) is ’n parafrasering van die openingsin in laasgenoemde roman: “I am an American, Chicago born – Chicago, that sombre city – and got at things as I have taught myself, freestyle, and will make the record in my own way: first to knock, first admitted; sometimes an innocent knock, sometimes a not so innocent.” Soos Augie is Lucky ’n jong man wat “langs die pad (…) loop eerder as op die pad soos ander” (bl. 13); deur ’n sameloop van omstandighede (weer en weer) geïnisieer word in sy seksualiteit, maar uiteindelik ook leer om na vele omswerwinge op sy eie voete te staan.

In dié opsig vertoon dit ook kenmerke van die sogenaamde pikareske roman.

Santa Gamka is egter nie net ’n kopknik in die rigting van Salinger en Bellow nie. Die skadeloostelling aan die begin van die roman, is ’n (byna) woordelikse herhaling van dié in Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux: “Daar bestaan nie ’n plaas soos Welgevonden nie. Alle karakters is denkbeeldig. Die gebeurtenisse is onwaarskynlik.” Anders as die onskuldige Henry van Eeden wat tydens sy besoek van sewe dae aan die plaas Welgevonden ingewy word in die leefwyse van sy aanstaande skoonfamilie, die Silbersteins, word Lucky hardhandig, selfs gewelddadig, gedwing om goed van kwaad te onderskei sodat hy ryp kan word vir liefde en hom kan blootstel aan genade. Terwyl Henry deur Jock Silberstein begelei word, is dit veral Mister D’Oliviera en Eddy en Eamonn wat as gidse (beskermhere) vir Lucky optree.

Hulle probeer hom inlywe in hulle geheim: ’n eie manier van lewe wat soos niemand s’n is nie en nêrens inskakel nie. Hulle gee hom wysheid; laat hom goete dink “oor homself waaraan hy nie eens wil dink nie” (bl. 205); leer hom wat liefde kan wees én dwing hom om op sy eie bene te staan.

’n Mens sou die verrassende verhaalslot kon interpreteer as ’n bevestiging dat Lucky oplaas ’n soort volwassenheid bereik en doelbewus met sy vroeëre weë breek. Dat hy volkome selfversekerd is, iets waarna hy nog altyd gestrewe het. Terselfdertyd sou ’n mens dit ook anders kon lees: vryheid is nie net in Santa Gamka nie, maar óral, ’n illusie en dat vooroordele en wantroue oor landsgrense strek. As jou velkleur teen jou tel, jou Engels “nie vinnig en glad genoeg” (bl. 277) is nie en jy nie intelligent genoeg is om jou los te kry nie, dan moet jyjou maar noodgedwonge wend tot die “universele taal” van die lyf.

Sonder om te preek, te sentimentaliseer of te stereotipeer, kry Venter dit in Santa Gamka reg om ’n onthoubare en oortuigende “stem” aan sy hoofkarakter Lucky Marais te gee.

Dit is ’n vertellerstem wat nog lank in die Afrikaanse prosa sal eggo.

* Thys Human is verbonde aan die departement van Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg.

- Rapport

binne rapport

Weather
Lottery
Cpt: 22-33°C Sunny. Warm. Pta: 19-30°C Thunderstorms. Mostly cloudy. Warm.
Jhb: 16-28°C Numerous showers. Mostly cloudy. Mild. Bloem: 18-27°C Scattered showers. More clouds than sun. Pleasantly warm.
Dbn: 23-28°C Showers early. Morning clouds. Warm. PE: 19-22°C Scattered showers. Morning clouds. Cool.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

MAZDA

Drifter 2.6i SLX PU
2006
R 129,700.00

VOLKSWAGEN

Golf 5 2.0 FSi Sportline 5-dr
2006
R 169,900.00

TOYOTA

Avanza 1.5 SX MPV
2007
R 109,990.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chill out in Knysna

Spend 2 nights at the Turbine Boutique Hotel & Spa in Knysna's gorgeous Thesen Island for R3058 per person sharing. Includes return flights, taxes, car hire and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

gobii eReader nou beskikbaar

Koop die gobii eReader en gobii-omhulsel vir iemand spesiaal vir Valentynsdag. Gratis aflewering binne 24-uur. Koop dit nou.

Koop Friends with Benefits en wen

Koop die DVD of Blu-ray en staan ’n kans om 1 van 5 "Love You"-blikke met koekies te wen. Die wedstryd sluit 9 Februarie. Koop dit nou.

Koop 4 romans vir R79,96

Koop enige 4 romantiese verhale vir slegs R79,96 terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Geskenke vir hom

Koop ’n klassieke skuimskeerborsel vir R279 vir die man in jou lewe en kry 15% afslag op ’n uitgesoekte reeks naskeermiddels. Koop dit nou.

Dit is al weer ’n fleurige Valentynsdag!

Daar is fleurige spesiale aanbiedinge by kalahari.com met die gobii eReader, Friends with Benefits, parfuums en rose wat nou beskikbaar is. Koop dit nou.

2 DVD's vir slegs R129

Winskopie van die week

Sit snoesig teenaan jou geliefdes hierdie Valentynsdag met ons aanbod van 2 DVD's vir slegs R129. Aanbod geldig solank vooraad hou. Koop dit nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
There are new stories on the homepage. Click here to see them.