Terugblik lewer beste in jare
2012-01-14 12:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Speurders word nie altyd saam met hul skrywers oud nie, het die Skotse skrywer Ian Rankin eens op besoek aan Suid-Afrika gesê.
Maar gebeur dit wel moet die skrywer beplan vir die speurder se aftrede.
Rankin het die kwasterige Rebus laat aftree, maar verskeie boeke tevore al ’n opvolger, die skrander Siobhan Clarke, gereed gemaak.
Maar by die drie voorste speurverhaalskrywers van ons tyd – Michael Connelly, John Sandford en Lee Child – is die tekens van ouderdom en gevorderde gatvolheid al daar. Hul speurders se aftrede is nog net nie naastenby noodwendig nie.
Onlangs lees ek hul jongste werk, kompleet met ou bekende speurders, in e-boekformaat, nogal: The Drop deur Connelly, Sandford se Buried Prey en The Affair deur Child.
Al drie romans – met Sandford se Lucas Davenport, Child se Jack Reacher en Connelly se Harry Bosch – het dié speurders se ouderdom as gemeenskaplike tema.
Bosch kry twee sake op sy lessenaar: Een ’n ou korrupsiesaak wat hy moet oplos en die ander ’n ondersoek na die dood van George Irving, seun van sy ou vyand, die polisiehoof Irvin Irving. Dit alles net nadat Bosch gehoor het dat hy oor drie jaar moet aftree.
Die manier waarop die verhaal ontknoop, laat ’n mens sonder twyfel dat die laaste boeke oor Harry Bosch elk iets wonderliks gaan wees. Ook dat hy uiteindelik sy mantel sal oordra aan sy dogter Maddie, asook sy half-broer, Mickey Haller (einste hy van The Lincoln Lawyer, wat verfilm is met Matthew McConaughey in die hoofrol). Maar voordat Bosch aftree, gaan hy Irvin Irving bêre.
Lucas Davenport heropen in Buried Prey ’n ou saak wat foutief opgelos is toe hy nog ’n beginnerspeurder was. Twee lyke wat opgegrawe word tydens ’n bouery in Minneapolis blyk dié te wees waarna Davenport amper 30 jaar gelede vergeefs gesoek het. In sy nuwe soektog na die moordenaar roep hy die hulp in van sy protégé, Virgil Flowers.
Ofskoon Sandford dit nie uitstippel nie, kan ’n mens verwag dat Flowers oor so twee romans se tyd die onverdeelde aandag van sy outeur gaan kry.
Van die drie outeurs is Child die een wat na die mees kreatiewe oplossing probeer soek vir sy held se ouderdom. Enkele maande voor die publikasie van The Affair het hy Second Son eksklusief as e-boek gepubliseer. Dit is ’n baie kort boek (26 hoofstukke teenoor The Affair se 88) oor Reacher se kinderjare as weermagkind en hoe sy natuurlike speurvernuf ontwikkel het.
The Affair neem ons terug na Reacher se verlede. Dit is 1997 en Reacher word na ’n dorpie in Mississippi gestuur om te help met ’n moordondersoek. Hy kom weldra agter dat iemand in die weermag besluit het sy loopbaan kan maar opgeoffer word sodat ’n lastige moordsaak toegesmeer kan word. Teen die einde verlaat hy die weermag.
Maar Child dink duidelik nog nie aan Reacher se aftrede nie. Hoe kan hy? Reacher ís immers al werkloos.
Intussen is Reacher se leefstyl só dat Child nog baie kan terugkeer na sy (Reacher se) verlede.
Wat nogal opvallend is, is dat al drie skrywers met dié terugkyk-romans van hul beste werk in baie jare lewer.
Dis geen geheim nie dat die Amerikaanse boekmark in ’n taamlike gemors beland het toe ’n groot getal boekwinkels weens die ekonomiese krisis moes sluit. Child, Sandford en Connelly het gereageer soos skrywers wat moes bewys dat hulle nog die ding kan doen en mense boeke – al is dit e-boeke – laat koop.
En hulle hét – in die oortreffende trap.
Kerneels Breytenbach is die skrywer van onder meer Piekniek by Hangklip, wat onlangs verskyn het.