Verbeelding onbeperk

2012-06-30 15:18

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Elizabeth Wasserman is veral bekend om haar Speurhond Willem-reeks (uitgegee deur Tafelberg), waarvan die sesde, Speurhond Willem in New York, in Augustus verskyn.

Van volgende jaar af verskyn dié boeke ook in Engels.

Daarby is sy ook die skepper van die Anna Atoom-reeks, waarvan die derde boek, Anna Atoom en die digitale draak, in Julie by Tafelberg verskyn.

Maar waar het Elizabeth Wasserman se boekeverbeelding begin?

Was dit op Koppies in die Vrystaat? Tussen die rakke van die klein dorpsbiblioteek wat sy nou nog, soveel jare later, snags in haar drome besoek?

Lê dit in die grondpadspore van haar dikwielfiets waarmee sy smiddae ná skool rivier toe gery het?

In die maanlig as sy, jongste slim dogter van die posmeester, saans tienuur as die aandklok oor die dorp gelui het, alleen op die plaaspaaie gaan rondry het?

Elizabeth en haar verbeelding.

Sien haar in 2008, professor en hoof van die afdeling geneeskundige mikrobiologie in die departement patologie by Maties, op ’n werkbesoek in Europa.

Op ’n trein iewers in Duitsland, vingers op die skootrekenaar, besig met haar eerste Willem-boek, Speurhond Willem op reis.

“Ek was die jongste van vier kinders, in ’n eksentrieke gesin. Ek het vreeslik baie tyd in die veld deurgebring.

“My broers het die wêreld vol verken en op ou grafte van Britse soldate afgekom. Hulle’t van kleins af vir my stories vertel.

“Dit was die 1970’s, nog swaar apartheidsjare. My ma was geliefd op die dorp. Sy het in die landdroskantoor gewerk en haar bemoei met die swart kinders wat gevang is.

“Soms het sy my saamgevat Johannesburg toe en dan gaan soek ons kinders wat weggeraak het.

“Sonder om haar enigsins te assosieer met ’n politieke party was sy nogal baie links gewees.

“Ons was vriende met die Khumalo’s, die skoolhoof in die township, en hulle’t Sondae by ons kom kuier.

“In terugskouing was dit ’n redelik interessante manier om groot te word, maar terwyl ek daar grootgeword het, wou ek net weg, net wég. En nou mis ek die vryheid daarvan.”

Haar ma het stories vir Siembamba, die kinderprogram op die Afrikaanse radiostasie, geskryf.

Skryf was deel van die huisritme. En boeke. Die jong Elizabeth het gulsig gelees en op nege, toe sy elke Afrikaanse boek in die bib kafgedraf het, het sy oorgeslaan Engels toe. Haar gunstelingskrywer as tiener? Isaac Asimof. Ja, rêrig, lag sy.

Sy het medies gaan studeer met die bewustheid dat dié beroep haar die wêreld sal leer ken.

“Maar ek het nie gedink ek gaan op die ou einde hondstories skryf nie!”

Sy het in haar dogter, Marcelle, se kleuterjare rympies begin skryf om haar kind op haar eie verbeeldingspad te help.

“Daar was fases in my loopbaan wat ek baie gereis het, veral in Duitsland en Engeland. En as ek na haar verlang het, het ek gewoonlik vir haar stories geskryf.

“Sy was so agt, nege en nog nooit in Europa nie, en toe beraam ek ’n plan om Europa se stede vir haar werkliker te maak.

“Willem, ons huishond, het toe die karakter geword om haar horisonne te verbreed.”

Die idee was om soos in Travels with My Aunt (Graham Greene) reise met ’n hond as karakter aan te pak.

Die speurstorie het sommerso gekom, vertel sy.

Maar die hele karakter van die knorrige, selfgesentreerde hond het sy net so oorgeskryf van die regte Willem af.

“Willem is nés sy karakter. Hy is ’n swart-en-wit spanjoel, baie kordaat en ons is hier vir sý gemak. So my kind kon lekker assosieer met Willem.”

Al die Willem-boeke speel af in plekke waar Elizabeth self was, behalwe (“natuurlik!”) Speurhond Willem in die ruimte.

“Ek het maar my raamwerkie as voorstedelike middelklas-ma, en ek kan nie goed skryf buite dié raamwerk nie.”

Die Seychelle, waar hulle gereeld gaan vakansie hou, was die wegspringplek vir Elizabeth se Anna Atoom-boeke.

“Ons huur al vir jare ’n goedkoop plek daar, sorg vir onsself en boer in die see. Dit was ook die een manier om ’n stadskind na aan die natuur te kry, om haar bewaringsbewus te maak.”

Die karakter Anna het ontwikkel nadat Elizabeth bekommerd begin raak het dat wiskunde en wetenskap die cool-faktor verloor wanneer meisies groter word.

“Marcelle het ’n natuurlike belangstelling in wetenskap gehad, maar al die boeke wat sy toe begin lees het, het ‘pienk’ meisie-karakters gehad. So dit was maar my eie rebellie om vir haar en haar maatjies ’n storie te skep. Ek wou vir hulle wys wetenskap en tegnologie is wonderliker as towerkuns.”

Met die eerste Anna-boek het Elizabeth in vakansietye bedags die stories geskryf en dit dan saans teen slapenstyd vir Marcelle en haar maats voorgelees. Hul kommentaar, hópe daarvan, was vir haar ’n nuttige skryf-kompas.

“Ek het die eerste Anna-boek ’n klomp kere oorgeskryf, dit het lank gevat om gepubliseer te word.

“Anna is my gunsteling. Sy’s uitdagend, mens is nooit heeltemal seker van haar nie. Die derde boek is pure kwantumfisika, en dis stories wat ék geniet. Ek’s ’n bietjie senuagtig of hulle daarvan sal hou.”

Sy skryf dikwels vieruur in die oggend. “Dit raak ’n dissipline en dis lekker ook, net om daai bietjie stil tyd te hê. Ek’s gewoond aan min slaap, ek het lank traumachirurgie gedoen en in trauma-eenhede gewerk.

“Noudat ek ouer word, het ek meer slaap nodig. My gesin weet alte goed as ek moeg is, want ek raak iesegrimmig, maar ek kom dit nie self agter nie!”

Sy dink haar besige werk- en skryflewe balanseer mekaar. “Die boeke is ontvlugting. Ek geniet my gate uit terwyl ek dit skryf.”

Boonop kruisbestuif hulle mekaar. Sy’s meer gesteld op feite in haar stories en as dosent bied sy haar klasse meer in verhaaltrant aan. Sy laat haar doktorale studente aan hul tesisse timmer om dit toegankliker aan te bied, sê sy.

Met Marcelle op hoërskool waag Elizabeth nou haar hand aan ’n jeugboek. Sy vind tieners oor die algemeen ietwat ontnugterend, skerts sy.

“Ek het hierdie romantiese idee dat kinders eintlik klein grootmense is wat die wêreld wil ontdek, maar tieners is selfgesentreerd, hulle’s nie individue nie, hulle dink in ’n poel.

“Hulle is heeltyd besig met hul selfone, word groot vir ’n wêreld wat ons nie verstaan nie, hulle het die konnektiwiteit nodig.

“Die leegheid waarmee hulle mekaar besig hou, bekommer my. Daar’s nie nuutskepping nie, daar’s nie organisering van gedagtes nie.”

Sy’s ook besig met twee uitvloeisels van Willem en Anna.

Willem s’n is ’n speurverhaal waarin ’n valerige Stellenbosse vrou uit ’n bevoorregte familie ’n onwaarskynlike “speurder” word nadat haar niggie se 4x4 verlate en vol bloedspatsels in die Stellenbosch-pas gevind word... “Ek sal nog moet sien of dit werk!”

Anna Atoom se “volwasse” weergawe is chick litwat afspeel in ’n vervalle hotel op ’n Seychelle-eiland.

Elizabeth se verbeelding kon dié hotelletjie net nie uitlos nie...

Verbeelding Onbeperk, vieruur soggens met ’n woonbuurt vas aan die slaap rondom Elizabeth Wasserman.

Hanlie Retief is ’n redaksielid van Rapport.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 17-25°C Sunny. Mild. Pta: 5-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-18°C Sunny. Mild. Bfn: 2-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 8-22°C Morning clouds. Cool. PE: 13-25°C Sunny. Pleasantly warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Professional Architectural Technologist

Cape Flats
Glenkey Construction
R18 000 - R25 000 Per Month

Sales Representative

Durban Northern Suburbs
Pronel Personnel Consultants Durban

Verkope Konsultante Benodig!!

East Rand
New East Consulting Services (Pty) Ltd
R10 000 - R28 000 Per Month

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!