Verbeelding se wye wêreld
2012-02-11 10:56
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Vyftig jaar van nou af gaan middeljariges prof. Elizabeth Wasserman bedank dat sy hulle as jeugdiges deur Anna Atoom bekend gestel het aan die tegnologiese wondere en moontlikhede van die 21ste eeu.
Die eerste boek in die Anna Atoom-reeks is Anna Atoom en die seerower se dolk (Tafelberg, R110). Anna (12) woon saam met haar ma, prof. Sabatina Atoom, op ’n eilandjie in die Seychelle. Haar ma is hoof van die internasionale weerstasie op die eiland en haar pa woon permanent op ’n ruimtestasie.
Anna se broer is ’n biotron – half mens, half robot – maar net so onnutsig en lastig soos gewone boeties. Haar hondjie is ’n robot.
Terwyl sy naby die eiland onder water swem, ontdek Anna ’n dolk wat seerowers twee eeue tevore hier verloor het toe hul skip vergaan het. Anna se pogings om die toegespoelde wrak te vind word vernuftig afgewissel deur haar ma se stryd teen ’n geheime agent wat ’n vervuiling van alge aan die gang sit om die oseane te versmoor.
Die hele boek is vol verrassings, nuwighede, opwinding, humor, gevare, volgehoue spanning. Ek kan dit van harte aanbeveel vir lesers van so 10-jarige ouderdom af.
Nog steeds in die wêreld van die wetenskap is daar vir jonger lesers Die groot boek van groot dinosourusse (Protea, R125). Kinders is al minstens ’n eeu lank dol op dino’s (The Lost World deur Conan Doyle het in 1912 verskyn).
In Die groot boek van groot dinosourusse kry die T-Rex (12,4m lank) nou sommer (!) groter vleisvretende maatjies by: Gigantosourus (14,3m), Kargarodontosourus (14m) en Spinosourus (15m). Al vier – en tientalle ander – beland op die uitvoubladsye van dié superboek.
Vou die boek oop, maak dit op die eetkamertafel staan en jy het ’n panorama van byna 100cm (in een geval 120cm) breed. Die panoramas is vol aksie. Die goeters val mekaar aan, byt mekaar, krap mekaar met hul vuil kloue en vertrap mekaar. Daar is landmonsters, lugmonsters en, les bes, seemonsters. Tussen die monsters beweeg klein mensfigure wat die dino’s waarneem, meet en foto’s van hulle neem.
Dan is daar ’n boek met ’n moeilike titel, Die drake-kreatiwiteitsboek . As daar dino’s was, kon daar seker drake ook gewees het. Buitendien is drake opnuut hiper-gewild gemaak deur Cornelia Funke se Dragon Rider (oorspronklik Drachenreiter), wat in 2004 ziljoen maande (of so iets) op die New York Times se trefferlys gebly het.
Dié drakeboek is nie net vir vermaak nie, maar wil ook kreatiwiteit bevorder. Soos so baie van deesdae se kinderboeke bevat dit ’n hele spul ekstras. Daar is plakkers, stensils, die vel van meer as een draak (of papier wat soos draakvel lyk), inkleurbladsye, draakraaisels, noem maar op. Jy kan ’n drakekop bou en selfs ’n ridder se swaard.
Soos die dinoboek het dié een skouspelagtige panoramas op uitvoublaaie vir ure se pret. In dieselfde genre, maar meer op dogtertjies gerig, is daar Die prinsesse-kreatiwiteitsboek, ook van Human & Rousseau.
Nog ’n speelding-cum-boek is Groot masjiene, wat een van ’n reeks is. Dié boek bevat ’n trekskoplaaier, ’n stortvragmotor (ek ken dit as ’n tiplorrie) en ’n betonmenger.
Elke voertuig kan uit die boek gehaal word, kompleet met bewegende onderdele. Die jong operateur moet self die wiele aansit wat in die boek verskaf word en die plakkers byvoeg. Dan kan hy (of sy) laat waai. Dié boek/speelding weeg 1 000 gram en is dus ’n bom van ’n geskenk.
Van Lapa kom eweneens Die meermin en die padda , ’n verruklike 3D-boek wat veral dogtertjies sal bekoor. Dit is ’n variasie op die tema van die paddaprins. In dié geval begin ’n meermin met die padda gesels omdat sy hom jammer kry.
Hy vertel haar sy storie. Met behulp van die dolfyne bring sy hom na die pienk towerpaleis, waar sy transformasie plaasvind. Elke dubbelblad van hierdie besondere boek bevat ’n 3D-panorama.
Op die laaste bladsy sit die meermin en die dolfyne heel voor, op middelafstand soen die prinses die padda en heel agter is die sprokieskasteel.
Daar is vier titels in die reeks.
* Van Leon Rousseau het onlangs Die kaskenades van Jakkals en Wolf verskyn.
* Gaan na www.rapport.co.za vir resensies oor Bloedwater deur Douwleen Bredenhann en Kronkelpad deur Irma Joubert.