Vonkfiksie

2012-02-04 14:09

Kan julle glo 2012 is sowaar al in volle gang! Die Vonke kom so drupsgewys hier aan – hoop julle gaan met nuwe ywer inspring en vanjaar vir ons jul beste kortkuns lewer. Stuur jul 100 woord-verhale na Alida van der Westhuizen by avanderw@rapport.co.za. Intussen gooi ons ietsie in die pos vir Sarlene.

Forelroep


Hoog teen die rante tooi die sagte mis en reën die kruine in mantels van die fynste kant.
Al teen die skurftes biggel water af en af, loop saam om in die stroom te kom.
Die nat gly klewerig teen stamme en takke af om in ’n silwer traan aan die lang groen naalde te hang. Een-een kring hul boodskap uit op die poel se gladde blinkheid.
Die stroom blaas vuur in al die koue lywe aan...
Saam draai hulle teen die watervloed, en roep dan sonder klank na ander om saam in hierdie soepel spel te deel.
– Christo, Vereeniging

Ventertjie

Giepie Kotze het aan die verkeerde kant van die spoor grootgeword. Ná skool het hy maar gesukkel om ’n joppie te kry en moes op familie staatmaak vir sy karige besittings. Die meeste daarvan was oud, geroes of gesteel.
Só het hy ’n geroeste karretjie by sy oom gekry. Die idee om klein pakkies te vervoer het by hom posgevat, maar hy moes ’n Ventertjie in die hande kry.
Een vakansiedag sien hy ’n verlate sleepwaentjie net buite die dorp. Hy loer rond, haak hom vinnig aan sy Anglia en jaag huis toe.
Die skemer het net toegesak en Giepie maak die waentjie oop. Binne lê ’n lyk, stokstyf, met ’n skietwond in die kop.
Robert Nel, Strand

Krismisvreugde

Twee dogtertjies van vier en ses is verskriklik opgewonde oor fietsies wat hulle Kersvader gevra het. Hulle was heeljaar soet. Belowe.
Pappa het belowe hy sal self met Kersvader onderhandel om vir hulle pienk fietsies te gee.
Kersvader het geluister. Pappa is hul groot held.
Pappa sê hulle kan ongelukkig nie weggaan in die Kerstyd nie. Dit maak nie saak nie, want nou kan hulle ook fietsry in die straat. Nes hul maatjies.
Pappa sê die oom van die bank het net vir ’n rukkie hulle kar kom leen...
– Hugo du Toit, Thabazimbi

Die testament

Dit word in die prokureur se raadsaal gelees. Sy mooi vrou, drie dogters en sy seun, die familienaam­draer, is teenwoordig.
Die prokureur lees: “...die helfte van my boedel word in gelyke dele aan my dogters toegedeel. Die ander helfte aan my seun. ’n Vyfde van my seun se opbrengs moet lewenslank as ’n onderhoudstoelaag aan my vrou betaal word.”
Sy glimlag wrang. Vir die buitewêreld was sy sy pronkstuk, maar by die huis sy gebruikstuk.
Sy kyk na haar seun wat gelukkig lyk. Net sy weet hy is háár seun, net hare... nie die rykgat s’n nie.
– Andrew Marx, Centurion

Wit BMW

Só koop jy jou nuwe wit BMW 320-diesel. Leersitplekke en ses-spoed- outomatiese ratkas. Jou kleintyddroom word waar.
Jy vertel hoe jou pa 21 jaar gelede sy Mercedes verkoop het om vir jou jou eerste motor te koop.
Ná ’n naweek weg het jy klaar besluit. Die gerekenariseerde sleutel van jou nuwe BMW in jou pa se hand: “Dankie vir ’n leeftyd se liefde, Pa.”
Trane rol en vir ’n oomblik staan die lewe stil.
Ons ry terug in ’n tweedehandse, maroen 1996-model-motor met ’n handrat en my hart bars van trots.
Saam met jóú sal ek fiets ry totdat ons 80 is.
– Sarlene, Brackenfell

K
erk-koeël

Doodstil sit ons langs mekaar op die houtbank.
Veraf dreun die enjins van aankomende tenks. By die eerste aanhoor van die naderende geveg het ons gevlug na die veiligste plek op ons dorpie. Die enigste gebou wat nog nooit onder die koeëls deurgeloop het nie. Heelbo op die galery. In die hoekie teen die muur.
Ons wip albei van skrik vir die skielike gerammel van ’n snelvuur-kanon. In die skielike stilte daarna ontspan ons albei. Hy is bleek geskrik. Dan sak hy verder af in ’n sittende posisie.
“Die koeël is deur die kerk!” sê hy, en beduie na die wond in sy buik.
– Hennie Steyn, Welkom

Terugblik

“So ja, tannie Van Zyl, nou’s tannie reg vir die nag se rus. Lui maar die klokkie as tannie iets nodig het.”
“Sal so maak, hartjie, dankie.”
Die verpleegster skakel die nagliggie aan voordat sy in die gang verdwyn.
Johanna maak haar oë toe en sien weer die langbeen-donkerkopmeisie wat sorgeloos op die strand baljaar. Die seuns wat haar aandag wil trek met allerhande stuitighede. Haar glimlag skitterwit soos in ’n tandepasta-advertensie.
Sy draai op haar sy en kyk na die glas op die bedkassie – haar kunsgebit grynslag?.?.?. Oudword is nie vir sissies nie!
– Laurette Hitchcock, Tygerdal
Die 50ste verjaardag
“Wat beplan jy vir Mamma se 50ste verjaardag?” vra middelsus Marietjie nuuskierig.
“Wel, ek het gedink aan ’n Wimpy-ontbyt om die dag mee te begin. Tannie Tersia moet natuurlik ook genooi word. En dan moet ons daai nuwe fliek Platteland gaan kyk. Mamma sal daarvan hou. Dis immers háár dag.”
“Wat van Pappa? Wat dink jy beplan hy vir die dag?”
“My liewe sussie – hierdie is Mamma se derde weg-verjaardag. Elkeen moet dit vier soos hy voel. Ek glo Pappa sal angeliere op Mamma se graf gaan sit of iets.”
– Suné Coetzee, Stamford (Brittanje)

Strandwolf


Ek het haar weer op die strand raakgeloop. Ons het die aand gaan uiteet. Ons gesprekke het geleidelik ’n meer behoeftige toon aangeneem.
Ek het die rekening betaal en verbaas gehoor hoe ek buite op die parkeerterrein sê ek wil nie huis toe gaan nie.
Terug by die strand in die donker het ek nie die see gehoor nie, net ons asems wat jaag en ná jare verloor ons alle rede.
Ek onthou nog elke sensuele detail van daardie aand, maar ek onthou ook dat ek nie by haar kon oorslaap nie omdat haar man tuis was.
– Riaan le Roux, Rosendal

Stormloop

“Stormloop” vra dat jy ’n storm wat te groot is in jou moet laat loop soos Gods water oor Gods akker...
Dit meet nie die intensiteit van die storm nie. Dis reeds die gewigtigheid van emosies wat jou moet laat lóóp en nie stormsít nie.
Ek vermoed die storm kan met ’n rivier vloekwoorde draagliker word, maar slegs daarmee?
Die storm moet vurig uitslaan met donker blou-pers haelwolke. Vertellinge van jare se vernedering en verniel. Van blitse, van donder.
Die uitspraak van die regter maak my vernielde lyf lig sodat ek kan... stormloop na vrede, vryheid en, bowenal, veiligheid!
Ansia van Schalkwyk, Raslouw

Rooi skoentjies

“Natúúrlik weet ek wat die konnotasie is, maar ek soek daai rooi skoentjies,” lag sy.
“Nou koop dan tog daai rooi skoentjies as dit jou happy sal maak. Treat jouself vir 11.11.11, maar ek moet wikkel, ek’s laat.”
Aktetas in die een hand piksoen hy haar.
Elfuur bel sy. “Ek’t hulle gekoop, aangetrek en sal hulle aanhou, spesiaal vir jou!” lag sy guitig.
Vieruur stap hy in, roep na haar en sien die rooi skoen skelm om die bankhoek loer.
Later herroep hy haar guitige lag tesame met die verklaring: “Hartaanval, rondom elfuur...”
– Anja Roodt, Amanzimtoti

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weather
Lottery
Cpt: 13-20°C High level clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bloem: 3-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 14-26°C Sunny. Warm.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Senior Java Developer (Team Leader)

JHB - Northern Suburbs
Network IT Bruma
R35000 - R42000

Database Administrator

JHB - Northern Suburbs
Communicate Bruma IT Delivery
R500000 - R550000

DBA

JHB - Northern Suburbs
Communicate Bruma IT Delivery
R500000 - R550000

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

TOYOTA

Tazz 130 5-dr MY00
2006
R 74,990.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

TOYOTA

Tazz 130 5-dr MY00
2005
R 64,995.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
There are new stories on the homepage. Click here to see them.