Vonkfiksie

2012-06-30 15:18

Ons possak – nou wel elektronies van aard – staan met ’n bult en ons is dankbaar teenoor julle flukse Vonkers. Hou so aan, asseblief, en laat jul kortkuns van 100 woorde steeds instroom. Stuur aan Alida van der Westhuizen by avanderw@rapport.co.za. Alysia Prinsloo kry dié maand ’n geskenkpakkie.

Denmar, herfs 2012

Marthina staar kop effe na voor gedruk. Haar kaalvoettreë onseker, arms lappopagtig langs haar sagte lyf. Haar vinger wys ’n sitplek uit. April kom om die draai gewaai en los stukkies geel en bruin...
Marthina se kop draai skuins: “Aaag, kyk daai voëltjie... Mámma, kan ek somme’ nóú vir ons bid?”
Fletsblou oë flap wimperig toe. Ons gee ons hande vir haar. Haar porseleingelaat ’n prewelende madonna. “En vegeef seblief ons sondes en dié wat ons nog gaan doen, amén!
“Ag Mámma, kyk tog net ’n bietjie... ek dink ’n voëltjie het op my rig geskýt!” – Tineke van Rooyen, Moreletapark

16 dae
Daar was kortes, daar was langes, daar was vettes, daar was maeres. Boepense; six-packs. Blondes, rooikoppe, brunette en swartkoppe. Omies met grys ponies en pankoppe. Hangborste en silikones.
Wat ’n wonderlike sonskyndag op die strand. Met ’n skaars waarneembare windjie, net genoeg dat dit nie ondraaglik warm is nie. Ons het al verwoestende winde gehad, nie geweet waar om te keer en vas te hou nie. 24 uur aanmekaar se reën. Aan die linkerkant vriendelike, groetende bure. Aan die regterkant suur gesigte wat dwarsdeur jou kyk.
16 dae van kamp-in-’n-tent. Wat ’n belewenis is die lewe nie.
– Pieterjan-Jan, Bloemfontein

Onthou

Vandag loop my gedagtes langs die onthou van al ons gisters.
Onthou jy nog die vreugde van ons saamwees en al die kinderpret? Onthou jy die feetjies met hul syeringe vlerkies in Ouma Cillie se blomtuin en al tannie Sannie se lewenslessies, toegewikkel in lekker doendinge?
Die blink in ons oë en die lag op ons haasbekkies met net hier en daar ’n tand.
Onthou jy nog?
Jou onthou het nou opgeraak.
My onthou is op my harts-
muur geverf in helder lentekleure en my hartseer rus in jou ewige geluk.
Ek sal jou altyd onthou.
– Charmain, Tzaneen

RIP Groot Slang
Ek en manlief het deur die jare ’n kode ontwikkel vir baie grand geselskap. Die een waarsku die ander as een te veel praat, drink of van die onderwerp afdwaal – dan gebruik ons die woorde: “Groot slang!”
Nie vir ’n oomblik het ons gedink die gasvrou, in haar ontwerpersnommertjie, sou só groot skrik dat sy klere en al in die swembad spring nie. Tussen die doodsborrels en gille kon jy duidelik hoor hoe sy skreeu: “Waar!?”
Groot was ons verleentheid en ons moes maar tong in die kies verduidelik.
En ons geheime kode na iets meer skadeloos verander.
Venessa Jacobs, Bloemfontein

Klanktoets
Oorverdowende geluide, klanke – ’n gereelde skel fluitgeluid. Klante aan tafels probeer hulself hoorbaar maak oor luide instrumente en kort stukke wysies.
Die sanger roep: toets, toets, toets. Een, een, een. Toets. Die trom doef-doef. Meteens word alle klank verdoof deur ’n baskitaar. Dan val alles in plek en ’n lied begin vorm – net om weer in ’n warboel uitmekaar te val.
Die pianis sluk sy derde glas brandewyn leeg; dit reeds tydens die klanktoets. Een, een. Toets, toets. Vir my byna tyd om huis toe te gaan, want dié groep se klanktoetse is altyd stukke beter as hul vertonings.
– Dirk, Sinoville

Die bruid
My dogter staan voor die spieël in haar wit bruidsgewaad. Vyf jaar oud, staan sy daar, uitgedos in die valletjiestrourok en sluier wat haar ouma vir haar van ou kantgordyne gemaak het.
Sy sien my nie. Sy draai dromerig van die spieël weg, trap met die omdraaislag haar sleep raak. Sy gly, slaan op die gladde vloer neer. Sy lê vir ’n oomblikkie, staan dan op. Die sluier sit skeef op haar kop. Sy kyk in die spieël. Skuif die sluier reg.
“Sjoe, ek kon my been gebreek het,” sê die bruid verontwaardig.
– Alysia Prinsloo, Hermanus

Nuwe wieldop
Die groot liefde in Poppie se lewe was haar Volkswagen Kewer. Dit was ’n 1959-model, nog baie mooi. Haar trots was veral die vier groot, blink wieldoppe. Ongelukkig stamp en duik sy toe die een regs voor.
Maar wonder bo wonder wag ’n flenterknaap nou een dag by die motor met so ’n mooi wieldop in die hand. Vir R5 nog so gaaf om die “nuwe” een aan te sit. By die huis gekom, stap sy tevrede om die kar, net om te sien sy is vir ’n pop gevang, want die linker-agterwiel se dop makeer.
– Johan Perold, Strand

Rugbydogter
As een van drie dogters van ’n pa wat Boland afgerig het, het ek baie van rugby geleer.
Wat dit beteken om 10 man-rugby te speel al is daar 15 ouens in die span. Wanneer om diep in te gooi by ’n lynstaan en wanneer om eerder ’n korte te roep.
Die onkantreël, obstruksie en vorentoe-aangee het ek sommer later in verhoudings toegepas.
Dis net die ding van ’n skrum wat val wat ek nog nie verstaan nie.
Maar my pa sê dis oukei, want nie eens die skeidsregters verstaan dit altyd nie.
– Sarlene Horn, Brackenfell

Seep
Man ontspan op ’n parkbank. Jong Man kom sit langs hom.
“Jy lyk bekommerd?” sê Man.
Antwoord Jong Man: “Ek het vanoggend aangekom en seep gaan koop – ek haat hotelseep – en ’n drankie gedrink. Nou het ek net R2 oor.”
“Wys die seep, dan leen ek vir jou geld,” sê Man.
Jong Man voel tevergeefs deur sy sakke, stap teleurgesteld weg.
Dan: ’n Pakkie onder die bank.
Angstig gaan soek Man en vind Jong Man, kop onderstebo.
“Jammer ek het jou nie vertrou nie, hoeveel wil jy hê?”
Met die terugstap gewaar hy ’n bejaarde wat oral soek.
“Ek’t vanoggend seep gekoop, ek sweer ek het dit hier verloor,” sê die bejaarde.
Baan Nel, Fouriesburg

Sal jy...

Terwyl sy haar vingers liefderik deur sy hare streel: “En sal jy my altyd liefhê?”
“Jaaa, my engel!”
“En my altyd beskerm?”
“Ja, áltyd!”
”Blommetjies vir my op die hoogste bergpiek gaan pluk?” Kyk diep in sy oë.
“Op die hoogste berg in die wêreld!”
“En wat nog?”
“Ek sal ’n oseaan deur swem en deur ’n vuur spring om jou te red! O koek, kyk hoe laat is dit! Ek moet nou gaan. Sien jou môreaand?.?.?. as dit nie reën nie.”
Sy: “Maar...?!”
– Smittie, Noordwes

Moederliefde
Ek en Ma SMS mos deesdae.
Skoonmense vir tee Sondag, piep ek.
Sy: Gee koeksisters.
Outyds, antwoord ek en stuur my keuse.
Ma, amper dadelik: Wat!?
Ek stuur weer.
Maar my kind, is jy seker?
Ja, Ma.
Maar dis tee, nie ’n braai nie.
Ek antwoord nie.
Later: Hoeveel gaan jy gebruik?
Volgens die resep.
Heelwat later: Waar koop jy dit?
Ek gee moed op en bel. “Wat is tog nou vir Ma so erg aan ’n aspersietert?”
’n Lang stilte volg.
“Ma?”
Verleë sê sy: “Ai, my kind, die ou oë. Ek het ‘apie-stert’ gelees.”
– Louis Lategan, Vereeniging

’n Skemer Sondagmiddag
Op ’n skemer Sondagmiddag wag ek op jou koms.
Jy bly oorkant die grondpad. Ek kyk in diepte na jou, asof ek in jou bestaan rondspit.
Jy sit met jou verwronge gesig op jou Sunbeam-stoep terwyl jy tydsaam teug aan jou Venus High Class Blend. Jy word herinner dat jy teen jou omstandighede verloor, terwyl jy jouself in die gebleikte blomme op die voorstoepmuur lewe.
Sondag ná Sondag bly hierdie prentjie my pla. Dié van jou moeë gesig en die son wat voor jou ondergaan.
Gretchen, Randfontein

Nefie
“Mamma kyk, ek het Nefie gekry.”
“Waar?”
“Op die ashoop. Sal Ma hom asseblief was en aantrek?”
Mamma was Nefie en maak vir hom ’n broek en hempie.
“Het Liewe Jesus vir Nefie uit die hemel gegooi?” vra Mike.
“Dalk het ’n warrelwind hom hier gegooi,” antwoord Mamma.
Uiteindelik is Nefie klaar aangetrek.
Mike maak hom op sy trekkertjie sit. Iets kraak. Vinnig word sy broekie uitgetrek. Mike se ogies rek.
“Mamma, Nefie het nie ’n totterman nie.”
“Hy hoef nie een te hê nie.”
“Ons piepie dan saam?”
So word sy verbeeldingsmaatjie ’n optelpop met beperkinge.
– Elna Nieuwoudt, Vanrhynsdorp

Gillend agterna
Suster het ’n ou tannie behandel met erge asemnood. Toe die foon lui, kyk sy op, in die bek van ’n rewolwer en meneer staan met die banksak vol note uit die geldlaai.
Sy het nie haar asem weggeskrik nie, maar so hard gegil dat hy die banksak en die rewolwer neergegooi, by die deur uitgestorm en verdwyn het, met suster gillend agterna.
Die asemnood-tannie het haar asemnood skoon weggeskrik en die heldin was so oorval deur pasiënte en koerantverslaggewers dat sy eers heelwat later tot verhaal gekom het. Dokter moes haar toe kalmeer met ’n inspuiting.
Gerhard Nel, Langebaan

Insig
Ek staar na die boepens-Boeddha wat altyd lag
en dink aan my ou waterpasbestaan, tog so voorspelbaar. Ek wil my leef se grense anders weef;
my gees weet tog hoe om grensloos te bemin!
Hoe op aarde kon ek so van myself vergeet;
ek wil weer my lewensbos oopkap;
ek wil hê die engele moet weer vir my lag;
die skoenlappers in my buik moet lewendig word; en flaminke moet weer my horison pienk verf.
Net daar neem ek ’n besluit, staan op en gaan koop vir my ’n kat.
– Wilna Dreyer, Centurion

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 11-19°C Sunny. Mild. Pta: 8-19°C Sunny. Mild.
Jhb: 6-14°C Sunny. Cool. Bfn: 3-18°C Sunny. Mild.
Dbn: 11-22°C More sun than clouds. Cool. PE: 9-22°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!