Want dis nódig om soms terug te kyk
2011-11-05 13:18
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dana Snyman se jongste boek, Hiervandaan, is ’n soort walkabout waaroor sy mentor Bruce Chatwin so mooi in The Songlines geskryf het.
’n Walkabout as ’n manier “om jou weer in voeling met jou wortels te bring”. So op ’n dag lees hy van ’n debat oor identiteit en hy besef hy wonder knaend waar hy inpas in die land, maar hy weet nie eens wie sy voorsate werklik is nie. “Hoe kan jy weet wie jy is as jy nie weet waar jy vandaan kom nie?”
Hy begeef hom toe na die Kaapse argief waar hy ontdek die eerste Snyman was ’n bruin man. Sy oeroupagrootjie was by die Slag van Bloedrivier, het sy pa altyd vertel, en dié se broek hang in ’n museum in Pietermaritzburg.
“Toe dink ek: Ons bruines het ook by Bloedrivier geveg, want jy moet onthou daardie Bloedrivier-oupa was maar drie geslagte van die bruin stamvader af. Later toe begin ek dink: Dalk moet ek gaan kyk of daardie oupa se broek regtig in die museum hang.
“En toe word dit ’n reis.”
Sy reis was nie net ’n verkenning van die land en sy emosies daaroor nie, maar ook van sy verhouding met sy pa. Oor albei skryf hy eerlik, intiem en aangrypend.
“My pa was ’n outsider, nes ek,” vertel Snyman. “Hy was ’n ambagsman, ’n passer-en-draaier. Toe, in sy dertigs, besluit hy om vir predikant te gaan studeer.
“My pa was eens die kapelaan-generaal van die AWB. Daardie tye was nie vir my lekker nie, en ja, ek was vies vir hom daaroor. Hier staan hy in ’n uniform in die koerant, met ’n Bybel onder die arm. Maar ons het altyd bly praat en ek het altyd maar weer teruggegaan huis toe, op Ventersdorp.”
Nou die dag toe tref dit hom: Ons pres. Jacob Zuma en Julius Malema, twee Suid-Afrikaners oor wie almal praat, het albei sonder pa grootgeword.
Sy reis het hom weer op die agterpaaie laat beland, die paaie van sy jeug, maar ook op Malema en Zuma se grootwordplekke.
“Toe ek uit Nkandla, waar Zuma grootgeword het, ry, nadat die president se broers nie regtig met my wou praat nie, toe kom ’n jong vrou tussen die huise uitgehardloop en sy keer my voor. Dit was een van die president se niggies. Toe gee sy vir my so ’n Zoeloe-kleipotjie present. Dis al. Net dit. ‘I want to give you this,’ sê sy. Toe vat ek dit en ry maar weer. So iets raak ’n mens.”
Hiervandaan is deels ’n nostalgiese opskryf van vergane dinge soos boormanne en telefoonsentrales. Om dinge wat verbygaan op te skryf, is ’n vorm van liefdevolle bewaring. Dit erken hy. Maar die nostalgie-ding maak hom baie benoud, veral omdat sy skryfwerk daarmee geassosieer word.
“Ek is so bang mense lees my stories en dink ek het ’n romantiese verlange na die verlede. Die verlede was nie beter as nou nie. Ek wil nooit weer in 1985 wees nie: PW, militere diensplig, die noodtoestand, Hawaise hemde, Rodney Seale se waarskuwings oor popmusiek… Eish!
“Ons sal mooi moet besin oor wat ‘nostalgie’ presies beteken en hoe dit ’n mens se lewe kan ‘rig’. Ons Afrikaners verlang deesdae so na die verlede dat ons baie dinge vergeet. Ons verlang onsself as’t ware in die onskuld in. Dis nie reg nie. Dit is gevaarlik.”
Voel hy nou minder vreemd in die land ná sy reis en die opskryf daarvan in Hiervandaan?
“Beslis, ja. Ek is meer optimisties oor die toekoms van die land as ooit. Maar dis nie ’n Dr. Phil-agtige optimisme nie. Die politici en amptenare kan dit steeds alles vir ons opneuk as ons nie oppas nie. As ek praat van ‘ons’, praat ek van gewone mense. Ons wat in die oggend opstaan en geld op ’n eerlike manier moet verdien om aan die lewe te bly. Die meeste mense wil vrede en geluk hê.
“Ek het gisteraand ’n essay van Saul Bellow oor die skrywer se rol in die gemeenskap gelees. Hy skryf: ‘The writer asks himself: ‘Why shall I write this next thing?’ It is still possible, despite all theories to the contrary, to answer: ‘Because it is necessary.’ A book, any book, my be superfluous. But to manifest love – can this be superfluous? Is there so much of it about us? Not so much. It is still rare, still wonderful. It is still effective against distraction.’
“Dit kom maar alles neer op die grootste gebod: Ons moet mekaar liefhê. Of jy nou ’n skrywer of ’n Zuma of ’n wat ook al is.”
Madri Victor is ’n vryskutskrywer van Kaapstad.