'n Gedetailleerde, lywige vertelling
2012-02-11 10:56
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Kronkelpad deur Irma Joubert. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R195
Irma Joubert het al naam gemaak as skrywer: naas sewe romans en ‘n kortverhaalbundel, is Anderkant Pontenilo (2009) bekroon met die ATKV-prys vir liefdesromans, en ook opgeneem in Exclusive Books se Homebru-lys. Haar jongste roman, Kronkelpad, is dan die voltooiing van ‘n trilogie waarvan Anderkant Pontenilo en Pérsomi die eerste twee is.
Kronkelpad speel af teen die historiese agtergrond van die eeufeesvieringe van 1938, die Tweede Wêreldoorlog, die vervolging van die Jode in Italië en die uitbreek van die polio-epidemie in Suid-Afrika in die vyftigerjare.
Rialien Naudé, ‘n geskiedenisstudent, nader dr. Lettie Louw om hulp met ‘n geskiedenistaak. Dié Bosveldse dokter se gedagtes loop ver terug, en dien as stimulus vir die roman: ‘n verhaal vind neerslag in die vorm van ‘n gedetailleerde vertelling, ‘n lywige werk van 478 bladsye. Rialien figureer as katalisator vir die verhaal, en is nie ‘n rolspeler nie.
Lettie Louw se vriendinne trou almal met aantreklike mans, maar niemand sien háár raak nie. Sy neem haar pa se mediese praktyk oor, en besluit om dokter te wees is haar lewensroeping. Dan ontmoet sy vir Marco Romanelli, ‘n verswakte Italianer wat ‘n Joodse konsentrasiekamp oorleef het en weens gesondheidsredes kom aansterk in die droë Bosveldse klimaat. Lettie ontluik mettertyd in ‘n baie aantreklike vrou, en Marco begin vergeet van sy geliefde Rachel – en hulle lyding in die kamp in Birkenau. Die wêreldwye uitbreek van die gevreesde polio-epidemie, of kinderverlamming in die vyftigerjare gooi ook ‘n skadu oor die Bosveldse dorpie: wie gaan dié gevreesde siekte oorleef, en wie gaan lewenslank die letsels daarvan dra? Die trilogie word dan afgesluit waar dit begin het: in ‘n Italiaanse dorpie hoog bo in die Alpe.
“My lewe loop ongekaart” (p. 352) korreleer met die kronkelpad-motief in die verhaal, asook met die inleidende motto heel voor in:
“I stand with outdated maps in my hand… alone, without recommendations in the vast desert.” - Yehuda Amichai, Hebreeuse digter, 1955.
Lettie en haar vriende loop die kronkelpaaie van die lewe letterlik en figuurlik: deur die Bosveld, deur ‘n dorpie in Noord-Italië en deur die oorloggeteisterde Europa – asook die weë van die noodlot en van ware liefde. Die wyshede in die roman het my deurgaans laat dink aan die sieninge in M. Scott Peck se blitsverkoper The Road Less Travelled, naamlik dat ‘n mens juis in tye van swaarkry en verlies geestelike rykdom (kan) genereer.
Joubert skryf met gesag oor die leefwêrelde van haar karakters. Historiese feite word met gemak vervleg in die verhaallyn, sonder om steurend of pedanties te wees. Die outydse sjarme in Kronkelpad is verfrissend. Dit is tegerlykertyd ‘n aangrypende roman, en uiters toeganklik geskryf. “Ware liefdesverhale het geen einde nie” (p. 343), gebaseer op ‘n siening van Richard Bach, dien as kompas in dié kronkelpad-verhaal. ‘n Verhaal wat die leser býbly.