'n Koning van vertalers
2010-09-04 17:17
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die meeste van ons ken die spreuk: vertaler, verraaier (traduttore, traditore). Iets kan in die vertaling verlore gaan, of die vertaling kan die oorspronklike teks verryk. En die literatuurskat van die taal waarin die oorspronklike teks vertaal word.
Koning van Katoren deur Jan Terlouw móés vertaal word, én deur ’n Daniel Hugo, wat hom al met verskeie vertalings, veral van poësie, bewys het. Sy taalvernuf, -kundigheid en poëtiese gevoeligheid skyn deur in dié vertaling.
Daar is soveel Hugoaanse taalvondse, ironie en humor in die vertaling. Hugo omskep die pleknaam Afzetterije (letterlik: bedrieërye) tot Verneukville, wat ironies genoeg ’n nederige burgemeester het. Maar ’n spel met die ironie pas Hugo soos ’n handskoen. Dit is immers een van die kenmerke van sy eie poësie.
Daar is talle poëtiese wendinge in die vertaling, byvoorbeeld: “Blou en rooi en geel sterre in die lug is beter as die sterre op soldate se skouers.” En in die “klaar gesis, gespetter, geknal, gevonk en geskitter” van die klappers en die vuurpyle speel die poësie mee.
Maar terug na die storie.
Op ’n goeie dag kom ’n seun, Stach, onverskrokke by die paleis van Katoren aan. Dit is merkwaardig dat hy in die nag van die koning se dood gebore is.
Sewe onmoontlike take word bedink om met hom klaar te speel, meen die ministers wat ná die dood van die koning oor Katoren regeer.
Juis die verstommende aard van die opdragte verhoog die spanning in die verhaal. Allereers word die leser oortuig van die onmoontlikheid van die taak en dan word dit aan Stach oorgelaat om die leser tot ander insigte oor te haal.
Dis ’n verhaal vol verrassings. Stach se eerste taak is om ’n einde aan die geskreeu van die voëls van Desibel te maak. Die dialoog in hierdie deel is so vlot dat die leser as’t ware kan saampraat.
Maar dis nie maklik nie, want die burgemeester van Desibel is die praatlustigste mens wat Stach al ontmoet het. Hugo vertaal: “Sy hande, sy lyf, sy gemoedelike dik wange, sy kop – alles beweeg, terwyl hy onophoudelik praat.”
En nou volg die een opdrag ná die ander, opdragte wat juis die verhaal sy tydloosheid verleen omdat dit kwessies is waarmee die mensdom vandag nog sukkel.
Daar is lugbesoedeling; die waansinnige wapenwedloop; die voortslepende onversoenbaarheid, hardkoppigheid, rusie, onenigheid en verdeeldheid tussen die kerke; die modder en skyn van demokrasie; magsbehebtheid en selfsug.
Daar is egter ook momente van deernis. Dit blyk onder meer uit Stach se woorde aan Pantaar: “Maar in jou vreemde hart was daar baie liefde vir ’n wrede wêreld.”
Stach triomfeer. Hy word die koning van Katoren. Die verhaal eindig soos ’n sprokie. Maar hoe laat ek aan die leser oor.
Stach mag maar die kroon dra, maar Daniel Hugo is ’n koning van vertalers. Moenie wag nie, gaan koop die boek. Dis louter leesplesier.
* Bestel die boek hier.
* Cas Vos is ’n digter wie se jongste bundel, Intieme afwesige, in Engels vertaal is as Intimately Absent deur die digter Leon de Kock.