’n Sirkus van ’n oorlog

2011-12-03 14:57

Sonja Loots se Sirkusboere is gegrond op die ware geskiedenis van die sirkusbaas Frank Fillis wat ná die Anglo-Boereoorlog, in 1904, ’n oorlogvertoning, oftewel ’n skouspel, na die Wêreldtentoonstelling in St. Louis, Amerika geneem het.

Twee oud-Boeregeneraals het hierin opgetree: Ben Viljoen (die aankondiger in Loots se roman) en Piet Cronjé. Die veldslag van Colenso en die Boere se nederlaag by Paardeberg is daagliks opgevoer met “egte oorlogsveterane met egte mausers” en selfs perde is afgerig om “dood” neer te slaan.

Vir Loots is haar roman “veel meer van ’n vraag as ’n antwoord” omdat sy wou weet hóékom die Boere besluit het om sirkusvertonings van die oorlog te gaan hou. Al sou van die Boere dalk gedink het die opvoerings sou terapeuties wees, reken Loots nie dat die oopmaak van soveel pyn en vernedering (soos by Paardeberg) enigsins ’n manier was om die oorlogskade te verwerk nie.

“En as die opvoerings ’n poging was om by hul volksgenote in aansien te styg, was die roem maar kortstondig.”

Daarby het die Boere hulle belaglik gemaak deur die oorlog te “herhaal” en die opvoerings het hulle ook nie genoeg in die sak gebring om só uit die ná-oorlogse armoede te kon kom nie, sê sy.

Maar hoekom het hulle gedink die oorlogskouspele sou gewild wees onder die Amerikaners?

“Oorlog was daardie tyd all the rage,” sê Loots. Die Amerikaners het, nes die Boere, oorlog gemaak, onder meer teen die Filippyne en Spanje.

Loots vermoed ook Buffalo Bill, wat ryk geword het uit opvoerings van die Amerikaanse geskiedenis, het die terrein vir die Boere voorberei. Boonop was die Amerikaners die Boere goedgesind.

Nee, sy het nie die woord “sirkusboere” geskep nie. “Dis ’n woord uit daardie tyd. Dis wat die Boere se volksgenote by wie hulle ongewild was, hulle genoem het.”

Die sirkus word ’n metafoor vir die sirkus wat die Boere se lewe op ’n breë vlak geword het. Akteurs in die arena, maar ook daarbuite. Want hulle het “kreatief met die feite omgegaan”.

“Daar is in elk geval nooit konsensus oor geskiedenis nie,” reken Loots. “Almal interpreteer dit verskillend. Die literator Chris van der Merwe praat van die ‘vervalsing van die geskiedenis’. Kyk maar na die nuwe interpretasies van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, so anders as wat wit leerlinge in die apartheidera moes leer.”

Die klem in Sirkusboere val op die geskiedenis ná die Boere-oorlog wat nou weer in die nuus is. “Die gesprek daaroor is nog nie klaar nie,” sê sy. “Ons het nóú eers genoeg afstand om daaroor te kan praat. Dit gaan nog jare duur voor ons rustig oor apartheid sal kan gesels. Die geskiedenis bly lank giftig.”

Die Afrikaanse gemeenskap toon groot ooreenkomste met die sirkusboere, sê sy. Ons was net so verdwaas, rigtingloos, maar ook vindingryk met die magsverskuiwing ná apartheid soos die sirkusboere ná die magsverskuiwing wat die Boereoorlog meegebring het.

“Maar die raakpunte met die hede is die tweede laag van die roman. Die storie en karakters bly die belangrikste,” sê Loots.

Sirkusboere het ontstaan nadat Loots die monografie Die boere-sirkus van St. Louis (1904) deur Floris van der Merwe (FJG Publikasies, 1998) gelees het.

“Die storie en die karakters het my aangegryp. Tyd val weg en dis asof die mense hedendaags word. Ek het my karakters rondom die geskiedkundige feite ingekleur, maar so getrou moontlik daaraan gebly.”

Vir Viljoen se karakter en van sy ervaringe het sy onder meer sterk gesteun op J.W. Meijer se biografie Generaal Ben Viljoen: 1868-1917. Viljoen het gejok dat hy ná die oorlog die getrouheidseed afgelê het – hy wou dit nie erken nie – en hy was wél tegelykertyd met twee vroue getroud. Interessant vir Loots was sy “tolboseienskap”, sy rusteloosheid.

Loots se over-the-top karakters kon so maklik karikature geword het, maar sy sê sy het hard gewerk om hulle waarlik mens te maak. Sy het immers tien jaar met hulle saamgeleef en ’n magdom feite nagevors voordat sy die storie geskryf het.

“Hulle is nie monsters nie, almal het ’n goeie en minder goeie kant. En al sou ek glad nie vir byvoorbeeld Cronjé vir ete wou nooi nie, het ek hom leer liefkry, foute en al.”
Die soldaat Maans Lemmer, ’n newekarakter wie se vrou en seun sterf, is die skrywer se gunsteling.

“Lemmer toon dat die ou Boere nie almal hardvogtig en stoer was nie, daar was ook dié met deernis.”

Loots het die hartroerende briewe wat Lemmer in ou Afrikaans aan sy seun Willempie geskryf het losweg geskoei op die briewe van Frikkie Badenhorst, soos opgeneem in Tant Alie van Transvaal, die dagboek van Alie Badenhorst (Nas­pers, 1939). Maar sy het besonderhede bygewerk. Die taal het sy haar eie gemaak deur ou uitgawes van Die Patriot, die Patriot-woordeboek en Ons Klyntji te lees.

Viljoen se meisie, Miss May Belfort, lê haar eweneens na aan die hart; sy met die swart kouse tot in die middel van haar bobeen en die “wit knickers”.

Die storie oor die sirkusskouspele is nie net die Boere s’n nie. Fenyang Mokenyane, Cronjé se agter­ryer, word “soos ’n hoender van die werf afgepluk” en saam St. Helena toe gesleep.

Die gebruik van die k- en m-woorde vir swart mense is soos ’n lem in die hart. “Dit was ’n skryfblokkasie wat ek net eenvoudig moes oorkom omdat ek in die leksikon van daardie tyd moes skryf. Die rassistiese terminologie kom uit ou geskrifte.”

Daar is ook ’n hele paar roerende tonele rondom dié karakters. Soos wanneer Cronjé se vrou, Hester, sterf en Fenyang terugdink aan hoe sy hom gedokter het – in haar kombuis langs die warm stoof waar sy hom “toegelaat het” om te slaap en vir hom gesing het.

Fassinerend vir haar was die navorsing oor die Edwardiaanse leefstyl en sy beskryf die kostuums van veral die vroue haarfyn. Maar vir haar was dit belangrik om ’n boek te skryf waarvan mans ook sou hou. Sirkusboere is voorwaar soms lekker butch (“Die stad het hom sommer dadelik aan die balle beet”).

Sy sê: “Ek het dikwels my werk vir mans gewys en gevra of ek nie dalk soos ’n vrou klink nie, hoe hulle sou optree en of ’n toneel werk.”

Sy is, soos wat die Nederlandse romanskrywer Yvonne Kroonenberg haarself genoem het, “nie ’n perdefluisteraar nie, maar ’n mannefluisteraar”.

Hopelik sal lesers nie weer 16 jaar moet wag soos ná Loots se debuutroman, Spoor, nie.

Riette Rust is ’n joernalis en skrywer. Haar eerste boek, Lang bene & lipstiek – Gebruik jou seksualiteit en behaal sukses , het onlangs by Naledi verskyn.



Sonja Loots by die stapels boeke wat sy in haar navorsing vir Sirkusboere gebruik het.| Foto: Pieter Malan

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 9-14°C Numerous showers. Afternoon clouds. Cool. Pta: 6-23°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 3-19°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 7-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 17-29°C Sunny. Pleasantly warm. PE: 16-22°C Mostly sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!