’n Ma gee nie moed op nie
2010-01-30 17:05
Karin Burger
kburger@rapport.co.za
Charné Botha was drie maande oud toe dokters Waardenburg-sindroom by haar diagnoseer.
“My kind is doof – almal het gesê sy sal nooit kan praat nie,” vertel haar ma, mev. Cheryl Botha van Parow.
“Ek het gebid: Here, al sê my kind net eendag ‘Mammie’, sal ek tevrede wees. Vandag is sý die een in ons huis wat die meeste praat!”
Charné en haar familie maak nou planne om geld in te samel nadat sy vir ’n kogleêre inplanting gekwalifiseer het. Die koste van die operasie is R221?000, waarvan hul mediese fonds die helfte sal betaal.
Die Tygerberg-hospitaal het ’n trustfonds in haar naam gestig wat deur die Universiteit van Stellenbosch bestuur word.
“Die inplanting sal my hele lewe verander,” sê Charné opgewonde. “Ek sal onafhanklik kan wees. Mense neem so baie dinge as vanselfsprekend aan, maar ek kan byvoorbeeld nie ’n telefoonoproep maak nie.
“Ek wil ook nie agter raak met my studies nie – as ek eers kan hoor, sal ek makliker bybly.”
Chandré het ’n gehoorapparaat waarmee sy klank kan hoor, maar sy kan nie die geluide of stemme identifiseer nie. Sy maak staat op liplees om te kommunikeer.
Haar gebrek keer haar egter nie om te studeer nie. Sy droom daarvan om ’n biokinetikus te word en studeer sportwetenskap aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
“Ek sit heel voor in die klas om die dosent se lippe te kan sien. My vriendin, Laureen Jansen, sit altyd langs my en sy help ook baie.”
Dit was ’n moeilike pad vir die gesin.
“Ek het destyds as kredietkontroleur by Coca-Cola gewerk. Ná ure het ek klasse by die Carel du Toit-sentrum vir gehoorgestremde kinders gekry oor hoe om my kind te leer,” vertel Cheryl. “Hulle het mý geleer om háár te leer.”
Cheryl moes vir Charné leer dat sy ’n stemkas het. Sy het met Charné voor die spieël gesit terwyl Charné die vorms van haar ma se mond moes aanleer terwyl sy praat.
“Ek was nie een dag afwesig by my werk nie,” sê Cheryl.
In 1993 het sy baie siek geraak en dokters het uitgevind sy het net een nier. “Dit het my nie gekeer om my álles vir my kinders te gee nie.”
Cheryl het haar dogter met spraakterapie gehelp totdat sy op sewe jaar skool toe is.
Die Botha-gesin het geleer dat jy niks as vanselfsprekend aanvaar nie. “Ek het ’n paar jaar gelede gesien hoe ’n ma vir haar kind skree om stil te bly. Ek het so gewens my kind kon net ’n geluid maak...”
Cheryl se man, Ivan, is hardhorend, daarom moes sy al die onderrig behartig.
“Ons het niks moeilikheid met ons kinders nie. Ek dank die Here daarvoor,” sê Cheryl.
Charné het ’n tweelingbroer, Chesné, en ’n ouer broer, Scevan (29).
As jy nie vir Charné agter haar boeke kry nie, werk sy by die Cape Storm-winkel in die V&A Waterfront se Kloktoringgebou.
“Ek wil so onafhanklik as moont-lik wees,” sê sy.
Ma en dogter het ’n baie hegte verhouding en Charné sê dis alles aan haar ma te danke dat sy al so ver gekom het.
“Dink wat gaan ek nóg alles kan doen as ek eers kan hoor!”
- Rapport