Koebaai, ou kleintjie
2009-11-14 22:48
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Egmont Sippel
Vlerkies.
Jy moet hulle hê as jy wil vlieg. Dit weet ons tog van vliegtuie en voëls af.
Die mooiste vlerke behoort egter aan engele. Kyk maar as Heidi Klum, Claudia Schiffer en Giselle Bündchen volgende keer vir Victoria’s Secret oor die loopplank sweef.
Dis die hemel, niks minder nie, wat aarde toe neergedaal het.
Maar engele dek meer as net een-rigting verkeer. Op minder gelukkige tye vind hul vlug ook van onder na bowe plaas, weg van aardlinge af.
Soos op begrafnisse, wanneer ons afskeid neem en koebaai sê.
Kanna, hy kô hystoe. Maar Kanna, hy ga’ ook hiemel toe.
Einste wat Volkswagen se Citi Golf nou gemaak het.
Ná ’n kwarteeu is dit die einde. Citi Golf het vlerkies aangetrek en verkas. Vyf-en-twintig jaar nadat die eerste enetjie (teen net meer as R7 500) as voorloper gedien het vir modelle soos die Shuttle, Chico, Blues, Lux, Chico Lux, Bafana Bafana, Sonic, Deco, Life, Velociti, Tenaciti, Rhythm, Wolf, Rox en Billabong, word die allerlaaste een, heel gepas, nou as die Mk 1 bemark.
Want kyk, dis tog waar Citi Golf begin het, by Golf Mk 1 – die eerste geslag Golfs wat toentertyd deur ’n reus van die motorbedryf, genaamd Giorgetto Giugiaro, gestileer is.
Giugiaro, terloops, is ’n paar jaar gelede as “Die Motorontwerper van die 20ste Eeu” gekroon.
Citi Golf gaan Giugiaro dít nie sommer nadoen nie. “Motor van die Eeu” is ’n titel waarvoor hy darem net té hard teen stalbroer Kewer asook Oom Henry Ford se destydse Model T moet baklei.
Maar sê jou wat: “Motor van die afgelope Kwarteeu” is nie alte vergesog nie.
So gepraat: waar Oom Henry trots daarop was om aan te kondig dat sy motors in enige kleur te koop was, solank dit swart is, het Citi Golf van meet af aan op helder, opwindende kleure gesteun.
En natuurlik op Golf Mk 1.
Laasgenoemde het sy wêreldbuiging reeds in Junie 1974 gemaak. Dit nou as opvolger van die legendariese Kewer, waarvan Volkswagen in meer as ses dekades amper 22 miljoen eenhede verkoop het.
Maar, nou ja, tye verander. Die ronde Kewer met sy agtergemonteerde enjin en agterwieldryf moes plek maak vir Giugiaro se vierkantige moderne Golf met ’n voorgeplaasde enjin en voorwieldryf.
En nie ’n oomblik te vroeg nie. Van die eerste dag af het Golf 1 groot aftrek in Europa gekry, ’n sukses wat van 1978 af plaaslik herhaal is.
Maar wat het Volkswagen SA te doen gestaan toe Golf 2 van 1983 af in Europa en van 1984 af op onse bodem bemark sou word? Die nuwe motor was groter en beter – maar ook veel duurder.
Nou is dit so dat ’n Volksie as “die volk se motor” bekend staan en dat Golf 2 te duur was om hierdie ideaal te verwesenlik. Synde dat Golf 1 egter nog genoeg skop en vonk getoon het, sou dit tog sin maak om hom as “intreevlak-motor” aan te hou, veral omdat VW se kleiner nuwe Polo nogal heelwat sou kos om plaaslik te bou, vergeleke met ’n Golf 1-afgeleide waarvoor alles klaar in plek was.
Stroop hom dus van tierlantyntjies, verf hom wit en noem hom die Econo Golf, het VW se grootbase aanvanklik geredeneer.
Wat goed geklink het, tot daar in gedagte hou is dat die teikenmark eintlik jong mense was, of ouer mense wat die karretjie vir hul kinders wou koop.
Die vervelige, lewelose Econo Golf was presies die teenoorgestelde van wat hulle gesoek het.
En bingo, seg advertensieman Mel Miller toe. Verf hulle rooi, geel en blou! Een van sy kollegas was ’n jong Jenni Button. Die kleurskema het haar aan die abstrakte Nederlandse skilder Piet Mondrian se ‘Broadway Boogie Woogie’ laat dink.
Net daar het ’n hele bemarkingstema gestalte gekry: strandsambrele, -stoele, baaibroeke en dies meer in rooi, geel en blou.
Dis onduidelik hoe Citi Golf se naam gebore is, maar ’n paar prototipes in einste kleure is weldra saam met die Econo Golf uitgestal. ’n Oorweldigende 90% van ondervraagdes het die Citi verkies en 70% was bereid om ’n aansienlike premie versus die Econo te betaal.
Die laaste hekkie was egter die moeilikste: om Volkswagen in Duitsland se grootkoppe van die projek se lewensvatbaarheid te oortuig.
Min het hulle – of enige van die Suid-Afrikaners wat die projek van stapel gestuur het – geweet hoé lewensvatbaar, hoé gewild en hoé suksesvol Citi Golf uiteindelik sou word. In die kwarteeu van sy bestaan, is amper 380 000 eenhede in Suid-Afrika verkoop.
Dit beteken dat die meeste mense met wie jy praat, die een of ander oor Citi te vertelle het. Nes dit die Beetle en Kombi is wat die ou dae – die óú ou dae – nou nog lewend hou, net so is dit Citi Golf waaruit ’n duisend of ’n miljoen meer onlangse stories gebore is.
En – oeps! – dalk kinders ook.
Want dis nou maar een maal so dat seker die helfte van ons land se bevolking hul eerste vry – of ten minste hul eerste motorvry – voor in ’n Beetle of Citi of agter in ’n Kombi gevang het.
Onthou nog die inryteaters! Die paarties! Jou studentedae! Stranduitstappies met branderplanke op die dak vasgemaak, al het jy nie eens geweet hoe om te ‘surf’ nie! Onthou nog die eerste tegniese verandering vis-à-vis Golf 1, naamlik ’n groter tenk wat petrolvolume van 37 na 49 liter gerek het sodat jy skielik die langpad kon aandurf om waarlik afstand tussen jou en jou skoonouers te plaas? Of 1988 se 1.8-liter met 70 kW? Of 1990 se 82 kW CTi-enjin, liewe hemel? Of 1999 se 1.4- en 1.6-liter-bronne met petrolinspuiting? Die nuwe eeu se moderne voorpaneel? Lugverkoeling? ’n Radio/bandspeler? Toe ’n CD?
En vanjaar se drywerslugsak?
Alles in ’n karretjie wat inderwaarheid al 35 jaar oud is, laat staan nog 25! En vir goeie geld in ’n ligte lyfie wat lekker verrigting, hantering en verbruik in’t hand gewerk het.
Sodat jy lekker op jou Citi-vlerke kon vlieg.
Rooi vlerke. Geles. Bloues. Groenes. Perses. Swartes. Wittes. Noem maar, die kleur maak nie saak nie.
Want Citi Golf het ons goed met sy immer-groen en ewig-jonk persoonlikheid asook standvastige karakter en nimmereindigende glimlag gedien. Per slot van sake was hy junior in ’n familie wat selfs vir Sarel, David Kramer en Sannie van der Spuy ingesluit het.
Dis ’n lang reis. Nou’s dit tyd vir rus.
Doen dit in vrede, ou kleintjie. Jy kanna maar. Hemel toe.