Johannesburg

Vrydag

Sunny. Pleasantly warm.

14°C
29°C

7 day forecasts
Hanlie Retief

Hanlie Retief gesels met Dave Pepler

2009-11-21 17:16

Foto: Nasief Manie

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Hy wag my in, ’n skraal man in die middel van ’n groen pad.

Die dag is aan die breek.

Kom in, wink hy, maar suutjies, hier’s twee vaak muskeljaatkatjies wat hy onder die motorafdak grootmaak.

In sy skemer huis, sommer vir ’n welkom, brand drie kerse. Dis ’n ou stal op ’n plaas buite Idasvallei, Stellenbosch, sonder fieterjasies, soos ’n nes in ’n boom.

Ons gaan sit op die boonste stoeptrap. Dis waar Dave Pepler altyd sy dag begin: in die skemerlig, beker koffie in die hand, sitvlak op ’n ou kussing.

Luister, sê hy, janfrederikke… die eerste voëlgesang.

“Die eerste 20 minute van elke dag, waar ek ook al is, is ek vrolik. En dan dink ek, ag jinne, daar kap iemand weer ’n boom af, ’n gletser smelt en?… nóg ’n dag van klaende studente!”

Hy’t in 2005 afgetree as dosent in bewaringsekologie aan die Universiteit van Stellenbosch, en gee deesdae net klas vir meestersgraadstudente.

Idasvallei se tantes, op hul rooi stoepe tussen potplante, ken Dave Pepler as die dun oempie op sy fiets. Maar dié boeiende man met die bokbaardjie se veldbegeleidings op kykNET se Groen het van hom volksbesit gemaak.

Hy’s ons land se groen oempie.

“Nou die dag kom staan ’n man amper bo-op my. Hy sê nie môre nie, nee, begin net bel op sy selfoon. ‘Kittie, raai wie staan hier voor my? Dis die ou mannetjie van Groen.’”

Sy nuwe pragboek, Immergroen – Stories oor plante, het pas verskyn. In sy resensie skryf Hennie Aucamp Dave het hiermee dalk ’n nuwe literêre genre geskep: dokumentêre lirisme.

Hy glimlag lig, skouerophalend, oor dié kompliment.

“Hennie is ’n lewensgewende vriend, al 36 jaar. Ons is veldmense. Hy’s een van twee vriende wat ek het.”

Sy neus lei hom nou na sy volgende boek en nuutste gróót liefhebbery: geure. Parfuum.

Hy gaan haal ’n hand vol parfuumbotteltjies. Trek die eerste proppie versigtig uit: Timbuktu?… “neem jou na ’n oase in die Sahara”. Volgende proppie: Robert Pique se Fracas. “?’n Geur wat ’n straatvrou sal skaam maak!”

Dit het begin as navorsing oor diere se reuksintuiglike kommunikasie, tot waar hy sowaar deesdae geurige plant-distillate Parys toe aanstuur waar ’n parfumeur daarmee eksperimenteer.

“Geur bring beelde, herinnering. ’n Dierbare vriend is vermoor terwyl ek in Cambridge was vir my meestersgraad. Ek kon nie rou nie, ek was te besig, te afgesny.

“Eendag loop ek in Madrid op die Plaza Mayor deur ’n walm van dieselfde parfuum wat hy my 20 jaar tevore gegee het. En daar bars ek in trane uit. Tóé rou ek.”

Hy wil ’n boek skryf oor parfuum en tuine. “Wat moet jy plant en wanneer jy in jou tuin Fracas kan ruik?…”

Ons stap die tuinpaadjie af, deur ’n draad-tuinhekkie. Kyk, wys hy na ’n wit blerts op die grond. “Wouduil. Lieflik.”

Gekneus ná sy egskeiding het hy nege jaar gelede hier kom bly, op sy veearts-vriend se plaas.

Hy haal diep asem. “Ek kan nie glo dat ek al my verskuilde kreatiwiteit kon terugkry ná my egskeiding nie. Wel, eintlik was daar twee dinge: ek het opgehou drink, ook.”

Hy’t baie gedrink, destruktiéf gedrink. Maar ’n stylvolle dronkgat, áltyd. Kon op die verruklikste wyn leglessraak?…

En toe, 12 jaar gelede, hou hy op. Summier. Oor skaamte.

“Een aand was ek te dronk om ’n vriend wat in ’n motorongeluk was te gaan help. Dis die laaste keer wat ek gedrink het.”

Vyftig was Dave Pepler se heropstanding.

Toe’t hy begin léwe.

’n Dekade verder haal hy steeds byna freneties verlore tyd in, soos sy byna 200 bydraes in Groen getuig. Voorverlede jaar was hy binne ses weke in vyf lande. As omgewingskonsultant werk hy die wêreld vol.

Hy gaan staan stil in die gras. Draai om.

“Daar’s nou net plek vir twee soort mense in my lewe. Mense vir wie ek lief is en mense wat ek bewonder. Die res kan met hulself gaan speel.”

Wat sluit dit uit?

“Die teekamers en cocktail parties van die lewe. As jy wil sien hoe ek naarword terugsluk, moet jy tydens fakulteit-tee met ’n teelepel aan ’n koppie tieng-tieng-tieng.”

Hy was die vetste kind in die Laerskool Robertson. Toe besluit hy: vliég julle, ek gaan meer as julle wéét.

Hy’t die dorpsbiblioteek van die ingang af links gevat en al 3?000 boeke gelees. “Ek lees steeds verterend. Hennie Aucamp het eendag gesê vreugde is om vergelykend te kan lees, te luister, te kyk.

“Kán daar groter vreugde wees? Ek begin nou vergelykend lewe. Ek werk in Chili met die Mapuche-Indiane en, terug in my gunsteling-koffiewinkel, sit ek tussen voorstedelike vroue in linnepakkies wat klets oor ontrimpelings?…”

Suburbia gee hom die grillings.

Elke keer as hy oor Bellville vlieg, sidder hy by die gedagte aan al daardie derduisende huise met ’n toiletborsel in élkeen?…

’n Meel-ogie flerts verby. Tsssk-tssk-tssk, lok Dave. “En kyk daai geelpoot-duiwe wat nou hier oorvlieg. Bitterduif.”

Dis tyd vir nog ’n geur. Hy trek die proppie oop. Ons twee op die bo-trap, vier kniekoppe langs mekaar, neuse vol geure, ore vol voëlgeluide.

As konsultant in volhoubare bosbou reis hy na plekke waar min Westerlinge al was. Soos Ekwatoria, diep in Soedan.

Dave het dáár beland nadat ’n vriend toevallig ’n woud Birmaanse kiaat, in 1953 deur die Engelse geplant, uit sy huurvliegtuig raakgesien het.

Dave is deel van ’n span konsultante wat probeer om dié waardevolle hout daar uit te kry.

“Ná 35 jaar van burgeroorlog is Soedan ’n treurspul. ’n Hospitaal met 400 beddens word beman deur vyf óú Italiaanse nonne met snorre. Mense lê in riviere ontlasting, maar hulle glimlag die dag deur, hou hande vas.

“Jy wil net huil, heeltyd. Dis terra incognita. Drie grade noord van die ewenaar.

“En dan kom jy terug na die vroue in linnepakkies?… ek wil van hierdie malligheid geen deel wees nie.

“In Patagonië gesels ek en ’n ou Indiaanse oom oor die woude wat uitgekap word. Ek sê vir hom: maar dis nie net bóme nie – wat van die klippe, die blare? En net daar verhelder sy gesig soos iemand wat ’n geliefde sien.

“Aaa, sê hy, señor, jy wéét mos: alles is heilig?…

“Dís wat my so móég maak van hierdie vernietiging van die aarde, die gebrek aan respek vir alles wat lewe.”

Voordat hy op 40 getrou het, het Dave beurte gemaak met sy vakansies: een jaar oorsee, die volgende jaar verken hy die Karoo van hoek tot kant met sy groen VW Kewer en sy hond, Padda.

Nog áltyd gee hy homself sulke verbete opdragte. Soektogte na iets seldsaams en ver.

Die eerste, seunskind-een: vind die nes van ’n valdeurspinnekop.

In die Atacama-woestyn, die geboorteplek van die digteres Gabriela Mistral, in Konya (Turkye) die dansende derwisj. Hy lag. “Reise het gewoonlik ’n onbeplande dimensie wat meer bevredig as die oorspronklike idee.”

Sy kop is soos ’n iPod.

In sy reiskoffer is altyd ’n báie goeie kamera, ’n báie goeie rekenaar en ’n iPod met weke se musiek en minstens 100 rolprente. “Ek lê in ’n tent in Soedan en kyk Terrence Malick se Badlands in die middel van die reënwoud.”

Hy lag vir my verstomde gesig.

“Nee maar hoekom nie? G’n siel kan slaap as die tromme woekoedoekoe nie!

“Dis hoekom ek vir jou sê ek het genoeg gelewe. Regtig, ek het. Nou wil ek afskaal.”

Sy grootwordjare in die Breëriviervallei was tussen storiemense en tuiniers. Hy gaan wys hulle op sy rekenaar, ou swart-en-wit foto’tjies, haak vas by oupa Boy wat hom altyd in die kruiwa die veld ingestoot het, en by antie Poep, hul huishulp.

Dis oor antie Poep dat Dave nooit meer in die kerk kom nie.

“Ek en my pa, Peppie, het gesit en gesels toe hy gesterf het aan ’n hartaanval. Hy was 57, drie jaar jonger as ek nou. Met die begrafnisreëlings sê ek vir die dominee dis ek, Ma, my suster en antie Poep. Die predikant sê: maar dis mos ’n Kléúrlingvrou. Op die begrafnis het sy gewag tot almal in die kerk is, en toe in die oop deur gestaan en huil. Antie Poep, wat met bedtyd ons kindervoete uit liéfde nag gesoen het.

“Ek was nooit weer in die kerk nie.”

Soos grond, soos veld, kom nog iets ’n leeftyd saam met Dave: die diepdonkerte van depressie.

“Maar dit het my geleer om altyd eerlik met die alledaagse om te gaan. Soos die Japanners sê: Noudat my skuur afgebrand het, het ek ’n onbelemmerde uitsig op die maan.”

Ons kyk vir die bandkeeljantjies in die gras.

“Weet jy, die mooiste Afrikaanse woord wat ek ken, is verbeelding. Ver-beeld-ing.

“Die beloning van Groen, glo ek, is dat dit mense anders laat kyk na die natuur, dat hulle fundamenteel anders daarmee sal begin omgaan. Wat is ons ná ons dood? As jy gelukkig is, ’n voetnota. Miskien is dit my belegging, my teruggee.”

So. Op 50, dankie tog, het Dave sy eintlike krag ontdek.

Hy laat ons anders kyk, nuut kyk. Die vetplant op jou balkon word die katedraal van Keulen. Jy’t net verbeelding nodig.

Ver-beeld-ing.

Ons stap terug, die son nou warm op ons koppe.

Dagbreek is verby.

- Rapport

Lewer kommentaar op dié storie


Brisbane 11/22/2009 11:00:59 AM
Hoe hartverskeurend mooi is hierdie artikel nie ! Ek het al vergeet hoe hy klink as hy Groen aanbied. Hier in hierdie wereld is daar nie mense met so 'n passie nie...almal doen dit maar vir verskillende redes..die passie is afwesig. Sleg om so met die 'swart hond' saam te lewe...hy't my hart oor daardie swaar wat hy mee saamlewe. Hanlie het hierdie artikel met wonderlike delikate 'vingers' gedoen. Mooi so !
Jofranie 11/22/2009 11:04:56 AM
WOW.
Krap 11/22/2009 1:50:59 PM
Loop Dave ook op water?
Jeanette 11/23/2009 11:18:23 AM
Dankie vir mense soos Dave, wat ons so meevoer met sy woorde en kennis - en Hanlie wat altyd met soveel deernis ander se "menswees" aan ons openbaar.
Jay Hall 11/23/2009 3:41:52 PM
"Dagbreek is verby" - en in daardie tydjie gebeur 'n leeftyd se dinge! Dit is so mooi geskryf Hanlie, pragtig! Ek woon en werk in Malawi. My vrou en ek ervaar ook elke dag die prag van die natuur waar ons bly en in ons tuin 'n broeipaar Afrikaanse sperwers, twee bosuile en Ross loeries. Ons kan dit maar met min mense deel, allermins in Afrikaans.
Ben 11/29/2009 4:37:56 AM
Wie is die ou nou eintlik? En Hanlie se skryfstyl is irriterend.
Jou naam
*
E-posadres
*
Kommentaar
*
 
 
 

binne rapport

Weer
Verkeer
Lotto
Ksd: 19-24°C Sunny. Mild. Jhb: 18-32°C Sunny. Pleasantly warm.
Dbn: 14-29°C Sunny. Pleasantly warm. Pta: 16-32°C Sunny. Pleasantly warm.
Bfn: 22-30°C More sun than clouds. Warm. PE: 22-27°C More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Head of Finance: CA(SA)

Gauteng - Johannesburg
Network Recruitment CA- Centurion
R700,000-990,000 Per Annum Cost To Company

Department Head - Treasury

Gauteng
Bridgena Barnard Personnel Group

Senior Finance Manager: CA(SA)

Gauteng - Johannesburg
Network Recruitment CA- Centurion
R700,000-990,000 Per Annum Cost To Company

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

MERCEDES

S350 AT MY06
2009
R 849,995.00

AUDI

TT Coupe Quattro 3.2 DSG
2006
R 289,990.00

BMW

328i Individual (E36)
1997
R 59,900.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

BANTRY BAY

Single Residential - House R 27 000 000

MORNINGSIDE

Single Residential - House R 16 500 000

UMDLOTI BEACH

Single Residential - House R 6 800 000

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Gratis Speletjies - TE VEEL NUUS? Neem ‘n blaaskans

Kalahari.net - doen vandag jou inkopies aanlyn

1000e Kersspeelgoed op Uitverkoping

Hope Speelgoed, gratis toedraai, laagste pryse op Lego Mindstorm, Ben 10, Hannah Montana & meer!

Musiek op Promosie

100e Feesvrystellings nou in voorraad! Now, Bump 25, Bon Jovi & meer!

Fantastiese Feesflieks

46 000 DVD's en Blu-Ray nou op uitverkoping! Bestel District 9!

Slanke Nuwe iPod Reeks - Bestel nou!

iPod nano 16GB - Swart, Was R2,499.00 Nou R2,299.00! Spaar R200!

Groot Feesbesparings op Boeke

2.3 miljoen titels om van te kies.

Vandag se beste aanbod!

Oscars 2010 DVD' s op Uitverkoping

82 Jaar van Uitstaande Rolprente

Casablanca, Titanic, Braveheart, American Beauty, Silence Of The Lambs & meer!

iPods, Wii, toebehore, sonbrille, horlosies & meer by www.kalahari.net!