FW-toespraak kort krediet
2010-02-06 16:50
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
My broer en sy gesin het onlangs, tot ons familie se groot vreugde, na Suid-Afrika teruggekeer nadat hulle ses jaar lank in die VSA gewoon het.
Nou die dag gesels ons oor die mense wat so onboetvaardig te kere gaan in die briewekolomme teen oudpres. FW de Klerk. Meer as onboetvaardig, eintlik. Veral as jy die internetdeelnemers se taalgebruik byreken: Ongepoets en vieslik.
My broer kon byna nie glo sulke mense bestaan nie. “Wat gaan aan met hulle?” het hy gevra. Dit het my laat wonder oor diegene wat hulle in die jammerlike geselskap van die ANC-jeugliga bevind, wat nie aan De Klerk die hoogste erkenning gee vir sy dapper stap nie. Sedertdien kan mens met hom oor baie dinge verskil, maar sowaar nie oor die moed van 2 Februarie 1990 nie.
Wat die ANC-jeugliga betref, is hul gedrag presies so onredbaar swak soos gewoonlik. Om te wag op nugtere denke uit daardie oord sal jou sowaar oud maak!
Maar wat die regses betref wat De Klerk uitkryt as ’n kapituleerder en ’n volksverraaier: Daar skort bepaald iets met hul argumente.
As De Klerk nie sy toespraak gelewer het nie, was daar vandag steeds aparte skole en woonbuurte, en het almal behalwe blankes steeds nie gelyke burgerregte gehad nie. Gestroop van alles, is dit eintlik waarna De Klerk se regse kritici terughunker.
Hulle versluier hul kritiek goed, soos hul destydse politieke tuiste, die KP, ook gedoen het. Geldige klagtes oor misdaad of taalverdringing word vervorm tot regverdiging vir rassisme, nes rassisme destyds sonder sukses as “selfbeskikking” bemark is.
Waag dit deesdae om positief te wees, om die mooi in die land uit te wys, en daar is ’n beledigende geteem van regs. Ag, ons almal ken dit al – hierdie mense wat kla as enigste credo aanvaar het.
Die afgelope week was dit duidelik dat sulke soort beledigende mense De Klerk en sy oudkollegas soms onderkry. ’n Klomp van hulle was Dinsdag byeen, met veral oudministers Pik Botha en Leon Wessels wat ’n belewenis was om mee te gesels.
Die punt wat belangrik is om te onthou is dat die harde regse kern nog altyd daar was. Die bewerings van verraad is tog nie nuut nie. Dis al in die 1980’s gebruik, en veral ná 1990, toe die KP geglo het ’n paar tussenverkiesingsuitslae beteken hulle het die meerderheid wit steun.
Toe nou nie. In Maart 1992 het De Klerk hul bluf geroep en twee derdes van die wit kiesers het nee dankie gesê vir die onfatsoenlike regse strydpraatjies. Die regse opsie het net daar, soos een van hul leiers, van die perd geval. En in Maart 1994 is die bittereinders ’n les geleer deur die magtige Boputhatswana se weermag – ’n vernederende werklikheidstoets vir die grootpraters.
Iets om te onthou is dat die regses, selfs in die verpletterende 1992-nederlaag, 875?619 stemme getrek het. In 1994 het dit afgeneem na 424?555. Verlede jaar was dit 146?796.
Dis min steun, maar genoeg om ’n redelike lawaai te maak. En hoe minder dit word, hoe bitterder en hoe skriller sal hulle raak. Dis te wagte.
Van die res van ons: ’n groot dankie aan u, mnr. De Klerk, dat u ons vrygemaak het op 2 Februarie. Dit was die grootste, die helderste en die moedigste daad tot nog toe deur ’n Afrikaner. Dit was die kans om van ons land iets goeds te maak en ’n nie-rassige toekoms te bou.
Dat dit nie perfek uitgewerk het nie, was eweneens te wagte. Ons huidige regering is baie gebrekkig, maar word sterk teengestaan binne ons demokrasie deur streng, beginselgedrewe opposisie.
Sedert 1990 het De Klerk ’n mens al teleurgestel. Sy napraat van mnr. Marthinus van Schalkwyk se opportunisme was vreeslik, en mens onderskryf kollega Johann Maarman se sentiment verlede week in ons koerant oor paternalisme.
Maar vir die moed van 2 Februarie 1990 en die geleenthede wat dit ontsluit het, net een opregte woord: Dankie.