Mag en reg in die Vrystaat
2009-10-31 14:28
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op

Die Reitz-kwessie, wat sedert prof. Jonathan Jansen se inhuldigingstoespraak as rektor van die Vrystaatse Universiteit opgevlam het, plaas die kollig op baie vrae en menings oor magsverhoudinge en motiewe in ons samelewing.
So byvoorbeeld wonder baie mense oor die mag van Julius Malema en die ANC-jeugliga, oor die magte van die rektor, om van die mag van vergiffenis nie eens te praat nie.
Dit behoort ons ook te laat wonder oor die magsverhoudings tussen diegene wat maatskaplik van ’n hoër stand is en diegene wat in ’n werksituasie aan hulle ondergeskik is. Maar kom ons kom later daarby, en kyk gou na die magsverhoudinge onderliggend aan die afgelope week se Malema/Jansen-ontmoeting.
Menige mens het seker gewonder of die ANC-jongeling enigsins daar hoort – en binne die wet of die beginsels wat universiteite redelike outonomie gee, hoort geen politieke party daar nie.
Maar een van die redes waarom ek Jansen so leer bewonder het die afgelope tien jaar is dat hy so ’n redelike denker is dat hy jou gewoonlik heel vriendelik van sy saak sal oortuig as jy met hom gesels.
Dat hy dit met Malema reggekry het bewys daardie punt, hoewel ek sowaar nie gedink het dis dié slag moontlik nie. En ja, mens moet Malema die eer gee wat hom toekom: hy was oop vir oortuiging.
Die ander, meer pragmatiese rede hoekom dit tog maar goed was dat Jansen vir Malema ontvang het, was ongelukkig die werklikheid van “mag is reg”. ’n Rustige akademiese atmosfeer is noodsaaklik. ’n Voortdurend opgeruide ANC sou dit ontwrig. Ná die Malema-ontmoeting heers ’n beter kans op rustigheid.
’n Newe-argument voortspruitend uit die Reitz-gebeure is die vraag of wit steun vir Jansen nou skielik ontstaan omdat hy gesien word as ’n teenwig tot die ANC.
Ek hoop en glo almal, ongeag ras, wat Jansen ondersteun, doen dit op grond van sy optrede en die inhoud van sy toespraak. Bepaald is dit hoekom ons hier by Rapport besluit het om die toespraak twee weke gelede so volledig moontlik te plaas – voor enige aanduiding dat die ANC daarmee ontevrede kon wees.
Enigeen wat Jansen dogmaties partypolities wil indeel is op dun ys – hy steur hom min aan magsverhoudinge in die politiek. Die regte optrede in elke geval, soos hy dit verstaan, rig sy tred.
Terwyl hierdie magskwessies almal interessant is, is daar ’n argument in Afrikaanse briewekolomme wat aandag verdien, want dis ontstellend.
Alte dikwels word aangevoer die gebeure was onskuldige studentepret waaraan die skoonmakers vrywillig en glimlaggend meegedoen het. Om dit te beweer, is om magsverhoudinge verkeerd te verstaan, hopelik nie aspris nie.
In enige professionele magsverhouding staan die mindere in ’n mate verleë jeens die maghebber. Hoe beter jy is in jou werk, hoe wyer jou opsies en hoe beter gekwalifiseerd jy is, hoe minder verleë is jy.
Daardie skoonmakers is ongeskoold, en dis vroue wat as broodwinners vir hul gesinne optree in gemeenskappe waar baie meer as die helfte van die mense krepeer te midde van werkloosheid. Daar is geen groter vrees as om die vastigheid van werk te verloor nie. Daardie werk is al manier uit die armoedeslagyster se ellende, al manier waarop jy hoop het vir jou kinders, al kans op selfrespek, al skild teen moedeloosheid.
Daarom grinnik jy maar saam vir die baas se simpel grappies, want jy moenie jou werk verloor nie. Daarom sluk jy jou trots, want jy moet net nie jou werk verloor nie. Daarom hou jy jou mond en doen mee, want jy moet net nie jou werk verloor nie.
Jinne mense, dis die werklikheid. Wie nie deernis het vir die posisie van die skoonmaker en die kwesbaarheid van haar menswaardigheid begryp nie, ignoreer die magsverhoudinge in ons land en is ongevoelig oor die aard van verontmenslikende armoede.
- Rapport