Johannesburg

Dinsdag

Morning clouds. Mild.

14°C
25°C

7 day forecasts

Lees Bybel met groen bril of word vernietig

2009-10-24 21:08

Prof. Erik Holm

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Johannes de Villiers

’n Afgetrede insektekenner het ’n byenes in die teologie oopgekrap met ’n lesing waarin hy vra dat die Bybel nuut gelees moet word met die huidige ekologiese krisis in gedagte.

Prof. Erik Holm, bekende entomoloog, het die laaste weke op ’n NG sinode, by gemeentes, in die Kerkbodeen by die Nuwe Hervormers ’n pleidooi gelewer wat baie in kerkkringe laat gons.

Die wêreld stuur op ’n mens­gemaakte ramp af waarin alle lewe binnekort vernietig kan word, sê Holm. Een van die min maniere waarop dié ramp vermy kan word, is as mense leer om die Bybel deur ’n groen bril te lees.

“Baie van die ekologiese insigte wat ons nodig het om te oorleef is eintlik oeroue wyshede uit die Bybel, maar ons het dit misgekyk.”

Godsdienste fokus tradisioneel op mense eerder as die natuur. “Tot dusver was al die groot religieë verbasend stil (oor die dreigende ekologiese ramp weens aardverhitting).”

In die era van toenemende sekularisasie ontstaan ’n groen etiek nou, een wat nie gaan om mense se interaksies nie, maar oor respek vir die natuurlike omgewing. In Berlyn is net 30% van die bevolking belydende Christene terwyl 99% glo in ’n groen etiek. “Die groen etiek is besig om die been onder alle gelowe uit te trek.”

Die Christelike etiek moet nou ook herdink word. “Die kerk het nog ’n funksie, maar hy kan dit net vervul as hy hom van die dogma van die verlede losmaak en ophou om hom tot ’n intermenslike etiek te beperk.”

Volgens Holm vereis dit dat mense God se opdrag aan Adam om aan die diere name te gee, moet lees as ’n opdrag om die natuurlike wêreld beter te leer ken. Hulle sal God se aanstelling van Adam as leenheer van die skepping moet herdink (“as jy iets van God leen, moet jy dit teruggee in dieselfde of ’n beter toestand as waarin jy dit gekry het”).

En hulle moet besef dat die Bybelse opdrag om vrugbaar te wees en “die wêreld te vul” erg oortree word (“ons het nie die aarde gevul nie, ons het sy drakrag vier keer oorskry”).

Hoewel die Ou Testament dikwels wreed oor mense berig, is dit poëties en filosofies oor die waarde van die natuurlike landskap en diere.

Holm meen as die kerk in dié gevaartyd relevant wil wees, moet hulle “die feite van die wetenskap in hul wyshede begin inbou. Die kerk gaan ’n intermenslike etiek moet uitbou tot iets wat werklik globaal is.”

- Rapport

Lewer kommentaar op dié storie


Kruispad 10/24/2009 9:47:11 PM
As ek 'n PROF of 'n DR. hoor 'n mening gee gaan alle gevaar ligte aan. MAW die rooi ligte. Ek verwys na "Die wêreld stuur op ’n mens­gemaakte ramp af waarin alle lewe binnekort vernietig kan word, sê Holm" Ek verwys na "Vernietig KAN word"... Wel prof die Here Jesus het gese die Aarde en alles daarin GAAN vernietig word, nie KAN nie, maar GAAN. Ons is in die laaste UUR. Vergeet daarvan om te lees wat net jy wil sien, jy moet die Here begin vra om Sy Woord vir jou ooptebreek. Ek staan werklik verstom hoe hierdie "slim" mense nie 'n benul het wat werklik aan die gebeur is nie. Ek se altyd, die slim mense is toe nou nie so slim nie. Hierdie Prof het 'n godsdiens, jy noem dit evolusie! Begin weer die Here aanroep soos 'n kind!
Leon 10/24/2009 11:51:12 PM
Bekommer jou eerder oor jou redding en nie die aarde nie. God het gese "gaan en vul die aarde." Hy het nie gese "tot julle dink dis genoeg nie." Alles het 'n doel en 'n einde. Die aarde se tyd raak min. GET OVER IT!! Raak besig en red soveel siele as wat jy kan. Dit is ook God se opdrag.
Francois 10/25/2009 12:30:22 AM
10 uit 10 vir jou dokter! Ongelukkig dink Christene hulle kan maar die aarde opmors, want ons leef mos "in die eindtyd", en Jesus gaan mos in elke geval die gelowiges wegraap as dinge te rof raak, om vir hulle vlerkies en harpies te gee.
Lene 10/25/2009 12:41:38 AM
Uiteindelik is daar iemand wat "sense" maak...ek stem totaal saam met Prof. Holm
Magda Kopp 10/25/2009 1:00:56 AM
Jammer Professor maar in die eerste plek lees ek my Bybel deur die werking van die Heilige Gees. Die mensdom op hierdie aarde sal net verdwyn deur die wederkoms van Jesus Christus. Omdat sy liefde so groot is vir die mens stel hy sy koms uit omdat Hy wil he dat almal moet glo dat Jesus Christus die Here is. Tweedens as jy in die vlees lewe dan sal jy sulke dinge kwytraak want elke kind van God weet hoekom ons geskape is alleenlik om God te dien en ons naaste lief te he soos ons self. Die aarde behoort aan God en die volheid daarvan want aan Hom is gegee alle mag in die Hemel en op die aarde en Hy alleen sal besluit wanneer die einde aangebreek het. My redding hang nie af van n goedversorgde natuur nie maar die reddende genade van Jesus Christus. Natuurlik moet ons die omgewing mooi en skoon hou maar gaan leer jy dit vir die bewoners van Afrika wat alles wat voorkom afkap en afbrand. Nee proffie ek het die woord van God lief en ek verlustig my in my Skepper.
outoppie 10/25/2009 2:39:02 AM
In Afrika kan ek nie dink aan 'n groter ekologiese ramp as die Karibadam en tabakrook nie. Kariba water van 40 voet diep het 250 km reenwoud versuip en huurpag tabakplase die groot oorsaak van die politieke wanpraktyke. Die onetiese goed het altyd 'n domino effek. Ware Christende boer met die natuur met liefdevolle respek vir die skepping of hetsy plante diere of jou eie liggaam synde die tempel van God. Ja die prof is reg maar hy kan begin deur Dagon die ou pyp weg te gooi. Woorde wek maar voorbeelde trek!! daar is net EEN etiek en dit is die Bybel - die fabriekshandboek van die ganse skepping. Mooi gedagte prof!!
Erik 10/25/2009 3:50:33 AM
Ai, hy het soveel wysheid. Wens daar was meer mense soos hy. Dankie prof!
Ray 10/25/2009 8:01:21 AM
Ja, alles waarna 'n mens soek is opgeteken in die Bybel. 'n Mens moet net dit gaan lees...
ANTON PRETORIUS 10/25/2009 8:13:50 AM
Prof Holm ons moet natuurlik met verantwoordelikheid met ons aarde omgaan. Die probleem kom in wanneer ons god wil speel en van die standpunt uitgaan dat ons in beheer is van die toekoms van hierdie wereld is. Ons was, is en sal nooit wees nie. God alleen is. Hierdie "groen" beweging is eintlik niks anders as net nog 'n godsdiens nie, met hulle god die wereld - "mother earth ". God laat toe dat daar soveel mense op aarde is. Wie gee ons die reg om nou getalle te probeer beperk deur o.a. aborsies uit te voer - dit is 'n gruwel in Sy oe. Prof Holm moet asb. nie probeer om die kerk nou "groen " te maak nie. Nerens is daar in die Bybel gesag daarvoor nie
Dok Jan 10/25/2009 8:36:51 AM
The original sin... Om vrugbaar te wees en die aarde te vul. As gevolg van dit is daar 6 biljoen van ons en is ons besig om in die see weg te sink. En dan is mense nog bekommerd dat "gays nie teel nie." Goddank. Moet ons nie liewer bekommerd wees oor die feit dat straight mense WEL teel nie en dat dit klaarblyklik buite beheer is?
Koos 10/25/2009 8:49:14 AM
Briljant prof Holm, briljant. Die Kerk moes lankal meer groen begin dink het. Die mens het 'n verantwoordelikheid teenoor die skepping wat nie net die mensdom as sodanig insluit nie, maar ook die natuur. Hoe kan dit sin maak dat ons aan die een kant ons Skepper aanbid, ons verlossing in Christus bely, maar aan die ander kant vernietig ons alles om ons. Die Kerk en gelowiges versaak hul Goddelike opdrag nl. om met verantwoordelikheid met die skepping te handel. Laastens, prof Holm, jy lyk baie bakgat met daai pyp.
Francois Marais 10/25/2009 9:38:21 AM
Een van die algemeenste se dinge van wetenskaplikes en predikers van evolusie - ek sie nie die Prof is een nie- is dat die aarde se drakrag oorskry word. Bog!!! Dis agv die sondeval en mense se sondes dat die drakrag van die aarde oorkry word. Kyk maar net na Zimbabwe wat die kosmandjie van Afrika was. Ja nou is daar te veel mense want daar is nie eer kos nie. Ry maar net deur Suid Afrika. Daar is baie grond. Daar is plek vir baie mense op aarde. Die aarde is nie oorbewei nie. Net 'n klein kommentaar op n verkeerde stelling.
Klaasvakie 10/25/2009 9:45:14 AM
Ek het ook ‘n vraag vir die konvensionele christene (ek het dit op die ander forum ook gevra. As daar dan ‘n hemel is wat dan nou soveel beter is as die plek, hoekom is AL die christene (sonder uitsondering) wat ek al ontmoet het depressed en ongelukkig as hulle hoor hulle het ‘n terminale siekte soos kanker. Julle moet moet bly wees as julle hoor julle gaan dood, want julle gaan mos nou hemel toe! As ek met vakansie gaan na ‘n lekker plek toe (en volgens hirdie mense is die hemel sommer ‘n baie lekkerder plek as my vakansie plekke), is ek die aand voor ek ry so opgewonde dat ek nie kan slaap nie. Maar die klomp word hartseer en depressed as hulle hoor hulle gaan hemel toe. Word wakker, daar is nie ‘n hemel of ‘n hel in die hienamaals nie…nie eers julle glo dit regtig nie!
Daniel W 10/25/2009 9:52:50 AM
Magda en Kruispad, julle moordklub het met die ontdekking van 'n teenmiddel teen pokke gesê die res mag dit nie ontvang nie en dit is van die Duiwel. Gee my een rede hoekom ons moet luister na die Christengeloof se drogargumente?

Anton, Holm het niks oor aborsie gesê nie. As julle Christene begin kondome gebruik, sal aborsie nie nodig wees nie. Aborsie in Christenneste soos die Bybelgordel in Amerika is per kop vér meer as in die funksionele ateïstiese Skandinawiese lande. Selfde vir Suid-Afrika wat een van die mees goddeurdrenkte lande in die westerse wêreld is.

Ek wonder of Afrikanerpappies weet hoe hul Christendogters op varsity geld klub om vir mekaar se aborsies te betaal en dan in wit trourokkies voor die kansel gaan staan. Ná die aborsie gaan sy net vir 'n kitsbekering en 'n Heilige Gees-aanval by een van die Charismatiese kerke en sy glo, sy is weer 'n maagd.

Haal die balk uit jul eie oog.

Kaltie 10/25/2009 10:25:59 AM
Groen beweging, swart beweging of geen beweging. Ons lewe in babilon en die einde is hier.
Swartluiperd 10/25/2009 11:45:28 AM
12 uit 10 Prof. Holm!

Dit is tyd om die stowwerige dogma van vandag se kerke af te skud. Dit verstom my hoe sogenaamde Christene nie God se 1ste opdrag aan die mens ag slaan nie.

GEN 1:27 - Dit is tog ons taak om oor die aarde te waak as God se verteenwoordiger in sy beeld. Deur ons taak te versuim kan daar net een uitkoms wees.

Ons lot is direk aan die aarde gekoppel en 'n kop in die sand, hande in die lug, laat Gods water oor Gods akker loop houding is pligsversuim.

Ons moet nader aan die natuur leef en nuwe planne maak om haar te beskerm. GOD is een met die natuur - die kerk moes al lankal "groen" gewees het.

giliam 10/25/2009 11:51:03 AM
Ek raak moedeloos en depressief as ek die meeste kommentaar op arme Prof se skrywe hier lees. Die man sê nie ons is groter as God nie, hy sê nie hy wil die kerk verander nie; hy vra slegs dat ons God se skepping beter moet oppas. As kind het ons water uit die Vaalrivier gedrink, vandag kan jy nie daarin loop nie of jy tel n duisend kieme op. Moet ons dan maar net terugsit en Godswater oor Godsakker laat loop? Die mens is besig om algaande in n jellievis te verander. Genade tog.
Netti Botha 10/25/2009 12:09:43 PM
Prof Erik, ek stem saam met wat jy verkondig maar nou wil ek jou reguit vra wat soek daardie pyp in jou mond??? Hoe kan jy dit aan die wonderlike liggaam wat God jou "geleen" het doen om dit vol nikotien te pomp?? Dink daaroor asseblief my vriend.
Swartluiperd 10/25/2009 12:22:46 PM
12 uit 10 Prof! Dit is God se eerste opdrag aan die mens.
WM 10/25/2009 1:32:18 PM
As ek die kommentaar lees is ek nie verbaas dat daar gesê word dat Christene die enigste geloof op aarde is waar jy beloon word vir onnoselheid nie. Waar dwaasheid gesien word as ‘n “virtue”. Iets om te bewonder en na te streef. Min of meer in die lyn van broer Gert is so eenvoudig en dom sy pad is reguit hemel toe.

Dit is geen wonder christene is so aanvallende teenoor "slim" mense nie. Hulle voel bedreig en minderwaardig en binne die kerk word hulle onnoselheid beskou as 'n gawe van die heilige spook. Hoe dommer jy klink hoe groter is jou kans om iemand van belang in die kerk te wees. Glo soos ‘n kindjie en moet asseblief tog nie dink nie.
Die meeste christene wat ek ken het nog nooit eers 'n boek van hoek tot kant deurgelees nie. Dit sluit die bybel in!
40 36 10 10/25/2009 1:51:10 PM
Welgedaan prof! Welgedaan! Ongelukkig dink ek dit is reeds te laat. Die christelike godsdiens en sy bybel is in elk geval ver te eng om enigsins 'n verskil te maak. Hierdie is 'n globale probleem en net 'n globale wêreldbeskouing met daadwerklike aksie kan on miskien nog van onsself red. Ek is bevrees dit hang van BAIE meer af as net die christelike oogpunt wat homself moet aanpas by ‘n snel veranderende wêreld om ons planeet te red. Die mens met sy ‘gebruikersmentaliteit’ is die probleem; ons met ons self toegekende ‘verhewendheid’ bo die natuur is die probleem. Ons uiterste selfsugtige materialisme! Ek dink nie daar is enige godsdiens wat ons hiervan kan genees nie. Verseker nie die christendom in sy huidige vorm nie! Vergeet maar daarvan! As ons moet wag vir christene om groen brille aan te sit gaan ons vir ‘n baie lang tyd wag! En ons het nie ‘n baie lang tyd om te wag nie! Maar nietemin, Prof, baie dankie dat u ‘n ‘stem in die wildernis’ is!
sos 10/25/2009 2:35:22 PM
nie almal wat Here Here se sal die konigkryk van God beerwe nie,en hou op om die Christendom so af te kraak,sies man het julle nie beter dinge om te doen,as om ander se oortuigings af te kraak nie;kry iets vir jou self om te doen,as om ander af te kraak,lees die artiekel en los die mense uit;en God,Hy is nie jou speel maat nie;skaam my vir die mense wat christen mense wil afkraak;nie almal is christene nie,lees biekie die woord wat die Here van jou en my verwag;defenetief nie haat en onmin nie;
Gys 10/25/2009 3:38:50 PM
Daar moenie 'n teenstelling wees tussen mensverhoudings en verhouding met die natuur nie. In Christus het God alles met Homself versoen (Kolossense). Sien die waardevolle in Prof. Holm se pleidooi; Christene is geroep om die lig vir die wêreld te wees. As jy 'n Christen is, laat jou lewe ekologies sin maak. En wat oorbevolking betref, die Bybel leer ons mos dat die mensdom blind is deur die sonde en nie verantwoordelik aan die Skepper leef nie, op die oomblik is 'n groot deel van die probleem dat 'n klein persentasie mense soveel besoedel soos die grootste deel van die mensdom! Dit kan verander, as 'lewenstandaarde' styg, soos in China, in blinde navolging. Moenie die eenvoud van lewe, waarvan die Bybel praat, mis-lees nie. Kyk veral ook na die wette in die Ou Testamant,. bv. die sewende jaar en die Sabbat, wat menslike uitbuiting van medemens en natuur beperk. Jesus het ook al hierdie dinge hulle volle betekenis kom gee. En vir dié wat sê: die einde is hier, moenie worry oor die natuur nie.... leef elke dag asof dit die laaste dag gaan wees, maar behandel God se skepping asof dit van jou afhang dat dit nog baie lank daar gaan wees.
@Netti Botha 10/25/2009 4:13:12 PM
Goed gedoen, Prof.
Geremy 10/25/2009 4:13:58 PM
1000 jaar van nou af sal die mensdom lankal al uitgesterf het. Die aarde sal herstel en voortbestaan. Moenie worry oor die aarde nie.
Gys 10/25/2009 4:14:11 PM
Dag Klaasvakie. In Getsemane het Jesus gevra dat sy Vader die lydensbeker by Hom moet laat verbygaan, maar 'nie My wil nie, U wil'. As mens was Hy natuurlik bedruk oor die naderende dood, as Seun van God tevrede in die wil van sy Vader. Ek dink jou siening is bietjie oppervlakkig (ek dink R. Dawkins maak ook veel van dié argument)en omdat ons almal moet sterwe, gaan jy dalk ook eendag soek na 'n dieper verstaan. Lees liewer Paulus se woorde vanaf 2 Kor. 4.16 en verder. Jy kan daarmee saamstem of nie, dit het ten minste baie om die lyf.
Zeus 10/25/2009 4:27:52 PM
Prof. Holm

Wel gedaan. Bygese, die ironie van die saak is dat nog kerke nog regerings die moed het om populasiegroei (wat as ons eerlik moet wees, eintlik een van die grootste bedreigings vir die mensdom en aarde se voortbestaan is) daadwerklik aan te spreek.

Die mens se vooruitgang sal op die ou-einde van die dag sy ondergang ook wees.
Natuurwetenskaplike 10/25/2009 5:23:17 PM
Professor Holm vergeet om holisties na die natuur te kyk. Dat die natuur uit balans is , is ‘n gegewe . Hierdie wanbalanse het verskei kere in die biljoene jare wat die aarde bestaan al voorgekom. Juis uit die wanbalanse en regstellings van die natuur het die mens geëvoleer. Daar sal weer ‘n regstelling kom met heel moontlik nuwe spesies en moontlik meer intellektuele spesies oor ‘n paar honderd duisend jaar . Na ongeveer 4 miljoen jaar sal alles in die ons bekende sterrestelsel totniet gaan wanneer die Son se intensiteit gaan afneem en later verdwyn. Al wat die mensdom tydelik kan red is ‘n ramp wat 4 biljoene mense onmiddellik sal laat sterf . Om na die Bybel te kyk vir oplossings is dieselfde as om te hoop dat Mugabe Zimbabwe ekonomiese voorspoed te gee.
Boerseun 10/25/2009 6:35:44 PM
Oorbevolking kan nie bepaal word net in terme van oop grond nie. Dit gaan oor beskikbare hulpbronne, die volhoudenheid van die natuur as voedselverskaffings-meganisme en vele ander dinge. Ja, vul die aarde is 'n Bybelse opdrag, maar prop die ding tot barstenste toe vol?? Nee beslis nie.
Henry 10/25/2009 7:08:57 PM
Elkeen moet doen wat hy kan om die aarder aan die gang te hou, dis waar. Wysheid begin egter by die huis waar elkeen moet doen wat hy kan. Een stap is om nie die wereld vol tweedehandse rook te vul nie - soos tabakrook. As die man daar begin deur sy pyp weg te gooi kan ek na hom luister anders is hy maar net wat sy eie Bybel na verwys as a klinkende simbaal - groot geluid, min aksie.
Louis Bothma 10/26/2009 7:31:39 AM
Mooi so prof Holm ! Kleur alles mooi groen. Alles gaan in die eerste plek oor respek vir die natuur. Insluitend om nie onbeheerst aan te teel nie. Ons wat nie weggeraap gaan word nie, gaan nog lank hier bly. Magda Kopp, gaan na die mier en word wys. Beteken dit nie dat jy in die natuur moet gaan stilstaan en die wonder en grootsheid daarvan moet waardeer nie ? Hoeveel bome is afgekap vir jou gerief ? Vir huise, skole, winkelkomplekse, paaie, ens. ens. ens.Elke keer as jy 'n elektriese apparaat aanskakel, iewers heen ry in jou voertuig,'n koeldrank drink, 'n sjokolade eet ens. ens. ens. dra jy by tot die vernietiging van die aarde. Maar jy veroordeel die 'inwoners van Afrika' as hulle bome afkap ? As jy 'n tuinir aanstel om in jou tuin te werk,en hy sit net en wag vir tjailatyd, gaan jy hom mos nie beloon nie. God het ons opdrag te gee om die aarde te respekteer en oordeelkundig te bewerk. Ons kan mos nou nie net in 'n hoekie gaan sit en op tjailatyd wag nie ! Intussen werk ons aan ruimtetuie, sodat wanneer die son eendag uitgebrand is, ons reeds op ander planete gevestig kan wees...
Harry 10/26/2009 10:52:31 AM
Prof Holm. Daar is n baie goeie rede hoekom die kerk nog nie standpunt ingeneem het rondom ekologiese verantwoordelikheid nie. Dit is alom aanvaar dat omgewings liefde aan die "New Agers" behoort en dus van die duiwel is. Ek staan verstom, veral in Afrika, oor hoe die fokus steeds bly om siele vir Jesus te wen maar nie so lekker seker is waar die siele oor n jaar skoon water gaan kry om te drink nie. n Meer "holistiese" benadering is duidelik die roete om te volg juis omdat die kerk so n kragtige spreekbuis is in ons gemeenskappe. Maar dan moet ek seker die term "holisme" ook lig gebruik want dit kan ook dalk as n alternatiewe geloof beskou word.
40 36 10 10/27/2009 3:21:51 AM
Die professor is ten beste half korrek: ja ons moet groen brille aansit maar ek dink nie dit sal voldoende wees nie. Wat hier nodig is, is dat ons ‘etiese brille’ sal aansit. Wat ons as ‘n planeet broodnodig het is ‘n Etiese Kode waarby ons sal hou en belangriker nog sal leef. Soos hulle in engels sal sê: “a change of mindset is needed”. En dit hoef nie ‘n nuwe Etiek te wees nie. Hier dink ek byvoorbeeld aan ander wat reeds vir ons die pad geloop het. Iemand soos Albert Schweitzer (sekerlik een van die min persone wat ek in die laaste 200 jaar as ‘n teoloog sal beskou – ‘n ware christen in elke opsig; laat die res van ons soos amateurs lyk!) met sy ‘Reverence For Life’ Etiek. Sy oogpunt was dat Etiek niks minder is as ‘Reverence For Life’ nie. Die konsep behels ‘n fundamenteel diep geestelike ingesteldheid/bewuswording in alles wat ons doen, dink, sê en hoe ons nie net ons medemens omgaan nie maar alle lewe self. Dit behels ‘n diepe bewuswording van die Natuur en ons rol daarin maar ook ‘n diepe respek vir alle lewe in sy totale manifestasie. Klink na baie harde werk nè? Die christen bybel bevat egter lydrade of wegwysers na so ‘n Etiek maar sal moet baie diep gelees word om dit te kan ontsluit en om dan daarop te bou as ‘n Etiese Kode. Maar die bybel word nie meer so gelees nie. Lankal nie meer nie. Trouens, die meeste glo dat so 'iets' van die ‘duiwel’ is! Ongelooflik soos dit mag klink!!

Sonder so ‘n Etiese Kode gevestig in die mens se hart, het ons bitter min hoop om uit hierdie selfgemaakte gemors te kom! Geen westerse godsdiens (in hul huidige vorm in elk geval) het die vaagste benul van die bestaan van so ‘n Etiese Kode nie. En as jy nie eers daarvan weet nie, hoe kan jy dit uitleef? Die wat die planeet opmors en dan te wag vir ‘n ‘wegrapingsgebeurtenis’ na ‘n ewige ‘vakansieoord’ om uit die gemors te kom, dui duidelik daarop dat ons teologie ontneem is van enige vorm van Etiek! En die ellende om ons is duidelike bewys daarvan.

Prof, ek is bevrees as jy jou hoop gaan plaas op christene om ‘groen brille’ aan te sit, gaan jy erg teleurgesteld wees! Trouens, ek dink jy mors jou tyd. Jy sou beter af gewees het om miskien jou pleitdooi op die Buddhiste te rig...
Hennie 10/27/2009 5:45:28 AM
@ Klaasvakie...gedienstig aan jou naam verklap jou "stukkie" 'n paar feite omtrent jou menswees. Leef en laat leef swaer / niggie. Hierdie artikel handel oor die natuur en godsdiens en jy hamer op die eeue oue "notion" dat daar nie 'n God is nie. As jy hierdie Waarheid uitgewerk het, hoekom pla dit jou as ander mense nog glo? Is dit omdat jy miskien diep binne smag daarna dat iemand die dieper betekenis van jou eie bestaan aan jou verduidelik? Ek bevestig...as jy nie glo nie dan is dit jou reg en keuse. Jou gesanik oor ander wat wel glo ontbloot dat daar 'n ander motief sit agter die feit dat jy die moeite doen om wel die pen op te tel. Mag jy voorspoedige lewe hier op aarde nuttig. Groetnis
Louis Bothma 10/27/2009 7:28:48 AM
40 36 10. Wat jy praat is Wysheid vanaf die hoër dimensies deurgegee. As almal so kan begin redeneer... Maar wees verheug, daar is 'n reuse Spirituele ontwaking aan die gebeur. En 'n Spirituele leefwyse en respek vir die natuur is 'n onlosmaaklike konsep. Met Spiritueel bedoel ek natuurlik nie godsdienstig nie ! Moeder Natuur sal dinge wel uitsorteer. Sonder die kerk se toestemming.
Gys 10/28/2009 1:27:54 AM
Ek dink nagal nie jy hoef die Bybel so vreeslik diep te lees om 'n etiese kode tov die natuur daarin te ontsluit nie. Die bevooroordeeeldheid teenoor als wat kerk of God is, weerhou mense daarvan om die groot korpus Christelike, ook teologiese, literatuur te lees wat reeds oor die onderwerp geskryf is en om die groot aantal gelowiges te ontmoet wat die samehang van alles ken en uitleef. Hang maar af hoe jy die saak aanroer: as dit vir my lyk na panteisme of spiritualiteit sonder die Spiritus Sanctus, gaan ek ek dit ook nie opeet nie. Dit beteken nie dat ek nie ten diepste 'n natuurmens is nie. Franciscus het vir die voëltjies gepreek en Ps. 149 sê die bome prys God saam met die seuns en meisies. Reeds in die wette aan Israel word duidelike grense vir die mens teenoor die natuur getrek (bv., die sabbat, as jy oorlog maak, moenie die bome aanval nie, moenie 'n bokkie in sy ma se melk kook nie, ens.)en in die nuwe verbond word hierdie etiek in die hart geskryf, m.a.w. so deel van die gelowige dat jy nie daarsonder kan asemhaal nie. Waarom kom dit dan by baie kerkmense nie na vore nie? Materialisme en egosentrisme, wat tog ongeloof is en presies die antitese van geloof! As jy nou jou argumente bou op die gebrek aan etiek by die ongelowige religieuses wat jy waarneem, het jy presies dieselfde bondel vyande wat menige Geesvervulde prediker het! 'Geen westerse godsdiens het 'n benul van die bestaan van so 'n etiese kode nie'. Die sinnetjie wys my jy is heelwat uit voeling met die feit dat die Christendom nie 'n wersterse godsdiens is nie, maar universeel, en dat die meerderheid Christene vandag nie westerlinge is nie, en ook ivm die aard van christelike etiek. Ek vind myself en baie van my Christelike vriende glad nie in die beeld wat julle skep nie. Wat die indruk wek van 'n tweede agenda.... Dus vind ek dat Erik Holm se pleidooi heeltemaal in goeie grond val.
Gys 10/28/2009 1:46:06 AM
Wie is besig om die natuur te vernietig? Die mens. As mense na Jesus gelei word, word hulle gelei na Hom in Wie alles saamhang en gaan die oë oop vir die samehang van boom en wolk, mens en klip, van alles. En dus ook etiek en werk in die verband, want die Christelike geloof is nie werklikheidsontkennend en bloot meditatief van aard nie, dis aktief. Dus: daar is geen teenstelling tussen die redding van siele en om groen te dink nie, inteendeel. Ek dink egter net dat die Christelike geloof verder gaan en meer radikaal is as net om groen te dink.
40 36 10 10/28/2009 7:43:20 AM
Louis: Hierdie 'hoër dimensies' is diep binne ons. Hulle bybel sê tog self ook so (dat die 'koninkryk' binne ons is). Maar uit al die skrywe hierbo soek hulle dit buite hulself. Daar's selfs die wat hoop om 'weggeraap' te word na hierdie fabelagtige 'vakansieoord'. Vir hulle sal dit moeilik wees om die soektog na binne te begin. Baie moeilik...

Lees gerus meer oor wat Albert Schweitzer in sy lewe gedoen het... Daar’s nie baie sulke mense in ons droewige geskiedenis nie maar hulle is darem ‘n handjievol. Schweitzer self was ‘n morele reus en ek moet my kop in skaamte laat sak as ek myself vergelyk met hom. En hy het nooit, maar nooit sy Christenskap voor ander gehou en daaroor gespog nie. Inteendeel! Dit is meer as wat ek van enige van die spul wat hierbo so gal afgaan kan sê. Hulle is ligjare agter hierdie grootse mens.

As ons hierdie morele Etiek wat hy in sy lewe toegepas het (hy het nooit gesê ‘Reverence For Life’ behoort aan hom nie) in ons eie lewens sal toepas, sal AL ons selfgemaakte probleme oornag verdwyn (insluitend ekologie). Dit sal wees soos om die vensters in a kamer wat baie lank toe was skielik oop te maak om die vars lug in te bring. Die ‘stank’ wat so lank rond gehang verdwyn onmiddellik. Dink net daaraan! Maar die groot werk is om die venster oop te kry…easier said than done!

Lees gerus van sy artikels en boeke (en ek bedoel, boeke wat ‘n ou in ‘n biblioteek opspoor – Google maak ons deesdae te lui!). Elkeen van ons het 'n diepe skuld aan sulke individue wat vir ons soos 'n lig op ‘n (donker) pad skyn…ek neem voorbeelde van hoe om te leef van sulke individue se lewens (dié ouens is my idee van ‘celebrity’). Maar wees gewaarsku: sy werke is nie vir plebs nie (nie dat ek impliseer jy is een nie)!
Gys 10/28/2009 12:42:52 PM
My laaste bydrae (vir eers!): DOEN. As Albert Schweitzer jou die weg gewys het, kom ons doen dit. Ek is besig, en jy?
Gys 10/28/2009 12:54:12 PM
Laaste - punt 2! Dis so moeilik vir mense om dinge uit verskillende hoeke te sien. Die indruk dat, as jy op die wederkoms van Christus wag, jy nie gaan omgee vir hierdie aarde nie..... Hoekom?? Om te glo in die hiernamaals: ja, vir baie is dit wêreldontvlugting. Maak mens moedeloos. Maar hiernamaals en ewige lewe is verskillende konsepte. Om te glo in die ewige lewe behoort die teenoorgestelde uitwerking te hê: dit spoor my aan en bekragtig my om hier en nou te lewe en die 'vars lug in te bring'(mooi!). In Martin Luther se woorde: as ek kon weet di einde van die wêreld kom môre, sal ek nog vandag 'n boom plant.
Louis Bothma 10/28/2009 1:16:52 PM
Dankie 40 36 10. Ek verstaan die konsep dat alles eintlik binne ons self te vinde is.Die koninkryk is alles, en die koningkryk is binne in ons. En geen 'verlosser' sal met sigbare tekens neerdaal nie. Elkeen self is sy eie grootste verlosser deur te soek na Wysheid en kennis.Ja, dit is baie moeilik om te beskryf hoe dit voel as jy tot die slotsom gekom het. Ontsnap uit 'n stofkorreltjie is slegs 'n vae beskrywing. Ek sal moeite doen om van Albert Schweister se boeke in die hande te kry. Ek beplan om volgende jaar 'n plaas aan te skaf waar mense wat soos ons dink bymekaar kan kom en lekker kan gesels. Ons sal daardie venster help oopmaak, wees maar net positief. Alles gebeur op tyd, en die mensdom moet ook maar foute maak voor ons leer. Ek is baie positief dat dinge oor so twee of drie jaar ligjare beter gaan lyk. Drink intussen so 'n koeldrankie en 'n biertjie of twee 'n week minder, ens. Elke bietjie help.
Jou naam
*
E-posadres
*
Kommentaar
*
 
 
 

binne rapport

Weer
Verkeer
Lotto
Ksd: 21-26°C Sunny. Mild. Jhb: 17-29°C Sunny. Pleasantly warm.
Dbn: 14-25°C Morning clouds. Mild. Pta: 18-31°C Sprinkles early. More sun than clouds. Pleasantly warm.
Bfn: 24-32°C Sunny. Warm. PE: 22-31°C Drizzle. More sun than clouds. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

AUDI

A4 2.0 TDi Attraction Dsl MY09
2010
R 367,592.00

VOLKSWAGEN

Polo 1.6 Comfortline 5-dr Tiptronic
2008
R 139,900.00

AUDI

A4 1.8T FSi Ambition MY09
2009
R 326,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

BRYANSTON

Single Residential R5,000,000

WHITE RIVER

Single Residential R10,900,000

SUNNINGHILL

Multiple Unit R2,750,000

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Gratis Speletjies - TE VEEL NUUS? Neem ‘n blaaskans

Kalahari.net - doen vandag jou inkopies aanlyn

1000e Kersspeelgoed op Uitverkoping

Hope Speelgoed, gratis toedraai, laagste pryse op Lego Mindstorm, Ben 10, Hannah Montana & meer!

Musiek op Promosie

100e Feesvrystellings nou in voorraad! Now, Bump 25, Bon Jovi & meer!

Fantastiese Feesflieks

46 000 DVD's en Blu-Ray nou op uitverkoping! Bestel District 9!

Slanke Nuwe iPod Reeks - Bestel nou!

iPod nano 16GB - Swart, Was R2,499.00 Nou R2,299.00! Spaar R200!

Groot Feesbesparings op Boeke

2.3 miljoen titels om van te kies.

Vandag se beste aanbod!

Valentynsdag Blomme & Geskenkpakkies

12 Rooi Rose in Sellofaan – Nou R439.00

'n Groot verskeidenheid van Valentynsrose en -blomme, -geskenkpakkies, -juweliersware en baie meer.

iPods, Wii, toebehore, sonbrille, horlosies & meer by www.kalahari.net!