Debat oor Godaanbidding in skole draai dalk in die hof
2009-09-26 21:23
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Johannes de Villiers
Die witwarm herrie oor godsdiensbeoefening in skole kan in die hof draai – om ’n toetssaak oor dié kwessie te word.
Mnr. Hans Pietersen, ’n Stellenbosse ouer, het pas die mantel as een van die mees uitgesproke figure in die veldtog téén godsdiens in skole by prof. George Claassen oorgeneem.
Hy sê hy voel soos Dawid teen Goliat en hy voorsien dat sy geskil met die Laerskool Stellenbosch en ander skole uiteindelik in die hof gevoer kan word.
Dit kan ’n toetssaak oor godsdiens in skole word.
Hoewel hy die kwessie vreedsaam gaan probeer besleg, is daar “nou soveel verskillende vertolkings van die wet dat ’n hof dalk uiteindelik hieroor sal moet beslis”.
Die VF Plus het die afgelope week gesê hy is bereid om aan die kant van die betrokke skool by so ’n hofsaak betrokke te raak.
Die debat oor godsdiens in skole is ontketen toe Claassen namens Skepties Suid-Afrika aangekondig het hulle beoog om skole te vervolg wat in klastyd godsdiens beoefen. Prominente skole soos die Laerskool Stellenbosch en Louw Geldenhuys (in Linden, Johannesburg) was in Claassen se visier.
Intussen het Claassen verklaar sy opponente se uitsprake is onaanvaarbaar beledigend en lasterlik en hy onttrek hom aan die aksie.
Pietersen, een van die ouers namens wie Claassen aanvanklik opgetree het, gaan die stryd egter voortsit.
Hoewel daar die afgelope week in ’n mate eenstemmigheid bereik is dat ’n vorm van godsdiensbeoefening in openbare skole toelaatbaar is, word daar nog wyd gestry oor presies hoe dit gedoen mag word.
Pietersen is veral ontsteld omdat die Laerskool Stellenbosch homself ’n “Christelike” skool noem. Hy meen dis naïef om te dink deelname aan godsdiensbeoefening kan vrywillig wees.
“Daar was ’n klas waar die juffrou gevra het wie Christene is – en toe steek al die kinders hul hande op, insluitend die Moslems, want hulle is te bang hulle word uitgesluit.”
Pietersen wil ’n organisasie genaamd die Afrikanervry-denkersbeweging (AVB) stig en het glo die steun van nog ouers. Dié ouers is lugtig vir mediablootstelling omdat hul-le meen hulle is ’n veragte minderheid en vrees hul kinders kan geviktimiseer word.
Intussen het organisasies soos die NG Kerk en politieke partye vir godsdiens in skole opgestaan.
Volgens dr. Corné Mulder van die VF Plus het Claassen “gekrap waar dit nie jeuk nie”.
Mulder wonder of organisasies soos Skepties Suid-Afrika ander gelowe ook takel en of hulle bloot antichristelik is. “Die VF Plus sal die gemeenskap se belange dien, al moet ons hof toe gaan.”
Ook die Wes-Kaapse DA-leier, mnr. Theuns Botha, sê: “Ek is skepties oor Skepties Suid-Afrika. “Die morele verval van ons samelewing het die punt bereik waar ons na elke grashalmpie moet gryp om sedes te herstel.”
Volgens mnr. Donald Grant, Wes-Kaapse minister van onderwys, het openbare skole op private grond die volste reg om ’n religieuse etos en karakter vir hul skool te bepaal.
Claassen sê hy het die afgelope week heelwat steun ontvang. Daar is ook mense wat nou lede van die organisasie wil word.
- Rapport