Volkslied-fiasko
2009-11-15 00:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Henry Cloete en J.J. Harmse
Wie moet die skuld dra vir die rampspoedige weergawe van die volkslied wat Vrydagaand voor die Springbok-rugbytoets in Frankryk gehoor is?
Die Suid-Afrikaanse ambassade het die Rasta aanbeveel, sê die Franse Rugbyunie.
Bog, sê die ambassade. Die unie het glo ’n lys van Suid-Afrikaanse sangers in die gebied gevra en die ambassade het dit deurgegee, maar geen aanbeveling gedoen nie.
Só erg was dié weergawe van die volkslied dat die Bok-afrigter, Peter de Villiers, dit ná die wedstryd as ’n “klap in die gesig” van die Suid-Afrikaanse span bestempel het.
Die Franse skare in die Toulouse-rugbystadion het egter geskater van die lag vir die Bokke se verleentheid.
Franse rugbyowerhede het gister aan Rapport laat blyk die Suid-Afrikaanse ambassade in Parys het die reggae-sanger Ras Dumisani opgekommandeer om die volkslied te sing.
Dumisani, ’n oud-Durbaniet wat deesdae in Frankryk musiek maak, het met ’n Franse blaasorkes agter hom en twee djembe-tromspelers aan sy sy met ’n skreiend vals weergawe van die volkslied losgetrek.
Dumisani het oor sy woorde geval, hom blykbaar glad nie aan die lied se ritme gesteur nie en lelik oor die hoë note gegly.
Hy het hom in die Afrikaanse gedeelte tot skree gewend toe dit duidelik word dat nóg die note nóg die woorde binne sy bereik is.
Verskeie Springbokke soos Heinrich Brüssow en Bryan Habana het gesukkel om hul lag in te hou, terwyl ander soos Schalk Burger mettertyd ophou sing en die sanger ontevrede aangegluur het.
De Villiers was nie geamuseerd nie.
“Dit is ’n skande en totaal onvanpas. Dit word as ’n klap in ons gesigte beskou, want ons volkslied word duidelik nie deur die Franse gerespekteer nie,” het ’n omgekrapte De Villiers op die perskonferensie gesê.
Victor Matfield was net so vies.
“Dit is ’n emosionele ervaring vir ons. Jy sing vir jou land en speel vir jou land. Dit is kosbaar, soos wanneer jy jou Bok-trui voor ’n toets ontvang. Dit is nie reg dat iemand só daarmee mors nie. Die spelers was nie gelukkig nie.”
Brüssow het gesê hy het aanvanklik gemeen dis snaaks, maar later kwaad geword daaroor.
“Dit was vandag ’n spesiale dag vir Wian (du Preez, wat as Bok gedebuteer het) en nou kom mors iemand dit so op. Dit is veronderstel om ’n groot oomblik te wees en dit was nie,” het Brüssow gesê.
Ryan Kankowski meen ook die grappie het vinnig flou geword. “?’n Mens gebruik die volkslied om jou te inspireer en dit was nie die geval nie. Dit was eerder ’n teleurstelling vir almal.”
Mnr. Lionel Laffitte, kommunikasiehoof van die Franse Rugbyunie, stem saam dat dit ’n ramp was.
“Ons het baie respek vir die Suid-Afrikaners. Soos wat ons altyd met ’n toerspan doen, het ons die ambassade in Parys genader om ’n sanger aan te wys wat die volkslied kan sing. Ons het hulle vertrou.”
Mnr. Shoayb Casoo, gevolmagtigde minister in die ambassade, sê weer die ambassade het ’n aangevraagde lys van Suid-Afrikaanse kunstenaars aan die Franse Rugbyunie voorsien, maar niemand aanbeveel nie.
“Ons kon nie enigiemand aanbeveel nie. Dit was maar net mense van wie ons weet. Ons kon nie vir hulle sê of die mense kan sing of nie.”
Die vermoede bestaan dat die Franse bloot nooit seker gemaak het die man kan wel sing nie.
Dumisani self verstaan nie waaroor die bohaai? gaan nie, berig Sapa-AFP. Hy dink hy het “pragtig” gesing.
“Almal by die stadion het vir my gesê ek het mooi gesing. Nkosi is my liedjie sedert ek ’n baba is – hoe kan ek die woorde nié ken nie?”
Suid-Afrika het die wedstryd met 20-13 verloor.
- Kyk die video by www.rapport.co.za
- Rapport