Selfvoldane bliksem, maar sy seën gaan nooit weg
2009-10-03 20:57
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Rachelle Greeff
Izak de Villiers was ’n bliksem.
’n Korrelkop, selfvoldaan en met ’n tong wat ’n baksteen kon sny. Hy’t my baie maal woedend gemaak, en teleurgestel.
Soos ek vir hom.
Maar ons kon later oor ons wedersydse renonse praat, en lekker lag, juis oor ons fabrieksfoute.
Die eerste keer wat ek hom sien, staan hy op my ma se seeblou Belgiese sitkamermat in Tokai. “Tall, dark and handsome.”
In jeans. Dis huisbesoek en daar word ’n glasie geskink, gelag en gepraat oor Leitourgos (1972), wat ons almal toe al verslind het. Izak en ma Lida praat gelyk, want Ma is ook ’n De Villiers van die Paarl en hul Viljeeskap is vir hulle ’n lewende identiteit.
Ek raai Izak het geglo mense soos hy en Ma is doodeenvoudig Afrikaner-aristokrasie en die romantiese deel van sy Izak-hart eien my net daar as deel van die clan.
Te meer toe hy hoor ek maak gediggies. Opsluit moet ek en my klaswerkboek een Saterdagmiddag na sy pastorie-studeerkamer in Bergvliet. Hy sit agter sy lessenaar, ek op ’n bankie langs hom, onder ’n leeslamp. Hy werk met ’n potlood deur my lomp pogings oor perskebloeisels en maanskynstrale.
“My meisiekind, ek voorspel jy gaan ’n digteres word. Nie ’n grote nie, so ’n middelmatige een soos?…’’ (sy lewe steeds, so kom ons laat die res van dié sin maar daar).
Met presies dieselfde erns het hy my op universiteit gehelp met D.J. Opperman se bundel Negester oor Ninevé (1947).
Katkisasie by hom was heerlik. Terloops, Ma het spesiale moeite gedoen met my wit voorstellingsrok. Om nie net vir God en die gemeente mooi te lyk nie, maar beslis ook vir Izak Viljee.
Hy’t vir my R20 gegee toe ek vroeg 80’s gaan rugsakreis deur Europa. “Gaan eet ’n pizza en dink aan my.’’ Hy was langs my hospitaalbed toe ek wakker word ná ’n jeugdige onbesonnenheid.
Hy’t my getrou en vir my bruidegom gesê: “Ek hoop jy raak vir hierdie meisiekind net so lief soos ek vir haar is.’’
Maar dit was middel 80’s.
Jare later sê Izak hy wil my “grootmaak’’ om eendag by hom oor te neem as redakteur van Sarie. Ek het by die Black Sash aangesluit.
‘Toemaar,’’ smaal hy, “dis net ’n fase. Dit sal verbygaan.”
Ek het my vererg. Toe hy boonop ’n neerbuigende aanmerking maak oor homoseksualiteit – terwyl Koos Prinsloo een van my beste buddieswas – was die koeël deur die kerk. Hy’t die ou orde verteenwoordig en hul vervaldatum was verby.
Maar, gelukkig, het ons mekaar later herontdek en die ou bande net so opgetel. Hy het my steeds sy “meisiekind’’ genoem, “my kind’’ of “Rakkertjie Rok’’.
Hy was deur die jare die ouer man wat my laat verstaan het ek is meer as oukei as vrou en “daai ou saalsakkies is sexy’’ en “ek is trots op jou’’. En dit was belangrik, want in ’n ideale wêreld behoort elke meisie ’n vaderfiguur te hê wat haar uit die vleuels dophou en aanmoedig om seker te maak sy staan sterk in haar skelet as vrou, en mettertyd as mens.
En dit was Izak vir my.
Hy was ook een van die enkele mense wat my deur die sirkusse van die media en die letterkunde gehelp het om die geloof te behou. Die ander persoon – hoe ironies, op hul dag seker aartsvyande – is Desmond Tutu.
“Ek raak keelvol vir die skrywerswêreld,’’ skryf hy in November verlede jaar. Hy is merkbaar sagter en elke gesprek is deurtrek van ’n steeds dieperwordende spiritualiteit.
Ek sien hom staan op die preekstoel in Constantia, met die son wat ’n streep val deur die suil bo sy kop, en die liriese gebed wat soomloos vloei uit die preek. Ek hoor hom sê: “God laat Hom nie ken nie.’’ Of: “God is nie ’n OTM nie.’’
In my Negester oor Ninevé is sy kantaantekeninge in groot potloodletters. Langs die vers “Digter” skryf hy: “Digter as eensame banneling.” By “Negester en stedelig” skryf hy: “Pragtige gedig aan sy kind.” Die laaste paar versreëls onderstreep hy in vet potloodhale: “Opperman se groot digterlike boodskap.”
Hy het daardie dag in die studeerkamer sy voortvarende aangee van literêre kennis meteens onderbreek en stip na my gekyk.
“My meisiekind, mag die Suiderkruis en Negesterre witter as die stedeligte ook in jou siel bly skitter.’’
Aan dié seën twyfel ek baie maal, twyfel ek verskriklik.
Maar dit gaan nooit weg nie, Oudominee. Dankie daarvoor.
*Rachelle Greeff is ‘n skrywer, dramaturg en boeke-redakteur van Rapport.
- Rapport