Die Rubicon se woeste waters is nie enigeen se maat nie
2010-01-30 14:58
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Rian Malan
Ek het amper die ander dag ’n Engelsman gebliksem.
Ons het in die kroeg gesit en gesels oor die 20ste herdenking van FW de Klerk se “groot sprong vorentoe” (Om Mao se term effe te misbruik).
Ek het aan die Engelsman verduidelik dat ek gedink het De Klerk se optrede was ’n heldhaftige daad, amper sonder enige gelyke in die geskiedenis van die mensdom, maar hy wou niks weet nie.
“De Klerk was ’n loser,” het hy gesê, “’n rassis wat tot oorgawe gedwing is deur sanksies, globale isolasie, stakings en geweld in die townships en toe gedwing is om, dekades te laat, die behoorlike ding te doen.”
Die afleiding was natuurlik dat Mandela ’n vriendelike ou oom was wat nooit opgesluit moes gewees het nie en dat die ANC ’n leërskare van psalm-singende gematigdes was wat bloot ten doel gehad het om ’n demokrasie soos Brittanje s’n hier te vestig.
Soos ek gesê het, ek wou hom moer en laat my verduidelik waarom.
Soos ons weet, het De Klerk se Februarie-toespraak alles in die land verander. Vir altyd. In die weke wat kom, sal daar baie debat wees hieroor – die gevolge wat goed was, dié wat minder goed was en die NP se beweerde tekortkominge tydens die daaropvolgende onderhandelinge. Daar sal ook ’n herhaling wees van die ou debat oor wat De Klerk gedryf het om ons oor die drumpel na ’n nuwe wêreld te lei.
Amateur-sielkundiges sal sê dat FW ’n Damaskus-ervaring gehad het, iets wat hom genoop het om apartheid te laat vaar en gelykheid en broederskap te omhels. Daar is egter niks in sy outobiografie om dié Damaskus-teorie te ondersteun nie.
Regses sal hom beskuldig dat hy aan die internasionale geldmag uitverkoop het, maar dit is selfs meer absurd as die teorie dat De Klerk op sy knieë gedwing is deur ’n “katastrofiese” militêre nederlaag by Cuito Canavale.
Ekself heg meer waarde aan ’n gebeurtenis wat aan die ander kant van die aardbol plaasgevind het. Daar is ’n sekere groep links-liberales wat die verband tussen De Klerk se Februarie-toespraak en die val van die Berlynse Muur drie maande tevore betwyfel. Hulle is gewoonlik ook dieselfde mense wat gelag het oor Pretoria se pogings om homself te skilder as die bewakers van demokratiese waardes teen die Rooi Gevaar.
Dit is waar dat Pretoria anti-kommunisme gebruik het as ’n regverdiging vir voortgesette wit heerskappy, maar dit volg nie daarop dat die Totale Aanslag net ’n Nasionale Party drogbeeld was nie.
Volgens Mark Gevisser, Thabo Mbeki se biograaf, was elke lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee in die sewentigerjare – met een uitsondering – geheime lede van die SAKP en dus ondersteuners van Moskou se planne vir die wêreldwye “heerskappy van die werkersklas”.
Op hul eie was hierdie ouens slegs dromers, maar met die Sowjetunie se ondersteuning was hulle ’n ernstige bedreiging, veral nadat Moskou begin het om Kubaanse troepe en Russiese militêre adviseurs saam met miljarde dollars se militêre krygstuig na die Angolese front te stuur.
Hierdie bedreiging het saam met die Sowjetunie afgeneem en totaal verdwyn nadat die Berlynse Muur geval het. Dit het die ANC in ’n posisie gelaat waar enige verdere praatjies van ’n gewapende stryd leë retoriek was.
Hulle wat spot met die erns van Afrikaner-weerstand teen Sowjet-totalitarisme kan gerus daarop let dat, binne weke ná die Sowjet-ineenstorting, De Klerk doelgerig begin beweeg het na ’n vreedsame skikking.
Maar dit verduidelik steeds nie waarom hy dit gedoen het nie. Om die waarheid te sê, militêre strateë sou redeneer dat hy in die teenoorgestelde rigting moes beweeg om voordeel te trek uit sy vyand se swakheid om sy mag te konsolideer.
FW se weermag was onoorwinlik. Sy polisie het tot ’n groot mate die ANC se planne om onrus tot revolusie te voer gefnuik. Ja, sy regime was wêreldwyd baie ongewild en sanksies het begin byt, maar die gevolglike ongemak was steeds draaglik.
Daar was geen onmiddellike bedreiging vir NP-hegemonie nie. De Klerk self het dit erken in ’n toespraak aan polisiehoofde: “Ons het die kapasiteit om aan mag te bly klou vir nog 20 jaar.”
Die ANC se militêre leier Chris Hani het saamgestem en sy Sowjet-ondersteuners gevra om hulself te staal vir minstens nog tien jaar van stryd. Dit was kort voor die val van kommunisme. ’n Mens kan net raai hoe Hani hul kanse daarná beoordeel het.
Wat my, uiteindelik, terugbring by die Engelsman en die rede waarom ek so vies was vir hom.
Wat ek nou gaan sê, mag sommige mense ontstel, maar dan moet dit maar so wees.
Die mens is ’n aggressiewe spesie, gedryf deur ’n selfsugtige geen wat teenstanders uitwis en empaaiers op hul lyke bou.
Laat ons nie skroom om te erken dat dit presies is wat Afrikaners hier aan die suidpunt van Afrika gedoen het nie. Ons ryk was dalk ’n bietjie kleiner as dié van Rome, maar baie meer tegemoetkomend as dié van Stalin en in baie opsigte soortgelyk aan baie Afrika-imperiums van voor-koloniale tye. Dit is in die aard van heerskappye om die imperiale elite te bevoordeel. En het ons nie voordeel getrek nie!
Dit is ook in die aard van empaaiers om uiteindelik te val, gewoonlik met verskriklike bloedverlies en wraakneming, net om vervang te word met ’n nuwe orde net so selfgeldend as die vorige.
Dit is egter nie in die aard van imperiale heersers om te abdikeer in die amper waansinnige geloof dat hul die siklus kan breek nie. Is dit egter nie presies wat FW 20 jaar gelede gedoen het nie?
Daar is diegene wat De Klerk nie die eer gun nie, wat sy grootse gebaar reduseer tot ’n oppervlakkige berekening van die politieke en ekonomiese veranderlikes. Ek kan dit nie aanvaar nie. Ek dink dit was die kulminasie van ’n reis wat baie lank gelede in Afrikaner-harte begin het.
Jan Smuts het geweet as ons Afrika lief het en hier wil bly, as ons Afrikane wil word soos wat ons naam suggereer, ons uiteindelik sou moes vrede maak met ons mede-Afrikane.
John Vorster het dit ook geweet en gewaarsku dat as ons misluk, die gevolge “too ghastly to contemplate” sal wees.
PW Botha het sy volgelinge voor ’n selfs meer drastiese opsie gestel: “Adapt or die.”
Dis woorde wat by jou spook. Woorde van ’n man wat in sy hart geweet het dat hy die Rubicon moet oorsteek, maar wat nooit die durf gehad het om homself in daardie woeste waters te begewe nie.
Dit is aan De Klerk oorgelaat om in te duik. Sy durf is wêreldwyd met lof begroet, maar hulle wat die hardste gejuig het, het sy waagstuk dikwels die minste verstaan. Dit is nie altyd wys om jou wapen te laat sak op ’n kontinent waar dit gevaarlik is om swak en weerloos te wees nie.
Natuurlik is daar sommige Afrikaners wat hom nooit sal vergewe nie, maar ek dink die meeste sou saamstem, al is dit ook deur geklemde kake, dat De Klerk se hand van vriendskap met redelike inskiklikheid ontvang is.
Ons is steeds hier onder die blou van onse volkslied se hemel, steeds besig om te braai en onophoudelik te kla.
Dit is soms moeilik om ’n toekoms te sien, maar as ons in die laer gebly het, het ons geen toekoms hoegenaamd gehad nie.
Enigeen wat hieroor twyfel, hoef net te kyk wat met Israel gebeur het gedurende die afgelope 20 jaar.
Op die dag waarop De Klerk na die mikrofoon gestap het om sy historiese toespraak te maak was God se ander uitverkore volk ook besig om die geleenthede wat die einde van die Koue Oorlog gebied het, te oorweeg.
Hulle het ook ’n kortstondige geleentheid gehad om vrede te maak vanuit ’n posisie van mag, maar die risiko was te groot; hulle het hakke ingeslaan en geweier om die pynlike toegewings te maak wat hul dekades lange skaakmat met die Palestyne sou verbreek.
Vandag is hulle totaal geïsoleer, heeltemal afhanklik van die beskerming van ’n Amerika wie se invloed in die wêreld al kleiner raak en gekonfronteer met ’n fundamentalistiese vyand wat net in een ding belang stel: hul totale vernietiging.
Dit is die vrugte van onversetlikheid en hulle lyk vir my taamlik onsmaaklik.
As dit nie vir FW de Klerk was nie, was wit Suid-Afrikaners nou in ’n soortgelyke, waarskynlik erger, posisie.
Dit is om hierdie rede dat ek voorstel dat ons Dinsdag ons hoed lig vir ’n groot Suid-Afrikaner.
Rian Malan is ’n joernalis en musikant. ’n Versameling van sy artikels, Resident Alien, het pas by Jonathan Ball verskyn.
- Rapport