'Ons was met die rug teen die muur'
2009-12-12 16:58
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Roelf Meyer
In een van die laaste rubrieke wat Chris Louw geskryf het, het hy my uitgedaag om te verduidelik waarom die NP-onderhandelaars nie 15 jaar gelede beter kon doen nie.
Chris is nie meer hier nie en daarom wil ek nie met hom in debat tree nie, maar soos Foeta Krige op sy roudiens gesê het, Chris sou selfs by so ’n geleentheid ’n debat wou aanknoop.
Om dié rede gee ek gehoor aan die versoek: Laat ons debatteer.
Ons het te min daarvan vandag in Suid-Afrika.
Chris Louw was tereg een van dié wat dit begin het toe hy in die laat 1980’s die destydse regering getakel het oor ons gesukkel om die veranderinge aan die gang te kry. Almal soos hy van destyds het ons aan die dink gesit of ons denke aangehelp en ek dank hulle vir daardie bydrae.
Om hierdie debat op koers te kry, wil ek vier vrae vra:
* Hoe sou dit gewees het as ons nie gedoen het wat ons gedoen het in die vroeë 1990’s nie?
* Hoe vergelyk ons vandag met ons gelykes in die internasionale gemeenskap
* Wat kan ons vandag doen om ons eie lewe aanvaarbaarder te maak? en
* Hoe sou dit gewees het as ons nie verander het nie?
’n Mens kan amper nie aan die gevolge dink nie, want soos John Vorster al in die 1970’s gesê het: “The consequences would be too ghastly to contemplate. ”
Die naaste wat ons vandag waarskynlik aan ’n beoordeling van die gevolge sou kan kom, is om te kyk na die redes waarom die veranderinge in 1990 begin het.
Ek dink dit was opgesluit in die volgende vier hoofredes:
* Die internasionale druk was te erg. Sanksies het ons ekonomie vernietig en geen betekenisvolle land ter wêreld het meer die apartheidsregering gesteun nie;
* Die ANC was toe reeds ’n meer erkende verteenwoordiger van Suid-Afrika in die buiteland as die regering; met meer sendings oor die wêreld heen;
* Die binnelandse druk vanweë burgerlike optrede was besig om die regering se vermoë om orde te handhaaf tot die uiterste te beproef; en
* Die oortuiging dat apartheid onregverdig en onverdedigbaar is, het so gegroei in eie geledere dat die boodskap dat ons moet verander hard en duidelik tot die leierskap gekom het, veral toe F.W. de Klerk die bewind oorgeneem het.
As al hierdie faktore opgeweeg word, is dit eerstens duidelik dat ons moes verander en tweedens dat ons eintlik met ons rug teen die muur onderhandel het.
Dit sou soveel beter gewees het as die proses in 1985 kon begin het toe P.W. Botha reeds die geleentheid gehad het om dit te doen, want die regering se posisie met die oog op onderhandelinge het tussen 1985 en 1990 net verswak.
As iemand wat in die vuur van die onderhandelinge was, weet ek dat ons net dankbaar kan wees vir die vreedsame oorgangsproses wat ons bewerkstellig het en my enigste antwoord op die vraag wat ons anders kon gedoen het, is dat ons vroeër moes begin het.
Vandag is die vraag of dit alles die moeite werd was. Die vraag moet beoordeel word teen die agtergrond van hoe ons vergelyk met “vergelykbares” in die res van die wêreld. Ons moet ons met ander woorde nie vergelyk met die Westerse wêreld nie, want ons was nog nooit deel daarvan nie (buiten ’n klein deel van die bevolking), maar met ontwikkelende lande en lande wat onlangs konflik te bowe gekom het. In die laaste groep staan ons kop en skouers uit.
Trouens, Suid-Afrika word steeds vandag in die internasionale gemeenskap voorgehou as ’n baken van suksesvolle konflikbeslegting.
Die vergelykbare prentjie in die ontwikkelende wêreld lyk glad nie sleg nie. Ek het gaan kyk na die 2009-uitgawe van die Economist (sekerlik een van die betroubaarste internasionale bronne) se vergelykende syfers waarin 180 lande en spesifiek die 65 beste ekonomieë ter wêreld vergelyk word.
Ons is die 29ste grootste ekonomie op aarde, terwyl ons bevolkingsgewys die 26ste grootste is. Ons het die 25ste meeste koopkrag, is die 39ste grootste uitvoerder, die 25ste grootste vervaardiger van goedere en die 28ste grootste leweraar van dienste. Op mededingingsvlak beklee ons die 45ste plek, wat nie bevredigend is nie, maar as ’n mens in ag neem dat Brasilië, wat as een van die leiers in die ontwikkelende wêreld beskou word en ’n baie groter ekonomie as ons het, in die 43ste plek is, voel jy beter.
Ek probeer om gereeld Beeld en Rapport en ten minste een Engelse dagblad en Sondagkoerant te lees (terloops, City Press is die moeite werd om te lees as jy wil weet wat in die swart wêreld aangaan) en ek kan nie aan die indruk ontkom dat die Afrikaanse media meer negatief verslag doen as die res nie.
Miskien is die rede dat Afrikaanses meer slegte nuus beleef, of aangelok word deur slegte nuus. Ek weet nie wat die antwoord is nie, maar ek moet erken as ek net die Afrikaanse koerante sou lees, sal ek in wanhoop verval.
Miskien moet ons net ’n bietjie meer positief dink en reageer.
Kom ek noem ’n paar uiteenlopende voorbeelde vir die doeleindes van debat:
* Ek is beïndruk deur Solidariteit se uitgangspunt van konstruktiewe deelname (of hoe hulle dit ook mag noem). Ek was hierdie jaar twee keer in werksessies betrokke waar sy mense verteenwoordig was saam met Suid-Afrikaners van alle oortuigings. Hulle, soos ek, was ver in die minderheid wat ons velkleur betref, maar hulle het respek en agting afgedwing vir hul betrokkenheid en deelname aan debatte oor al die kwessies.
Nie almal het met hulle saamgestem nie, maar almal het geweet dat hierdie mense Suid-Afrikaners in murg en been is. Hulle het die indruk gelaat dat hulle nie die vooropstelling het om met die regering te verskil nie, maar eerder ’n doeltreffende bydrae wil lewer.
* Die tweede voorbeeld is van die een senior vennoot in ons firma wat van Australië kom.
Hy woon en werk reeds vier jaar in Johannesburg, maar kan vanweë sy kwalifikasies en ervaring enige plek ter wêreld wees.
Toe hy vroeër vanjaar by ons aangesluit het, het ek in die onderhoud met hom noodwendig die vraag gevra hoekom hy hier wil bly en by ons aansluit as ’n vennoot, pleks van terug te gaan na Sydney. Sy oombliklike antwoord was: “It would be too boring.” Hy verduidelk toe die energie en dinamika van Suid-Afrika bied vir hom groter uitdagings as die potensiële risiko’s wat hy weet bestaan.
* Die derde voorbeeld (nee, argument) is die gebrek aan entrepreneurskap wat kenmerkend is van ons samelewing.
Ons het nie vandag die Anton Ruperts van weleer (by wyse van voorbeeld) in ons land nie en ek dink dit is tyd dat Afrikaners hieroor praat en die geleenthede opneem.
Ons het steeds ’n paar goeie sakemanne, maar baie min wat nuwe ondernemings of bedrywe op die been bring – dit is eerder die vrugte pluk van dit wat in die verlede begin is. As daar diegene is wat hiervan verskil, is dit goeie rede vir debat, maar onthou, dr. Anton Rupert het sy kleim afgesteek lank voordat die Nasionale Party aan bewind gekom het.
Die negatiewe is daar: Geweldmisdaad, swak onderwys, swak dienslewering, negatiewe gevolge van regstellende aksie en swart bemagtiging, die mislukking van grondhervorming en baie meer.
As ek my egter 20 jaar terug net met die negatiewe besig gehou het, sou ek nie nou hier kon sit en debatteer nie.
Terselfdertyd weet ek dat daar baie positiewe dinge gebeur. Een voorbeeld is die departement van binnelandse sake.
Twee en ’n half jaar gelede het dit gemiddeld 127 dae geneem om ’n identiteitsdokument uit te reik; nou duur dit ongeveer 30 dae.
Dit is steeds dieselfde mense wat daar werk, maar die stelsels is opgeknap en die produksie vloei. Al die foute in die departement is nie uitgeskakel nie en korrupsie vind nog plaas, maar soos die stelsels verbeter word, sal die geleentheid vir korrupsie ook verdwyn.
Want korrupsie vind plaas as mense nie ’n normale diens kry nie.
Ons moet net een ding onthou: Toe hierdie departement in 1994 deel geword het van die nuwe bestel, was die klante wat toe dienste by die departement ontvang het slegs wittes, kleurlinge en Indiërs, met ander woorde ’n sesde van die getal wat vandag daar bedien word.
- Rapport