'Kwasterige ou kêrel' was onvoorspelbaar, maar 'n lojale leeu
2009-10-03 22:35
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Louis de Villiers
Die laaste slag in die Spaanse Burgeroorlog is beëindig in 1979,
veertig jaar ná die val van Madrid, in ’n pastorie in Kaapstad, toe Rina en
Jacques de Villiers die Falangiste, verteenwoordig deur Izak de Villiers, en die
Republikeine, verteenwoordig deur my, fisiek uitmekaar moes hou oor dié reeds
lank vergange Iberiese slagting.
Ek en my pa was kwaai lief vir mekaar, maar ons kon oor álles
baklei.
Polities het ons saamgestem dat ruimtereise en kernkrag wenslik is
en dat die Universiteit van Stellenbosch Afrikaans moet bly. Ons het ook albei
gedink Edith Piaf was wonderlik en dat jy vaskopstutte eerste kies en dat
binnesenters moet verstand hê en reguit hardloop.
Amper alles anders was slagveld. Maar ons het nooit aan mekaar
getwyfel nie.
My oukêrel was so lojaal dat dit ’n tekortkoming was.
Hy is uitgekryt en aangeprys as ’n liberalis en ’n rassis, ’n
fascis en, waaragtig, ’n kommunis; verkramp en verlig, en het hieroor – tot my
ontsteltenis – geskaterlag. Hy het sulke simplistiese kategorieë met oortuiging
verag en mense op hul eie getakseer.
Ons is grootgemaak om goeie straatveërs te respekteer en vrot
professors te minag.
Izak de Villiers het my sy lewe lank verras met sy voorkeure en ek
kon nooit voorspel watter van my vriende hy sou waardeer nie. In my middeljare
het ek naderhand min of meer uitgemaak dat uitgesprokenes met goeie maniere
treffers sou wees, hoewel daar plek was vir skames en ongeskiktes ook.
Hoe was my pa?
Vrygewig, lojaal, moedswillig, bedorwe, snaaks, lojaal,
egosentries, onmoontlik, melancholies, lojaal, sterk, sieklik, lojaal,
vrydenkend, vroom, vasberade, lojaal, te lief vir applous, stroom-op,
aggressief, empaties, verdraagsaam, onverbiddelik, lojaal, ongeduldig,
nuuskierig, ongeskik, liefderik en, het ek al gesê lojaal?
Mooeeeiiii-lik.
Pret.
Reaksionêr? So sê sy teenstanders, maar ek sluk swaar hieraan, want
hoewel ons oor amper niks saamgestem het nie, het ek sy mening meer gerespekteer
as die mening van 90% van dié wat dieselfde boksies as ek tik.
Reaksionêr se voet – hy had ’n broertjie, ’n oom, ’n tannie en hul
hond dood aan ondeurdagte konsensus, ’n onchristelike minagting van gatkruipers.
As almal oor iets saamgestem het, het hy onraad geruik.
Windgat? Hy sou hierop beslis met ’n glimlaggende sweempie swier
skuldig pleit, mits windgatgeid beteken dat jy wéét jy’s nogal goed met wat jy
doen en jy ook nie eens die geringste poging aanwend om weg te steek dat jy dit
weet nie.
Hy was beslis nie te windgat om te weet dat ons in ’n groot, groot
heelal woon en dat ons g’n kans staan om ’n benul te vorm van wat ’n ewigheid
dalk behels nie.
As hy vir die sterre gekyk het, was hy die nederigste van almal. Hy
het geglo almal gaan eendag hemel toe, maar party sal ’n bietjie moet braai vir
die voorreg.
Izak de Villiers se geliefdes, waarvan daar baie is, het verlede
week swaar gesluk aan hul trane. Ons wêreld was onmiddellik stiller sonder sy
gebulder. Verveliger sonder dié kwasterige ou kêrel, die vriend wat jy wis vir
jou ’n koeël sou vat.
Izak de Villiers se vyande, waarvan daar baie is, wag vir sy lyk om
koud te word om op sy herinnering te spoeg. Ek en my broer, Jacques, en my
suster, Chérie, wag op ons beurt vir hulle om te probeer.
En ons is die kinders van ’n leeu.
* Louis de Villiers is senior rugbyskrywer by Rapport.
) ?Louis
de Villiers is senior rugbyskrywer by Sport24.