SA tenoor tree op saam met Helmut Lotti
2002-01-19 21:18
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Chris Coetzer, wat die afgelope jaar groot bekendheid verwerf het as 'n lid van Suid-Afrika se Drie Tenore, is onlangs genooi om saam met die wêreldbekende sanger Helmut Lotti op te tree.
Coetzer is 'n boorling van Warmbad, waar hy al van gr. 1 met sy sangtalent woeker. Ná skool is hy verder deur die sangmeester dr. Jan Strydom opgelei.
Reeds in dié vroeë stadium van sy loopbaan ploeg hy sy musiekkennis terug - hy is sangmeester en die hoof van sy eie sangskool.
Hy gee self klas en onderrig nie meer nie as sewe gevorderde studente wat hy finaal slyp vir die harde wêreld van professionele musiek.
Van die bekendste studente onder sy leiding is die sopraan Marleen Bezuidenhout en Denise Griesel, wat onlangs in die televisieprogram Maak 'n las opgetree het.
Coetzer is aan Lotti voorgestel deur Lente Roode, wat in beheer is van die Jagluiperd-projek net buite Hoedspruit.
Coetzer en Roode se paadjies het vir die eerste keer in Gallagher Estate gekruis toe hy saam met een van sy studente, wat as Wit Willem bekend staan, ten bate van die projek opgetree het.
Lotti het met die bekendstelling van sy Out of Africa-laserskyf die geleentheid gehad om na die musiek van die Drie Tenore te luister en daar en dan besluit Coetzer se stem sal perfek by syne pas.
Gelukkig is Coetzer nie heeltemal verlore vir Suid-Afrikaanse gehore nie en musiekliefhebbers het steeds die geleentheid om hom te hoor sing.
Op 30 Januarie tree hy op in die Delano's-restaurant in die Kolonnade-sentrum en op 14 Februarie in die Waterfront in Centurion.
Vir meer inligting en besprekings, bel Coetzer by tel: 082-396-2371 of stuur 'n faks na (012) 653-5345.
- Rapport