'Julle sal nié leer'
2010-09-04 16:45
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Colin Hendricks in Khayelitsha
Stakende onderwysers in die Wes-Kaap is aktief besig om matrieks te intimideer en só leerlinge se voorbereiding vir die belangrikste eksamen in hul skoolloopbaan te ontwrig.
In die mees skokkende voorbeeld hiervan moes die polisie in Khayelitsha ingeroep word om matrieks te beskerm wat deur stakende onderwysers gedreig is.
Dié leerlinge, angstig oor die naderende matriekeksamen en die feit dat hulle geen bystand van hul stakende onderwysers kry nie, het hul eie studiegroep gestig om mekaar met hul skoolwerk te help.
Die groep, wat in ’n klaskamer van Zola Sekondêre Skool in Site?C gehou is, het egter skaars ’n week gehou. “Van die onderwysers het uitgevind dat ons in ’n ‘geheime plek’ studeer waar ons vir mekaar die werk verduidelik. Hulle het ons begin dreig en gesê ons moet ophou met dít waarmee ons besig is,” vertel Andisiwe Ntabeni (18).
Sy sê die onderwysers, van ’n ander skool as hul eie, het hulle uit die klaskamer geruk en gedreig om hulle aan te rand. Die polisie het gelukkig ingegryp.
Die uiteinde was egter dat hulle hul prysenswaardige pogings om hulself te probeer help, moes staak.
“Ek vrees die eindeksamen. Ek weet nie hoe ek dit gaan regkry sonder die hulp van onderwysers nie,” sê Andisiwe, wie se droom is om volgende jaar menslike hulpbronbestuur aan die Universiteit van Kaapstad te studeer.
Andisiwe en haar maats is nie die enigste kinders op die Kaapse Vlakte wie se toekomsdrome aktief deur stakende onderwysers gesaboteer word nie.
Die skoolhoof van Zola Sekondêr het later ’n busdiens gereël om kinders van Khayelitsha na Kraaifontein te neem sodat hulle daar in veiligheid kon studeer. Stakende onderwysers het egter van dié bus- diens te hore gekom en gedreig om die lesse te gaan ontwrig.
Andisiwe sê die belangrike September-eksamen moes al 24 Augustus begin het.
Sy sê dit is onregverdig dat hulle aan die einde van die jaar dieselfde vraestelle moet skryf as die res van die skole in die Wes-Kaap, waar onderwysers nié staak nie. Maar sy is nie kwaad vir haar onderwysers nie, sy blameer die regering.
“Ons onderwysers doen hul bes. Hulle behoort eintlik nóg meer te kry as wat hulle tans van die regering vra.
“Die hartseer ding is dat ons óns bes doen om ons matriekjaar deur te kom, maar die regering maak dit vir ons so moeilik.”
In Khayelitsha is skole sedert 10 Augustus gesluit. Altesame 96 skole in die Wes-Kaap was vir die grootste deel van die staking toe.
Een van die rekeningkunde-onderwysers by Zola Sekondêr voel verneder deur die regering se min-agting van onderwysers, veral in die minderbevoorregte gebiede.
“Ek, wat die broodwinner is in die huis, wat jare lank gestudeer het aan my onderwysgraad, moet van R8 000 maandeliks leef.”
Hy sê hy doen sy bes om leerlinge te inspireer vir die wêreld wat buite Khayelitsha op hulle wag.
“Maar hoe kan ek hulle inspireer as ek nie eens aan die lewe kan bly nie? Al wat ek nou wil hê, is dat die regering aan ons eise gehoor gee, sodat ons kan teruggaan na ons werk. Ek mis my ‘kinders’...”
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement sê hulle is “baie bekommerd” oor die situasie in Khayelitsha en elders.
Mnr. Paddy Attwell, woordvoerder van die departement, sê hulle beoog ’n week lange “studiekamp” op verskeie “veilige plekke” waar leerlinge wat die ergste geraak is deur die staking ekstra hulp sal kry met die oog op die eindeksamen.
Hulle is ook besig om ekstra leermateriaal aan sekere skole te stuur, wat opvoedkundige DVD’s insluit.
“Ons doel is om te verseker dat opvoeding in die Wes-Kaap voortgesit word in dié moeilike omstandighede,” sê Attwell.
* Vakbonde sal glo môre besluit of hulle die staking beëindig. Staatsdienswerkers eis ’n 8,6%-verhoging; die regering bied 7,5% aan.