Kaapse kinders in Joodse oorlogsopera
2011-07-02 16:57
Colin Hendricks in Kaapstad
Die bekende Joodse kinderopera, Brundibár kom volgende maand vir die eerste keer na die Kunstekaap en groot name het hand by gesit om dit ’n suksesvolle aflewering te maak.
Die bekroonde operasanger, Aviva Pelham gee haar opera-vaardighede aan die rolverdeling van 40 kinders van plaaslike skole.
Sy lei hulle op vir die vyf vertonings wat vanaf 18 tot 21 Julie opgevoer gaan word.
Brundibár is die eerste keer in 1943 in die Joodse konsentrasiekamp, Terezín in Praag opgevoer. Die stuk is in 1938 geskryf deur Hans Krása. Die produksie gaan oor ’n boelie Brundibár wat twee kinders wil keer om geld in te samel om vir hul siek ma melk te koop. Met die hulp van drie diere het die kinders Brundibár se vyandigheid en afsydigheid oorkom. Brundibár is in sommige van die operas, wat 40 minute lank is, as Adolf Hitler voorgestel. Die opera is 55 keer in die konsentrasiekamp opgevoer is.
Die produksie is in die vroeë jare veertigs deur die Nazi’s verfilm om aan die Internasionale Rooikruis te wys dat die lewe in die konsentrasiekampe nie te sleg is nie.
Twee weke na die video-uitsending aan die Rooikruis is Krása en die helfte van die oorspronklike geselskap van Brundibár vergas.
Een van die aktrises in die oorspronklike Brundibár het egter oorleef en gaan die vertoning in Kaapstad kom kyk.
Dit is dus vir Pelham ’n saak van dringendheid dat hierdie aflewering van Brundibár ’n groot sukses moet wees.
Pelham sê hulle het reeds begin repeteer aan die produksie. Sy sê alhoewel die produksie meer as 70 jaar oud is, gaan hierdie een ‘n tukkie Suid-Afrika in hom het.
“Die storie van Brundibár pas so perfek in met die geskiedenis en hedendaagse lewe van Suid-Afrika. Dit is ’n storie van verdrukking en vandag is die storie nog steeds relevant, want boelies is ’n groot deel van ons samelewing.”
Sy sê alhoewel Brundibár mag lyk asof dit ’n simplistiese storielyn het, bevat dit merkwaardige lesse vir kinders om hulself te bemagtig.
“Die grootste les wat Brundibár ons kinders én volwassenes kan leer is om op te staan teen boelies en geweld. Ons kinders kan leer uit ons verlede en hulself toerus vir die toekoms.”
Sy sê Brundibár het destyds vir die Jode gewerk as ’n “middel om te vergeet van die pyn en hartseer waarmee hulle daagliks moes lewe.”
Pelham sê Suid-Afrika se klassieke talent, wat betrokke is by die opera, verstom haar elke dag meer en meer.
“Ek is dalk die grootste aanhanger van plaaslike klassieke talent. Ek weet ons geweldige goeie talent hier.”
Sy sê sy geniet dit om te sien hoe baie die 40 kinders dit geniet om deel te wees van die produksie.
“Van die akteurs het nog nooit in hul lewe drama gedoen nie, en nou gaan hulle in ’n wêreldbekende produksie wees wat in die bekende Kunstekaap opgevoer gaan word. Dis als baie opwindend vir hulle en vir my. Ek leer nog baie by die kinders.”
Aviva sê sy is betrokke by baie gemeenskapsprojekte, maar die een is in sy eie soort.
“Dit is baie gekonsentreerd en die eerste keer dat ek die regie van ’n opera doen, so ek wil hê dit moet van die absolute hoogste kwaliteit wees.
“Die kinders gaan baie pret hê met die produksie, maar ons gaan ook hard week om dit ‘n groot sukses te maak.”
Sy sê Kapenaars kan uitsien na ’n “komplete klein opera met sjarmante karakters en interessante musiek daarby.”
Mnr. Michael Mitchell, bekende kostuum en stelontwerper, sê hy het vir lank aan die uitrustings van Brundibár gewerk om te poog dat dieselfde lyk en voel, met klein veranderinge hier en daar.
“Ons het hierdie Brundibár se kostuum bietjie aangepas om dit soos voorheen opgevoer, te laat lyk asof dit Hitler is, met die snorbaard en kostuum. Maar, verder het ons als gehou soos wat dit in sy oorspronklikheid destyds opgevoer is.”