Max en Pat het ’n ‘date’ aan
2010-09-04 16:45
Marlene Malan in Kaapstad
Die omstrede mnr. Lennit Max, wat dié week onseremonieel as Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid gepos is, het die hand van vriendskap na me. Patricia de Lille uitgesteek.
Max, wat voorheen die Wes-Kaapse leier van die Onafhanklike Demokrate was, en De Lille, dié party se nasionale leier, het voorheen kwaai koppe gestamp nadat hy haar beskuldig het dat sy “honderdduisende rande” van die OD se geld in haar eie sak gesteek het.
De Lille het Max in 2004 van sy pos onthef. ’n Jaar later het sy ’n tugverhoor teen hom ingestel weens “wangedrag en omdat hy die party in oneer gebring het”.
Soos die noodlot dit wil hê, is dié twee egter nou partygenote in die DA en moes Max boonop sy posisie en salaris as Wes-Kaapse kabinetslid prysgee om plek te maak in die provinsiale kabinet. De Lille en mnr. Albert Fritz, ’n DA-LP, is in die plek van onderskeidelik mnr. Sakkie Jenner en Max aangestel.
Max het gister gesê die kwaaivriendskap tussen hulle is vergete en hy het De Lille reeds vroeër vir ete genooi sodat hulle die strydbyl kan begrawe. “Ons het ’n date aan,” het ’n joviale Max gister aan KaapRapport gesê.
Gevra in watter Kaapse spogrestaurant hy ’n tafel vir hulle tweetjies gaan bespreek, het Max geskerm en gesê die keuse van venue is De Lille s’n.
Hy sê die verskille tussen hom en De Lille was nooit persoonlik nie. “Op politieke terrein hap ons mekaar soms, maar ons gesels ook lekker.”
De Lille het bevestig dat Max haar vir ete genooi het: “Ek aanvaar die uitnodiging, maar besluit nog wanneer.”
Sy sê sy het nooit enige voorwaarde aan premier Helen Zille gestel dat Max van sy pos as minister onthef moet word voordat sy ’n pos in Zille se kabinet sal aanvaar nie.
De Lille is aangestel as minister van maatskaplike ontwikkeling.