Minder armoede bring meer respek vir lewe
2011-10-29 15:29
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Polsslag deur Ilse Bigalke
Twee gebeurtenisse wat die twee pole van Kaapstad in die kollig plaas, het die afgelope paar dae die aandag getrek.
Die goeienuussstorie was die aanwysing van Kaapstad as Ontwerphoofstad vir 2014: ’n grootse prestasie.
Aan die ander kant van die skaal het twee opsigters by ’n hoërskool in Khayelitsha ’n hond, later Warrior gedoop, in opdrag van ’n senior toesighouer by dié skool lewend begrawe.
Kom ons begin by die goeie nuus: Veels geluk, liewe Kaapstad, met dié eerbewys, wat soveel vir die beeld van nie net die Wes-Kaap nie, maar ook van Suid-Afrika beteken.
Die Kaapstadse Vennootskap (KV), wat die Moederstad se bod voorberei het, verdien ’n groot deel van die lof.
Dié organisasie, ’n vennootskap tussen openbare en private instellings en organisasies, beywer hom al langer as ’n dekade vir die verfraaiing en ontwikkeling van die sakekern van die Moederstad.
Die KV het sowat tien jaar gelede tot stand gekom om kwessies soos stedelike verval, disinvestering en die maatskaplike probleme van die stadskern aan te pak.
Die herlewing van die middestad die afgelope dekade, die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum, die verfraaiing van Adderleystraat, die reddingsplan vir die Kompanjiestuin, die afname in misdaad en rommel, die opheffing van haweloses, die herlewing van ou teaters, die geïntegreerde vervoerstelsel, die sukses van Wêreldbeker 2010, die Lekkerlooproete en meer is te danke aan dié sterk vennootskap.
Die jaar waarin Kaapstad die wêreld se Ontwerphoofstad word, 2014, is ook ’n besondere jaar vir Suid-Afrika in dié sin dat twee dekades van demokrasie dan gevier word.
Me. Patricia de Lille, burgemeester, het met die aankondiging van die toekenning onder meer laat blyk dat die stadsraad en sy vennote met dié gebeurtenis goeie stedelike ontwerp wil gebruik om maatskaplike, ekonomiese en kulturele ontwikkeling in veral armer gemeenskappe aan te moedig.
Dit bring ons by die slegtenuusstorie: die voorval van erge dieremishandeling in een van dié arm gemeenskappe.
Die koerantfoto’s van Warrior, die dalmasiër-kruising waarvan nog net die kop uitgesteek het in sy graf op die sportveld van die Luhlaza Sekondêre Skool, het geskok.
Na bewering het die twee opsigters Warrior in opdrag van ’n senior toesighouer begrawe, wat die mans glo aangesê het om van die hond ontslae te raak omdat hy ’n oorlas is.
’n Mens kan die twee opsigters nie te kras veroordeel nie omdat hulle waarskynlik uit vrees vir die verlies van hul werk opgetree het.
Daar is egter geen verskoning vir die “senior opsigter’’ nie, wat waarskynlik ’n opgevoede mens is en moes geweet het daar is ’n dierekliniek naby wat kon help.
Die vraag bly hoe arm gemeenskappe, wat daagliks hoofsaaklik om hul eie oorlewing veg, gesensitiseer kan word om ook ander vorms van lewe deurentyd te respekteer.
Skoolonderrig speel ’n groot rol om toekomstige geslagte oor die mens se verantwoordelikheid jeens diere op te voed.
Die nuwe leerplan oor lewensvaardighede vir gr. 3’s, wat ek onlangs onder oë gehad het, is indrukwekkend in dié verband.
Met die bestudering van die lewensiklus van insekte word kinders dit byvoorbeeld op die hart gedruk dat hulle nie insekte moet seermaak nie; hulle leer om ondermaat seekos uit te los omdat daar nog nie ’n kans vir voortplanting was nie; en dat hulle nie verkleurmannetjies uit hul omgewing moet haal nie. Bowenal leer hulle dat hul menseregte ook verantwoordelikhede meebring.
Die onderrig van sulke gesonde waardes word in die volgende grade voortgesit.
Hopelik val dié saad op vrugbare grond en word dit deel van leerders se menswees as volwassenes.
Wat kan verder gedoen word om gemeenskappe te leer dat hulle alle vorms van lewe moet respekteer as die meeste mense self onder die broodlyn leef?
Ten eerste moet die ekonomiese opheffing van dié gemeenskappe voorkeur-aandag van die provinsiale regering en die stadsraad geniet.
Dan moet hulle toegang tot voldoende dierewelsynsdienste hê. ’n Enkele dierekliniek in ’n reuse-woonbuurt soos Khayelitsha is ontoereikend.
Adopt-a-Pet en Nimro (die nasionale instituut vir misdaadvoorkoming en die herintegrasie van oortreders) het in reaksie op dieremishandeling opvoedingsprogramme in menslikheid vir leerlinge begin.
Dié programme toon dat as kinders en volwassenes respek vir alle vorms van lewe geleer word, geweld in gemeenskappe afneem.
Sterk vennootskappe is nou nodig dat ook die stad se minder goeie punte in goeienuusstories omskep kan word.
In die woorde van die teoloog Albert Schweizer sal die mens nie vrede vind nie totdat hy sy sirkel van omgee uitbrei na alle lewende wesens.
* Die skrywer is ’n onafhanklike kommentator.