Nors Joubert dié keer wel in hof
2011-10-29 15:29
Woede en trane het Donderdag om die beurt uitgebars voor die Atlantis-landdroshof, waar die gospelsanger Willie Joubert, sy eerste vrou en sy oudste seun in ’n onderhoudsaansoek gewikkel is.
“Dit maak nie saak wat ons sê nie, julle gaan in elk geval publiseer net wat julle wil,” het Joubert en sy regsverteenwoordiger KaapRapport toegesnou.
Joubert vra die hof om die onderhoudsbevel te skrap dat hy onderhoud aan sy eksvrou, me. Jennifer Chatburn, vir sy seun Menanteau (18) betaal.
Menanteau bring sy eie aansoek waarin hy sy pa wil dwing om voort te gaan om onderhoud aan hom te betaal. Joubert het nie op die vorige hofdatum opgedaag nie.
Ná die woede-uitbarsting het Joubert gekalmeer en verduidelik dat hy nie met die media wil baklei nie, maar wil hê mense moet die waarheid weet: “Ek het nooit gesê ek wil nie onderhoud aan my seun betaal nie. Dis die hof wat bepaal het dat Menanteau nou meerderjarig is en daarom sy eie aansoek moet bring.”
Joubert sê Menanteau hoef hom nie tot die hof te wend nie. “Ek weier nie om aan hóm die onderhoud te betaal nie, ek wil dit net nie aan my eksvrou betaal nie.
“Menanteau het geen idee hoeveel onderhoud ek werklik betaal nie. Ek betaal baie meer as wat ek verplig is om te betaal.”
Hierop het me. Jennifer Chatburn in trane uitgebars: “Ek is moeg van baklei. Al die leuens en die klipgooiery raak vir my net te veel.
“Menanteau weet presies hoeveel onderhoud hy kry en hoeveel geld in my bankrekening is. Ek en my kinders sit om ’n tafel en ek laat hulle saam met my ons begroting uitwerk. Ek laat hulle kwitansies hou sodat hulle kan sien hoeveel ons uitgee en waarheen die geld gaan.
“Teen die 15de is daar soms net R30 in my bankrekening oor. As daar nie meer geld is nie, gryp ek die kredietkaart, want wat doen ’n ma as jou kind na jou toe kom en sê: ‘Mamma, ek het erekleure by die skool gekry en die baadjie kos R600’? Ek is hulle ma en hulle kom na my toe. Na wie anders sal hulle hardloop?”
Menanteau sê sy ma praat die waarheid: “My ma probeer baie hard. Ek sien dit. Soms gee sy selfs vir my haar bankkaart om te koop wat ek rêrig nodig het, dan sien ek hoeveel geld in haar rekening is, of hoe min.”
Chatburn sê sy kry Joubert soms jammer: “Ek wil nie hê julle moet slegte goed oor hom skryf nie. Hy’s nie ’n slegte mens nie, hy verstaan net nie wat dit werklik kos om kinders groot te maak nie.”
Dan rol die trane weer: “Ek wil net hê hy moet besef ... Selfs al sê hy net vir my, ‘Dankie Jennifer, vir wat jy met die kinders doen.’”
Chatburn sê Joubert het ná die hofsitting gebel. “Ek is bly dat ons ten minste nou praat. Ek’s hoopvol. Dalk kan ons dinge buite die hof skik.”
* Die saak is uitgestel omdat hulle nie tot ’n vergelyk kon kom oor die bedrag wat voortaan aan Menanteau betaal sal word nie.