Van politieke mynveld tot koerant vir almal
2011-11-05 14:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Twee stappe is nodig as ’n koerant daarop ingestel is om ’n gemeenskap te help.
Stap een: Jy hou vir hulle ’n spieël regop en wys hulle hoe hulle lyk, hoe goed of sleg dit met hulle gaan.
Stap twee: Gee vir hulle rolmodelle uit eie geledere, help bou aan daardie rolmodelle en leer dieselfde gemeenskap hoe om hul probleme te pak en hoe om hul suksesse te vier.
Party mense sal dit bemagtiging noem. Ek noem dit graag Rapport Ekstra.
STIGTING
Rapport Ekstra is in die vroeë sewentigerjare gestig as ’n bylae tot Rapport en het ten doel gehad om ’n bruin lesersmark vir Rapport te ontwikkel. Die afsonderlikheid daarvan (sowel die personeel as die lesersmark) was ooreenkomstig die apartheidsontwikkeling van daardie tyd en die koerant self is soms maar as stiefkind beskou, ook vanuit sy eie leserswêreld.
Rapport Ekstra het op ’n manier op dieselfde spoor as die Universiteit van die Wes-Kaapland (UWK) ontwikkel.
UWK is as “bos-universiteit” gebore, maar het in ’n universiteit van uitnemendheid ontwikkel. Die punt wat hiermee gemaak word, is dat die manier waarop iets aangewend word, belangriker is as die rede vir sy ontstaan of bestaan.
WAAROM RAPPORT EKSTRA?
Rapport Ekstra se rol was om die nuus vanuit die bruin gemeenskap in ’n afsonderlike bylae te dek en ’n bruin lesersmark te ontwikkel. Die bedoeling was om die verkope van die Rapport-pakkie te verhoog. Daarin het Ekstra by uitnemendheid geslaag.
Die verskillende redakteurs van Ekstra het egter die koerant se verdere rol gesien as een wat naas nuus uit eie geledere aan ’n spesifieke lesersmark bring, die koerant as instrument gebruik om politieke bewustheid te skep en vir gemeenskappe rolmodelle te bou.
In dié opsig het Rapport Ekstra meegehelp om doelgerig die profiel te ontwikkel en te bevorder van gerespekteerde leiers soos prof. Jakes Gerwel, mnre. Franklin Sonn, Jattie Bredekamp, dr. Edna van Harte, prof. Brian O’Connell, politici soos eerw. Allan Hendrickse en dr. Allan Boesak, ds. Chris April, mnre. Peter Mopp en Johnny Issel, sportlui soos Hassan Howa, Dougie Dyers, digters en skrywers soos SV Petersen, Adam Small, dr. Dick van der Ross en talle ander.
’n Mens sou tereg van daardie era kon sê jy is net ’n leier as Rapport Ekstra sê jy’s een! Daar was ’n tyd toe mense wat eers niks met die “ekstra-ding” te doen wou hê nie, hul oogtande gegee het om net maar dekking in “ons” koerant te kry.
In dié opsig het Rapport Ekstra kop en skouers bo sy tydgenote uitgestaan.
Ekstra was ook die broeikas vir die kweek van joernalistieke talent, die getuienis waarvan die wêreld vol lê.
POLITIEKE ROL
Ekstra was deel van Rapport en dus die Naspers-groep en as sodanig die Nasionale Party-regering van die tyd goedgesind. Dit het soms tot lynregte teenstellings gelei wat per geleentheid deur die opposisiepartye in die parlement uitgebuit is.
Ek onthou die lyn wat Ekstra gevat het op die gebeure in Distrik Ses versus die hoofkoerant se benadering, wat daartoe gelei het dat die “skisofreniese aard van Rapport” deur die DA se voorganger in die parlement gekritiseer is.
Een van die moeilikste opdragte vir enige van Ekstra se redakteurs was sekerlik om die koerant deur die politieke mynvelde van daardie tyd te stuur sonder om politieke integriteit in te boet en as regeringslakei bekend te raak. Dit het beteken jy moes jou man staan teen soms sowel jou eie lynhoofde as die politieke leiers van die tyd.
Ek glo Ekstra en toe Metro het daarin geslaag om op die twee spore van menswaardigheid en geregtigheid vir hom ’n plek in die politieke landskap uit te kerf:
Waar dié twee kwessies in die gedrang kom, dáár was ’n rol vir die koerant. Dat dit noodwendig soms op die politieke terrein oorgespoel het, kon sekerlik nie vermy word nie, maar ek is van mening dat Ekstra/Metro dit met onderskeiding gedoen het.
Toe oudpres. Nelson Mandela in 1994 uit die tronk vrygelaat is, was ek as Ekstra se redakteur die verslaggewer wat die storie gedek het. Ek was die eerste Rapport-joernalis wat dié groot wêreldikon persoonlik ontmoet het.
En wat was sy eerste woorde by díe ontmoeting? “Dankie vir die rol wat Rapport Ekstra gespeel het in die struggle. Ek lees maar swaar Afrikaans, maar ek het jul koerant gereeld op die eiland (Robbeneiland, waar hy lank in die tronk was) gelees en waardeer hoe julle dit gedoen het.”
Ek bewaar nog die boodskap wat hy in Afrikaans aan ons lesers geskryf het.
Tydens sy presidentskap het Madiba ook gereeld op ’n Sondagoggend opgebel en kommentaar of kritiek gelewer op Ekstra/Metro se inhoud. En toe hy swart redakteurs onbedoeld beledig het, is Ekstra/Metro se redakteur sáám met mense soos Ray Hartle, Zubeida Jaffer, Dennis Pather, Mathatha Tsedu en andere na sy ampswoning, Genadendal, genooi om ekskuus te vra.
Die koerant se politieke rol het nie by die geboorte van die demokrasie in 1994 geëindig nie. Die beskerming en uitbouing van dié demokrasie het in die era tot nou die fokus van beriggewing en soms politieke kommentaar geword en gebly.
Kritiek was daar oor die jare ook. Soos dat Ekstra vir die bekeerdes preek. Dis deels waar, maar dit was ook die plek waar derduisende lesers kon leer dat daar tóg alternatiewe en hoop was.
MAATSKAPLIKE BETROKKENHEID
KaapRapport en sy voorgangers was van meet af aan nou betrokke by sy gemeenskap. En nie net om onreg aan die kaak te stel nie.
Oom Gawie Theron het as redakteur ’n kompetisie om die titel Juffrou Ekstra ingestel. Dis deur die daaropvolgende twee redakteurs (Jongbloed en Sidego) uitgebou.
Dit was allesbehalwe ’n kompetisie waar die mooiste gesiggie of die mooiste lyf die kroon gekry het. Die Juffrou Ekstra-resep (later Juffrou Rapport) het getoon dat ’n mooi gesiggie en ’n goeie brein altyd by mekaar uitkom saam met gemeenskapsbetrokkenheid.
Die titeldraers – daar was uiteindelik 10 – was Ekstra se ambassadeurs en die koerant se (pragtige) gesig na buite. Sy het landwyd gemeenskapswerk gedoen op Rapport se koste en meegehelp met ontwikkeling op bykans elke dorp oor die lengte en breedte van die land as deel van die ophou van die spieël en die onwikkeling van ’n positiewe gemeenskapsbeeld.
Naas die Juffrou Rapport-gemeenskapsprojek was Metro aan die voorpunt van die heel eerste geordende koerantgedrewe veldtog om misdaad in gemeenskappe te beveg. Dit was onder aanvoering van Jongbloed, met me. Gloudine Pienaar as projekbestuurder, dat ’n grootse projek soos Crime issie Cool die lesersmark soos ’n storm getref het.
Die voorafwerk daarvoor het behels: die inkoop van die minister van polisie, destyds mnr. Steve Tshwete, die hele Wes-Kaapse polisiekorps vanaf sy kommissaris tot op stasievlak en die sake¬gemeenskap met Sakelui teen Misdaad as die voertuig.
Crime issie Cool was een van KaapRapport se heel grootste suksesverhale.
Dit het verskil van ander teenmisdaadveldtogte omdat dit gekonsentreer het op die positiewe, met ander woorde dié dinge wat doodgewone mense in hul gemeenskap gedoen het om misdaad die uitklophou te gee.
Dit het uitgeloop op die aanwysing van ’n jaarlikse wenprojek saam met groot borge en regeringsinstansies.
Die opvolgprojek was Doen en Deel, wat onder bestuur van Pienaar die klem laat val het op gemeenskapsgeïnspireerde projekte. Die provinsiale departement van gemeenskapsontwikkeling is hierby betrek.
TOT KAAPRAPPORT
Die jaar 1994 verteenwoordig die skeiding tussen die ou Suid-Afrika en die nuwe demokrasie. Dit was tyd dat Ekstra om die bagasie van die verlede minstens uit sy naam weer en Ekstra het Metro geword.
Tot in die jaar 2000 was daar twee strome in die Kaapse kantore van Rapport verteenwoordig: Metro, met ’n eie personeel en redakteur, en Rapport, met sý eie Kaapse redakteur en personeel. In daardie jaar is die afsonderlikheid uiteindelik uitgefaseer en is KaapRapport gebore met een redakteur en kantoorhoof en ’n gesamentlike personeel.
Die span het verantwoordelikheid op twee vlakke gehad: om KaapRapport as volwaardige nie-rassige streekbylae uit te gee en om ’n stewige bydrae te lewer tot die algemene nuusblaaie van wat as die hoofkoerant bekend gestaan het. Dit het die Kaapse span tot uitnemendheid uitgevoer.
DIE TOEKOMS
KaapRapport se sluiting beteken nie dat Kaapse streeknuus nou uit die koerant verdwyn nie. Dit beteken bloot dat die fokus van die nuusagenda na een plek, die hoofkoerant, verskuif. Die Kaapse verslagspan van Rapport bly dus sonder veel verandering ten einde dié diens aan lesers te bly lewer.