’n Nuwe hoofstuk
2011-11-05 14:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Alles werk uiteindelik mede ten goede, het die heel eerste redakteur van Rapport Ekstra, die legendariese oom Gawie Theron, altyd gesê. Ook die sluiting van KaapRapport, wat ons hiermee aankondig.
Die sluiting van ’n titel of ’n bylae is altyd ’n laaste uitweg. Maar uiteindelik het KaapRapport se verliese te veel geword.
En hoewel dit met ’n traan in die oog is dat ons vandag die laaste uitgawe aan ons honderdduisende lesers in die Wes-Kaap bring, glo ons dat dit eintlik net ’n wonderlike nuwe hoofstuk laat oopgaan in die manier waarop Rapport in die breë met sy lesers landwyd omgaan.
Die laaste KaapRapport-hoofberig is ’n storie in die beste tradisie van KaapRapport en sy voorgangers, Rapport Ekstra en Rapport Metro. Dis ’n storie oor die heldedaad van doodgewone mense van Robertson, hul drome, hul hartseer, hul aanvaarding, hul tragedies.
Meer nog is dit die weerspieëling van alles waarvoor KaapRapport graag onthou wil word: ’n Koerant wat as “ekstra” kind gebore is, maar die sprong tussen die ou en nuwe Suid-Afrika gemaak het en afsluit as ’n volwaardige streekkoerant wat fokus op die wel en wee van sy hele Afrikaanse lesersmark, ongeag kleur, ongeag status.
Wat oorbly, is ’n hartlike dankie aan lesers vir jare se lojale ondersteuning. Ons blaai met die grootste vertroue na die volgende opwindende hoofstuk. Die lewe is per slot van rekening ook seker maar soos ons geliefde KaapRapport: Jy weet nooit wat die volgende opskrif gaan wees nie...
Die feit dat KaapRapport vandag die laaste keer verskyn, beteken nie dat streeknuus nou uit Rapport gaan verdwyn nie. Die kern van die verslagspan wat ons lesers oor jare leer ken het, is steeds werksaam in die Kaapse kantoor en kan daar by die gewone telefoonnommers en per e-pos gekontak word. Skakel die algemene nommer, 021 406 3228, vir besonderhede.
Die talle lekker en deeglike stories wat hulle oor ons streek en sy mense gaan losmaak, sal steeds in Rapport verskyn. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dus dieselfde.
Zelda Jongbloed, redakteur